Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 18

15 Januarie

Оглавление

Jeremia 18:1–17

Om God se wil te ken

Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat. – Jer 18:2

~

Dit is vir baie mense ’n wesenlike probleem om te weet wat die wil van God vir hul lewe is. Maar God maak tog op sy tyd en sy wyse sy wil aan jou bekend. Dit gebeur dikwels op die mees onverwagte plekke en op die mees ongewone maniere, soos in die geval van Jeremia.

Jy kan die gewyde stilte en afsondering van ’n kerk opsoek, waar geslagte uit die verlede God gesoek en gevind het. Jy kan uitwyk na die stilte van die natuur. Jy kan jou eie besondere plek hê waar God in die verlede dikwels vir jou ’n werklikheid geword het.

God openbaar Homself aan dié wat Hom soek – en dit hang hoegenaamd nie van ’n spesifieke plek af nie. God kan jou op enige plek en onder enige omstandigheid ontmoet. Dit kan op die bergtop wees, waar jy sy heerlikheid aanskou. Of dit kan in die donker vallei wees, waar jy worstel met jou eie onvermoë en kleingeloof.

Jeremia moes na die pottebakkershuis gaan om die stem van die Here te hoor. Hoe kragtig het die Here nie in hierdie vreemde omstandighede met hom gepraat nie. Maar Jeremia is diep oortuig van sy hoë roeping en van die verantwoordelike pad wat die Here vir hom gekies het.

As jy maar net sensitief en gehoorsaam wil wees, sal jy onmiskenbaar sy stem hoor en leer wat sy wil in jou lewe is.

Ek dank U opnuut, Here, dat ek te alle tye, op enige plek en onder watter omstandighede ook al, met U kan praat. Maak my vandag sensitief om u stem te hoor en gehoorsaam om u wil te doen.

Kies die lewe

Подняться наверх