Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 37

2 Februarie

Оглавление

Psalm 42:1–12

Wat van môre?

Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God. – Ps 42:6

~

Mense wil graag weet wat in die toekoms gaan gebeur, sodat hulle hul daarop kan voorberei. Daar is soveel dinge wat die mens vrees in die lewe: ouderdom, eensaamheid, nood, siekte … die dood!

Maar as ons kon weet wat in die toekoms op ons wag, sou ons dalk so vreesbevange wees dat ons nie eens in die hede sou kon lewe nie.

God openbaar nie die toekoms aan sy kinders nie, maar Hy leer ons in sy Woord hoe om dit te hanteer.

Omdat God ewig is, is daar by Hom geen verlede, hede of toekoms nie. Geloof is om God onwrikbaar te vertrou met al jou môres. Dit ban kommer uit jou lewe en stel jou in staat om die hede te waardeer en te geniet, in die wete dat die toekoms in sy alvermoënde hand is.

Jy kan in die vertroue leef dat, as jy aan Hom gehoorsaam is, daar ’n konstruktiewe en bevredigende lewe voor jou lê. Jy word verhef bo kommer oor beuselagtighede en nuttelose en negatiewe spekulasie en leef met blye verwagting, gereed vir al die onverdiende seëninge wat God vir sy kinders in die toekoms voorberei het.

Leef in die hede: één dag op ’n keer. Word diep bewus van Christus se le­wende teenwoordigheid en jy sal nie vrees nie.

Liefdevolle Here, ek weet dat U die toekoms beheer. Leer my om hierdie geloof prakties uit te leef en met geloof in my hart U die toekoms in te volg. In Jesus Christus se heerlike Naam bid ek dit.

Kies die lewe

Подняться наверх