Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit - Страница 10

Hoofstuk 7

Оглавление

Hugo Slabbert se motor hou presies vyfuur voor die hotel stil. Karin wag reeds op die stoep en klim dadelik langs hom in.

In stilte ry hulle die hoofstraat af tot by die garage waar sy hom die eerste keer gesien het. Daar draai hy in ’n oostelike rigting en ná ’n rukkie ry hulle oor die treinspoor. ’n Paar minute later is hulle buite die dorp en dadelik trap hy die versneller dieper in.

Die herfsgras is goudgetint deur die namiddagson en die veld is vreedsaam. Selfs die stilte tussen hulle het iets van die landskap se vreedsaamheid en hoewel daar baie dinge is wat sy hom wil vra, is Karin onwillig om eerste die stilte te verbreek.

Ná ’n rukkie begin hy gesels. Hy vertel haar eers watter medisyne sy altyd op so ’n plaasrit moet saamry. As jy in die distrik uitgeroep word, moet jy op enigiets voorbereid wees.

“Die nedersetting by die dam is ook deel van ons gebied en daar kry ons selfs nog gevalle van malaria, hoewel die siekte die afgelope jare feitlik die nek ingeslaan is. As die mense net beter wil saamwerk en die eenvoudige voorsorgmaatreëls wil toepas wat ons voorskryf, kan malaria hier heeltemal uitgeroei word.”

Karin luister belangstellend. Dan dink sy meteens weer aan iets wat haar al die hele dag hinder.

“Daar is iets anders wat ek jou nog wou gevra het. Is daar ’n kliniek op Doringlaagte waar swanger vrouens voorgeboortesorg kan kry?”

“Daar is ’n hele paar jaar gelede met so ’n kliniek begin, maar dit het doodgeloop weens gebrek aan geld en ondersteuning deur die publiek.”

Karin is ’n rukkie stil, dan sê sy: “Ek dink aan die geval wat dokter Roux vandag gehad het.” Sy kyk na hom en vervolg effens verleë: “Moenie dink ek probeer fout vind nie. Dis bloot uit belangstelling dat ek vra. Daar is so baie wat ek nie weet nie en wat ek graag wil weet.”

“Watter geval was dit?” vra hy, maar sy stem klink nie baie aanmoedigend nie.

“Die pasiënt was agt maande swanger. Sy het eklampsia gekry en haar kind en byna ook haar eie lewe verloor.” Dokter Slabbert kyk voor hom in die pad en antwoord nie. Haar stem is koel en onpersoonlik toe sy vervolg: “Ek het geleer dat toksemie in swanger vrouens met behoorlike toesig heeltemal uitgeskakel kan word.”

“Dis waar. Maar jy sal ook gou leer dat die werk hier op Doringlaagte nie met jou werk in die stad vergelyk kan word nie. In die stede, in die groot hospitale, werk die dokters dikwels in ideale toestande. Hier is ons areas groot en die mense onder wie ons werk, is dikwels nie net onkundig nie, maar ook onwillig om te leer. Baie swanger vroue woon ver van dokters af en ons sien hulle dikwels vir die eerste maal as die bevalling reeds aan die gang is en komplikasies reeds ingetree het. Baie wat naby woon, sien ook nie die noodsaaklikheid van gereelde besoeke aan die dokter in nie. Dis eers as sake verkeerd loop dat ons hulp ingeroep word.”

“Ek verstaan,” sê Karin. Die eerste stap is natuurlik om so ’n vrou te laat besef dat sy nie net haar kind se lewe nie, maar ook haar eie lewe beveilig as sy met haar dokter saamwerk. Sonder daardie samewerking is die dokter magteloos om haar te help.

Die gedagte broei lankal by haar dat dit ’n werk is wat sy nogal graag sal wil doen: om haar kennis te gebruik om haar eie geslag te help … om hulle in die lang maande van wag by te staan met raad en daad en hulle te help om hulle kinders uiteindelik veilig en gesond in die wêreld te bring.

In stilte ry hulle verder, elkeen besig met sy eie gedagtes. Die pad begin nou tussen lae rantjies deurvleg en opeens verskyn daar ’n pragtige plaashuis aan die linkerkant van die pad. Dit is ’n groot wit gewelhuis, omring deur hoë bome, met ’n netjiese ringmuur wat die huis en vrugteboord omsluit.

“Wat ’n pragtige ou plaas,” sê sy saggies, bewonderend, en terwyl hulle verder tussen die rantjies inry, vertel Hugo haar van die plaas, Elandsdrif, en van die egpaar wat alleen daar woon. Hulle enigste dogter het teen haar ouers se sin getrou en haar pa het haar onterf en haar verbied om ooit weer ’n voet op die plaas te sit. Twee jaar nadat die dogter getroud is, het hulle enigste seun, ’n jong man van twintig, verongeluk, en die man en vrou woon sedertdien alleen op Elandsdrif.

“En waar is die dogter?” vra Karin. Hoewel sy die mense nie ken nie, is sy onmiddellik diep getref deur die verhaal.

“Ek weet nie,” antwoord hy. “Sy het weggegaan en niemand hier het ooit weer iets van haar gehoor nie. Die man en vrou is albei ons pasiënte – eintlik dokter Truter s’n – daarom dat ek jou die verhaal vertel. Ons word dikwels uitgeroep na Elandsdrif om mevrou Jordaan te behandel en dis miskien goed dat jy die geskiedenis ken.”

“Dit help baie,” sê sy. Hy het ’n oomblik effens ontspan toe hy haar van Elandsdrif en sy mense vertel het, maar sy houding teenoor haar bly koel en onpersoonlik. Sy wonder waarom hy die moeite gedoen het om haar vanmiddag saam met hom te bring. Dit moet bloot uit hoflikheid wees, of pligsbesef. Dis seer sekerlik nie ter wille van haar aangename geselskap nie!

Die pad word nouer en meer stamperig, en Hugo is verplig om ’n bietjie stadiger te ry. Karin moet vastrap om nie te veel rondgegooi te word nie en ná ’n rukkie vra sy: “Is dit die soort plaaspad wat ’n mens te wagte moet wees as jy in die distrik uitry?”

“Hierdie pad is glad nie so sleg nie,” antwoord hy. “Jy sal agterkom daar is ander paaie wat nog baie erger is. Jy kan eers begin kla as die swart turfgrond nat word.”

“O,” sê sy. Dis of hy daarop uit is om haar kort-kort op haar plek te sit.

Die pad kronkel nog steeds tussen die rantjies in en sy wonder of sy ooit alleen by die plaas sou uitgekom het. Met soveel verwarrende uitdraaipaadjies sal dit vir ’n vreemdeling feitlik ’n onbegonne taak wees.

“Wel, hier is ons,” sê Hugo toe ’n vaalgepleisterde platdakhuisie skielik in ’n opening tussen ’n klompie doringbome voor hulle opdoem. Voor die deur in die stof speel ’n paar kaalvoetkindertjies met ’n hanslam. Toe hulle die vreemde motor gewaar, los hulle egter alles net so en verdwyn om die hoek van die huis.

Hy klim uit en word onmiddellik deur twee yslike rifrughonde bestorm. Hy steur hom egter nie aan hulle nie, maar maak die motor agter oop en haal sy tas uit. Karin wonder of sy veronderstel is om te bly sit, maar hy stap na haar kant van die motor en maak die deur oop.

“Kom saam,” nooi hy haar en gedwee klim sy uit. Hulle stap saam na die huis toe met die twee agterdogtige honde snuiwend op hulle hakke, maar Karin slaag daarin om – uiterlik altans – net so kalm soos Hugo te bly.

’n Skraal, middeljarige vrou kom hulle vanuit die huis tegemoet. Jare van bekommernis en swaarkry het ’n duidelike stempel op haar gesig en persoon afgedruk, maar haar klere is skoon en netjies en sy maak ’n goeie indruk. ’n Verligte glimlaggie verhelder haar gesig toe sy sien wie die besoekers is.

“Kom binne, Dokter,” nooi sy vriendelik. “Ek is so bly Dokter het gekom.”

“Dit is dokter De Wet, Mevrou,” stel Hugo vir Karin voor. Die vrou vergeet vir ’n oomblik haar bekommernis terwyl sy nuuskierig na die meisie voor haar kyk.

Dit is vir Karin of haar stem iets van sy vriendelikheid verloor het toe sy sê: “Kom binne, dokter De Wet.”

“Wie is die pasiënt, Mevrou?” vra Hugo terwyl hulle saam met haar binnetoe stap.

“Dit is Elsie, Dokter. Sy is al byna ’n week lank siek. Sy het pyn in haar bene, is koorsig, keelseer en lusteloos, en sy wil nie eet nie …” Haar stem breek af toe hulle by die eetkamer kom en sy staan opsy sodat Karin en Hugo voor haar by die vertrek kan instap.

’n Dogtertjie van omtrent agt jaar lê op ’n ysterbedjie in die een hoek van die eetkamer. Die vertrek is verder karig gemeubileer met slegs ’n tafel, ’n paar goedkoop stoele en ’n paar paraffienkissies wat teen een muur op mekaar gestapel is en as bêreplek dien vir borde, koppies en kruideniersware. Maar die laatmiddagson val warm en koesterend oor die voetenent van die bedjie waarin die siek dogtertjie lê en Karin dink dit kon erger gewees het.

Elsie is blond met groot blou oë waarin daar nou angs en onrus skuil. Die ronde gesiggie is bleek en daar is donker skaduwees onder die blou oë. Sy draai haar kop verleë weg toe die twee dokters langs haar bed kom staan.

“Kom, Elsie, sê hallo vir Dokter,” moedig die ma haar dogter aan. “Dokter kom jou gesond maak.”

Hugo Slabbert gaan sit op die kant van die bed en neem een klein handjie in syne.

“Hier is vandag twee dokters,” sê hy. “Jy kan self kies watter een jy wil hê.”

Skaam kyk sy van hom na Karin en dan weer terug na hom, en verleë skud sy haar kop.

“Jy wil liewer nie kies nie, nè?” sê hy glimlaggend. “Dan vra ons vir dokter De Wet om te kom kyk wat jou makeer. Sy is eintlik jou dokter; ek het maar net saamgekom om vir haar die pad te wys.”

Hy staan op om vir Karin plek te maak en sy gaan sit op die bed by Elsie, effens uit die veld geslaan deur die onverwagte verloop van sake.

Sy is in elk geval bereid om te probeer!

Hugo Slabbert sit sy instrumenttas op die tafel neer en maak dit oop, en Karin begin met haar ondersoek. Sy ondervra ma en dogter om die beurt en haar hande is vlug en seker. Koorsigheid … pyn in die bene … ’n hewig ontsteekte keel … sy het ’n sterk vermoede sy weet wat Elsie makeer. In haar vier maande in die kinderafdeling van die hospitaal het sy heelwat ondervinding van rumatiekkoors opgedoen en sy het geleer om op sekere simptome te let. Toe sy die laken en kombers versigtig van die pasiënt aftrek, sien sy dadelik die een rooi, effens geswelde kniekoppie en sy weet haar vermoede is reg. Die knie voel warm onder haar hand en Elsie se gesiggie vertrek selfs toe sy net liggies daaraan raak.

“Van wanneer af is die knie so geswel, Mevrou?” vra Karin.

“Ek het vanoggend opgemerk haar een knie is effens geswel, maar ek het gedink sy het haarself seergemaak. Dit lyk nou erger,” sê die vrou met ’n bekommerde plooitjie tussen haar wenkbroue.

“Was sy die hele tyd in die bed vandat sy siek geword het?” vra Karin.

“Ek het haar gister ’n bietjie laat opstaan, maar sy was so pap dat ek haar maar weer dadelik terug bed toe laat gaan het.”

“Dis goed. Sy mag glad nie opstaan nie, Mevrou,” sê Karin. “Onder geen omstandighede nie – al lyk sy ook vir jou beter. En neem die lakens weg sodat sy net tussen die wolkomberse lê. Sy moet die hele tyd warm en stil gehou word. Julle moet veral oppas dat sy nie koue kry nie.”

“Wat makeer sy, Dokter?” vra die vrou. Haar houding is styf en effens onvriendelik en Karin kry die indruk dat sy nie veel vertroue in die nuwe dokter het nie.

Karin knyp Elsie se bleek wangetjie gerusstellend, dan draai sy na haar ma toe.

“Elsie het rumatiekkoors, Mevrou,” sê sy sag. En vir Hugo Slabbert, wat stilswyend toekyk, sê sy: “Ek wil graag ’n bloedmonster neem om die diagnose te bevestig. En ’n penisillieninspuiting gee vir haar ontsteekte keel.”

“Rumatiekkoors!” herhaal die vrou effens verslae. “Is jy seker, Dokter?”

“Ek is seker,” sê Karin simpatiek. “Maar die bloedmonster is om dubbel seker te maak.”

Hugo help haar om die nodige bloed te trek en die pasiënt ’n inspuiting te gee, en dis hy wat die dogtertjie paai toe die groot blou oë skielik vol trane skiet en sy bang aan die komberse vasklou.

“Ek kom weer vir jou kuier,” belowe Karin glimlaggend toe sy vir Elsie groet. Skamerig groet Elsie terug, duidelik verlig dat die besoek nou verby is. Buite herhaal Karin haar instruksies aan Elsie se ma en sy beklemtoon dat Elsie se toekomstige gesondheid grotendeels afhang van die sorg wat sy die volgende paar weke kry. Met rumatiekkoors is daar nog geen kortpad na herstel nie. Die pasiënt moet minstens ses weke in die bed bly en so stil moontlik gehou word.

Dit is duidelik ’n ontstellende vooruitsig vir die vrou. Karin kan raai dat sy wonder hoe sy tussen al haar ander werk deur nog haar dogter ook moet versorg en hoe sy haar ses weke lank stil en tevrede in die bed moet hou.

As sy tog maar net vir klein Elsie in haar arms kon optel en haar in een van die skoon wit hospitaalbeddens kan neerlê waar sy weet sy die nodige sorg en behandeling sal ontvang en waar sy altyd naby is om ’n wakende ogie oor haar vordering te hou, sal haar hart veel ligter voel.

Hoe sou ’n man soos Hugo Slabbert oor die saak voel? wonder sy toe sy weer langs hom in die motor sit. Kom hy ook nog in opstand teen die onregverdigheid en wreedheid van die lewe wat aan die een so min gee en aan die ander so baie?

Ná ’n rukkie sê sy: “Ek begin reeds die waarheid van jou woorde besef – dat ek sal uitvind dat die werk hier op Doringlaagte nie met my werk in die hospitaal vergelyk kan word nie.”

“Jy dink aan Elsie?” sê-vra hy.

“Ja. Ek dink hoeveel gunstiger die toestande vir haar herstel, haar algehele herstel, in die hospitaal waar ek gewerk het, sou wees.”

“Dis maar ’n klein persentasie van siekes wat hospitaalbehandeling kan kry. Met die beperkte getal beddens wat beskikbaar is en die tekort aan opgeleide verpleegsters kan slegs die dringendste gevalle hier opgeneem word.”

“Natuurlik, dieselfde toestande heers vandag oral. Maar dit verbeter nie die saak nie.”

“Glo jy nog dat ideale toestande in die wêreld verkry kan word?” vra hy effens spottend.

“Ek glo dat baie van hulle nog verbeter kan word.”

Hy haal sy skouers op.

“Idealisme is ’n mooi eienskap, maar kenmerkend van die jeug. Realisme is van baie meer praktiese waarde.”

“Is realisme dieselfde as verbittering en ontnugtering?” vra sy koel.

Hy antwoord haar nie dadelik nie. Ná ’n rukkie sê hy: “Miskien is daar ’n verwantskap, hoewel ek dit nie vroeër so ingesien het nie.” Sy stem is koel en gelyk en sy weet nie wat om te antwoord nie. Sy sal liewer stilbly, besluit sy, as om die gevaar te loop om as naïef en onvolwasse bestempel te word.

Elandsdrif se opstal lê nou aan die regterkant van die pad en sy dink weer aan die verhaal wat Hugo Slabbert haar ’n uur of wat gelede vertel het. Dis swaar om te glo dat daar in daardie mooi huis ook hartseer is.

Sy kyk verbaas na hom toe Hugo onverwags uitdraai en na die huis toe ry.

“Ek wil net gou hier aanry,” sê hy. “Ek sal net ’n paar oomblikke vertoef. Ek hoop nie jy gee om nie.”

“Ek is nie haastig nie,” sê sy. Eintlik verwelkom sy die kans om vandag met die boer en sy vrou kennis te maak. Een van die dae moet sy dalk op eie houtjie plaas toe kom, dan sal dit darem nie heeltemal as ’n vreemdeling wees nie.

’n Lang, skraal man kom uit die huis te voorskyn toe hulle voor die deur stilhou en stap nader om hulle te groet. Die skraal, streng gesig lyk of dit uit klip gebeitel is en wek dadelik Karin se belangstelling. Dis die gesig van ’n man wat selfdissipline ken en met ’n streng hand toepas – ’n man wat miskien ’n getroue vriend is, maar ook ’n onversetlike vyand. Hy het ’n grys ferweelbroek en groengrys sportbaadjie aan en met sy kortgeknipte grys baard en ruie wenkbroue waaronder ’n paar helderblou oë jou koel en deurdringend aankyk, is hy ’n indrukwekkende figuur.

Hugo stel haar aan Bêrend Jordaan voor en die man buig hoflik oor haar hand terwyl die deurdringende blou oë ’n vlugtige oomblik in hare kyk.

“Ek het al baie gehoor en gelees van vrouedokters,” sê hy. “Dis ’n voorreg om een in lewende lywe te ontmoet.”

“Hulle is vandag glad nie meer so ’n rare verskynsel nie,” glimlag sy. “Dit vereis net nog moed en durf om die ou, erkende vestings van die mansgeslag binne te dring.”

Hy glimlag ook, ’n vreemde glimlaggie wat sy lippe aanraak, maar nie sy oë bereik nie.

“Moed en durf – dis twee eienskappe wat ons almal bewonder. Maar kom nader, my vrou sal bly wees om julle te sien.”

“Ons kan nie versuim nie, oom Bêrend,” sê Hugo. “Ek wil net vir tannie Annie ’n gunsie vra.”

“Kom in, man. Julle dorpenaars het al heeltemal die gawe om ’n bietjie rustig te kuier, verleer.”

Hulle stap saam met hom na binne en met genoeë kyk Karin na die ruim vertrekke met die blink gepoleerde vloere, sagte tapyte, swaar, glimmende tambotiehoutmeubels en ou koperware. Dieselfde eenvoud en grasie wat die wit gewelhuis van buite kenmerk, word ook binnenshuis weerspieël. En tog lyk die vertrekke koud en leeg. Karin wonder of dit is omdat daar nie blomme in die huis is nie. Dit lyk soos vertoonkamers vol mooi meubels en tapyte, nie soos vertrekke waarin daar gelewe word nie.

Annie Jordaan is ’n klein, tengerige vroutjie met mooi, donker oë en spierwit hare. Haar gesig is bleek en byna deurskynend en sy lyk soos iemand wat pas ná ’n lang siekbed opgestaan het.

Sy groet hulle vriendelik.

“Dis ’n lekker verrassing,” sê sy vir Hugo. “Ek is bly Dokter het haar so gou na ons toe gebring.”

“Dokter De Wet het vanmiddag haar eerste plaasbesoek gedoen,” verduidelik Hugo. “En ons het tannie Annie se hulp kom vra.”

Verbaas luister Karin terwyl hy haar kortliks van Elsie vertel.

“Ek sal graag help,” sê Annie Jordaan dadelik. “Ek verstaan die mense kry bitter swaar. Hulle het maar onlangs hier ingetrek en ons het nog net een maal daar aangegaan, want ek het die afgelope maande nie so lekker gevoel nie. Oom Bêrend stuur af en toe ’n mandjie groente of vrugte oor, maar die mense is eergevoelig en jy wil hulle nie seermaak nie. As daar siekte in die huis is, is dit natuurlik heeltemal ’n ander saak.”

Toe hulle vertrek, was die son reeds onder en dit het vinnig skemer geword. Verbaas dink Karin daaraan dat sy Doringlaagte skaars vier-en-twintig uur vantevore vir die eerste keer binnegery het. Soveel het in die vier-en-twintig uur gebeur dat dit vir haar voel asof sy reeds ’n ou ingesetene is.

Daar is nog baie wat sy Hugo Slabbert wil vra, maar hy is weer stil en teruggetrokke en sy wil hom nie pla nie. Sy voel self ook moeg en lomerig en dis lekker om net so stil langs hom in die groeiende donkerte te sit terwyl die motor vinnig oor die pad gly.

Toe hy voor die hotel stilhou, klim Hugo saam met haar uit.

“Dankie,” sê sy. “Dit was gaaf van jou om my saam te neem.”

“In die toekoms sal jy self jou pad moet vind.”

“Ek weet. Ek is seker dit sal nou makliker gaan. Nogmaals dankie, ook vir Elsie.”

“Ek weet tannie Annie help graag. Tot siens, dokter De Wet.”

Sy stem is koel en ewe koel antwoord sy: “Tot siens, dokter Slabbert.”

Tryna du Toit-omnibus 3

Подняться наверх