Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 38

3 Februarie

Оглавление

Efesiërs 3:14–21

Innerlike krag

Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. – Ef 3:16–17

~

Dit is verstommend om te sien hoeveel mense die geestelike ontwikkeling van hul lewe verwaarloos. Hulle sal oneindig moeite doen om hul liggame op te bou en hul verstand te ontwikkel maar die gees totaal verwaarloos. Hulle is onbewus daarvan dat die groot motiverende krag in hul lewe juis in die gees gesetel is.

’n Kleinlike, gemene mens ken nie die warmte en koestering wat ontspring uit ’n kennis van God se liefde nie. So loop hy een van die grootste ervarings van die lewe mis en ontbeer hy ’n bron van krag en inspirasie wat deur niks anders geëwenaar kan word nie. Wanneer ’n mens bewus word van God se teenwoordigheid, ondervind jy sy krag en word jy bewus van die rykdom en skoonheid van die lewe self.

As Christus in jou teenwoordig is, is dit onmoontlik om jouself nie be­skikbaar te stel vir die invloed van God se Heilige Gees nie. Dit is ’n lewens­ver­an­derende ervaring met talryke seëninge. Dan word ons geloof ’n praktiese be­lewenis. Christus leef dan in en deur jou. Soos die loot sy krag uit die wingerdstok put, so is jy gekoppel aan ’n onuitputlike Bron van krag. Hy beheer jou gedagtes, emosies en dade. Jou lewe verkry ’n nuwe dimensie, doelgerigtheid en word bestraal met sy heerlikheid.

Meester, U wat die ware wingerdstok is, laat die krag waarmee U my vervul in my daaglikse lewe tot openbaring kom.

Kies die lewe

Подняться наверх