Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 25

22 Januarie

Оглавление

Jesaja 59:1–8

Produktiewe gebed

Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. – Jes 59:1

~

Vir baie kinders van die Here verloop gebed en bepeinsing haastig en onproduktief. Dit word dikwels beskou as dissiplines van die gees wat alleen beoefen word as jy genoeg tyd daarvoor het – ’n soort verseke­ring teen ramp en ongeluk.

Gebed is om God se wil vir jou lewe te ontdek en nie om die wil van God te buig om by jou begeertes aan te pas nie.

Voordat die seën van gebed jou ryke besit kan word, moet die tegniek van gebed gekweek en getrou beoefen word.

Dit is wáár dat jy in enige situasie kan bid. Dit is ongetwyfeld ook waar dat enige taak wat met groot sorg afgehandel word, ’n vorm van gebed is. Dit is moontlik om in die krioelende stadsverkeer deur ’n stil gebed van God se teenwoordigheid bewus te word.

Maar tyd wat in stilte en alleen met God deurgebring word, is die fondament van gebed.

Na so ’n tydjie in die verborge saam met God, gaan jy kalm en ewewigtig die lewe tegemoet. Die morele keuses van die lewe word duideliker omlyn en jy het ’n meer besliste bewussyn van die leiding van God in jou lewe. Jy het die vertroue om enigiets te hanteer wat die dag mag voortbring en jy wandel met blymoedigheid op jou lewenspad.

Here, laat niks my beroof van die kosbare tyd wat ek met U alleen kan deurbring nie. Ek vra dit deur Jesus Christus, wat my Voorspraak by U is.

Kies die lewe

Подняться наверх