Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 15

12 Januarie

Оглавление

Efesiërs 4:1–16

Die strewe na volwassenheid

Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. – Ef 4:13

~

Die natuur gaan sy gang en die mens groei liggaamlik van kleuter tot grysaard. Dit wil egter nie sê dat die geestelike en verstandelike ont­wikkeling van die mens noodwendig daarmee tred hou nie. Dit is iets waaraan ’n mens moet werk.

In die strewe na volwassenheid is dit noodsaaklik om ’n norm te hê waar­aan jou vooruitgang gemeet kan word. Vir Paulus is hierdie norm niks min­der as die volmaaktheid en volwassenheid van Jesus Christus nie.

Dit skyn byna voorbarig om na Jesus Christus te kyk en jou dan voor te neem om aan hom gelykvormig te leef en sy ewewig en volwassenheid in jou daaglikse lewe te openbaar. Om egter te strewe na enigiets minder, is om die standaarde van Christenskap te verlaag. Die uitdaging om so ’n verhewe ideaal na te jaag behoort vir jou ’n bemoediging te wees.

Wanneer jy bewus word van die verskil tussen wat jy is en wat Hy is, kan jy só ontnugter en teleurgesteld raak dat jy mag ophou om te probeer. Maar deur sy liefde en Heilige Gees werk Hy in jou en kweek Hy die begeerte en die wil om te strewe.

Jesus Christus, dankie dat ek deur u voorbeeld en genade die vreugde van ’n lewe van oorwinning kan ken.

Kies die lewe

Подняться наверх