Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit - Страница 13

Hoofstuk 10

Оглавление

Boet Truter en sy vrou het graag hulle vriende op hulle mooi plaas, Geluksvlei, onthaal. Die groot, gerieflike huis en die tuin met die ou, skaduryke bome was ’n ideale bymekaarkomplek vir die distrik se jongmense en naweke was daar gewoonlik die een of ander bedrywigheid op die plaas. Partymaal was dit ’n tennispartytjie, dan weer ’n vleisbraai of ’n dans, of so nie het hulle sommer net gekuier.

Karin het dadelik van Boet en die opgewekte Truida gehou. Hulle het haar by die hotel kom verwelkom kort nadat sy op Doringlaagte aangekom het en haar hartlik genooi om by hulle op die plaas te kom kuier. Daarna het Truida weer gebel en gereël dat Karin haar eerste los naweek by hulle sal kom deurbring. Karin het hulle vriendelikheid waardeer en gretig uitgesien na die kuiertjie op die plaas.

Saterdag was soos gewoonlik ’n besige dag, maar Karin was kwart oor een klaar met haar laaste pasiënt. Tensy sy nog ’n plaasbesoek moes doen – en die moontlikheid was ongelukkig nie heeltemal uitgesluit nie – was sy los tot Maandagoggend.

Inderdaad ’n heerlike vooruitsig ná drie besige, veelbewoë weke.

By Mien het sy die goeie nuus gehoor dat daar tot dusver net een plaasbesoek was. Dokter Roux is die naweek aan diens, Hugo is beskikbaar in geval van nood en sy het dus geen verdere verpligtings gehad nie. Daar is nog net een of twee dinge wat sy gou met Isak Roux moet bespreek voor sy kan gaan, en toe Mien inloer om vir haar te sê dat hy vry is, laat sy nie op haar wag nie.

Hulle praat gou klaar oor die pasiënte wat sy onder sy sorg laat. Die ander saak, wat sy tot dusver nog te bang was om aan te roer, laat haar keel skielik weer toetrek. Maar sy besef hoe langer sy uitstel, hoe groter is die moontlikheid dat hulle reeds iemand gekry het om Juliemaand in haar plek te kom. Sy skraap dus al haar moed bymekaar en sê: “Daar is nog iets waaroor ek met jou wou praat. Ek sal gou maak; ek weet jy is haastig.”

Hy hoor die onsekerheid in haar stem en sê vriendelik: “Bieg is goed vir die hart. Gesels maar – ek luister.”

Glimlaggend skud sy haar kop.

“Dis nie bieg nie – dis ’n guns wat ek wil vra.” Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “Ek verstaan dokter Truter is vir minstens nege maande na Engeland en Europa. My ooreenkoms met hom is net vir drie maande.” Hy knik en Karin sien dat hy effens ongemaklik lyk, maar vasberade vervolg sy: “Ek wou net sê dat ek graag langer sal aanbly as julle nog nie ander reëlings getref het nie.”

Hy antwoord nie dadelik nie en Karin wag gespanne. Dokter Roux kyk stip na die potlood wat hy tussen sy vingers ronddraai en Karin se hart sak in haar skoene. Dan kyk hy op na haar en glimlag.

“Karin, ek sal jou reguit sê: as dit van my alleen afgehang het, sou ek nie geaarsel het om jou te vra om langer te bly nie. Ons werk lekker saam en ek dink ook nie dis goed om kort-kort so ’n verandering te maak nie. Maar die beslissing berus nie net by my nie. Om die waarheid te sê, ons het besluit dat Hugo maar moet besluit aangesien ek die hele Meimaand weg sal wees.”

“Ek sien.” Dis teleurstellende nuus vir Karin. Met dokter Roux aan haar kant was daar nog hoop dat hulle miskien vir Hugo Slabbert kon oorreed. Maar as die beslissing by hom alleen berus, is daar geen hoop dat sy sal kan bly nie. Daar was van die begin af geen twyfel oor sy gevoelens nie.

“Dit sal die beste wees om met Hugo self te gesels,” stel hy voor.

“Ja, natuurlik.”

Sy klink so ongeesdriftig dat Isak Roux glimlag.

“As jy wil, sal ek hom sê dat jy die saak by my geopper het en hoe ek daaroor voel. Meer kan ek ongelukkig nie belowe nie.”

Karin se gesig verhelder:

“Ek sal dit waardeer, Dokter. Dis gaaf van jou.”

Hy staan op en stap saam met haar deur toe.

“Geniet jou nawekie,” sê hy. “Jy weet, volgende maand sal daar geen naweke wees nie.”

“Ek sien uit na die kuiertjie,” antwoord sy. “Tot siens, Dokter, en nogmaals dankie.”

In die gang loop sy byna teen Hugo Slabbert vas. Haastig groet sy en glip by haar eie deur in. ’n Paar minute later ry sy van die spreekkamers af weg, opgewonde en haastig om uit die dorp weg te kom voor daar inbreuk gemaak kan word op haar kosbare naweek.

Hugo was op pad na Isak Roux toe hy Karin in die gang kry. Eers nadat sy in haar spreekkamer verdwyn het, onthou hy dat dit haar vry naweek is en hy wonder of dit die rede vir haar opgewondenheid is. Maar hy is vandag self haastig om weg te kom en ’n bietjie broodnodige oefening te kry, en Karin is gou weer vergete.

Nadat hulle klaar oor pasiënte gepraat het, sê dokter Roux onverwags: “Hugo, ek weet ek het ingestem om die saak aan jou oor te laat, maar is daar enige grondige rede waarom Karin nie hier kan aanbly tot Herman terugkom nie?”

Hugo frons en kyk skerp na sy vennoot. “Hoe bedoel jy nou, Isak? Jy weet tog goed wat my gevoelens is.”

“Voel jy nog so – noudat jy sien hoe bekwaam en betroubaar sy is?”

“Ek voel nog net dieselfde. Dis nie dat ek teen haar as persoon beswaar maak nie, dis net dat ek nie glo daar is plek in die praktyk vir ’n jong, onervare vroudokter nie. Nie eens op ’n tydelike grondslag nie.”

“Jy is net bevooroordeeld, Hugo. Karin het haar plek die afgelope paar weke goed vol gestaan.”

“Ons het uit ons pad gegaan om dit vir haar so maklik moontlik te maak.”

“Ek stem nie met jou saam nie. Die feit dat sy haar plaasbesoeke gedurende die dag gedoen het, het nie een van ons vreeslik verontrief nie. Verder was sy altyd op haar pos en altyd bereid om te help.”

“Ons het ’n paar betreklike stil weke gehad. Die eintlike toets kom volgende maand as ek en sy alleen hier sal wees.”

Half vererg, half ongeduldig haal Isak Roux sy skouers op. Hy het nie raad met Hugo se koppigheid nie.

“As jy so sterk oor die saak voel, sal ek nie verder aandring nie. Maar Karin het vandag met my gepraat en ek het belowe om dit te noem. Wat my betref, kan sy gerus maar aanbly.”

“Ek sal later self met haar praat. Maar ek glo nie sy sal ná Meimaand meer so gretig wees om aan te bly nie.”

“Moontlik is jy reg. In elk geval, ek laat die saak nou in jou hande.”

“Ek sal ’n paar moontlike kandidate opspoor. Ons kan finaal besluit as jy terug is.”

“Besluit jy maar self, Hugo. As jy ’n goeie man raakloop wat toevallig los is, lê hom maar dadelik vas.”

Hugo glimlag effens.

“Jy reken dit sal moeilik gaan, nè? Nou ja, daar is gelukkig nog baie tyd; dis nie nodig om ons nou al daaroor te bekommer nie.”

Toe Karin se rooi motor ’n rukkie ná twee voor die plaashuis op Geluksvlei stilhou, is die ander gaste alreeds besig om tennis te speel. Boet Truter, wat in die skaduwee van ’n groot sonsambreel sit en toekyk, staan dadelik op toe hy die motor sien en stap haar tegemoet.

“Is ek laat?” vra sy toe sy hom groet.

“Ons begin vroeg – die middag is so kort. Maar welkom op Geluksvlei, Dokter. Ons is baie bly om jou te sien.” Sy oop, aantreklike gesig, bruingebrand deur die son en wind, en wakker blou oë tref haar weer en sy warm handdruk laat haar dadelik tuis voel.

“Ek is baie bly om hier te wees,” antwoord sy. Met onverbloemde nuuskierigheid kyk sy na die mooi groendakhuis, die gladde, goedversorgde grasperke, die groot vrugteboord en die tamaai ou bome wat soos wagte om die huis en werf staan.

Sy blik volg hare en hy sê: “Jy sien Geluksvlei nou op sy onaantreklikste. ’n Paar weke gelede was die bome nog vol herfsblare. Nou is alles kaal.”

“Dis ’n lieflike plaas,” sê sy saggies. “Maar ek kan dink dat die lente hier baie mooi is.”

“Jy sal self sien,” belowe hy glimlaggend terwyl hy haar tas en raket uit die motor haal.

“In die lente sal ek seker ver weg wees – tensy ’n wonderwerk gebeur,” antwoord sy en ondersoekend kyk hy na haar. “My pos is net vir drie maande,” verduidelik sy liggies.

“Ek het dit nie geweet nie.”

Truida het haar raket neergesit en kom nou ook aangehardloop om hulle gas te groet. Sy het ’n kort wit tennisrokkie aan en met haar blosende wange en blink oë lyk sy jonk en lewenslustig.

“Welkom, Dokter,” sê sy toe sy Karin se hand in albei hare neem. “Of mag ons maar sommer Karin sê en jy vir ons Boet en Truida?”

“Natuurlik.” Haar gasheer en gasvrou se spontaneïteit laat haar hart warm voel en Karin is bly sy het gekom. “Maar gaan maak gerus julle stel klaar – as Boet vir my sal wys waar my kamer is, trek ek ook gou aan.”

Tien minute later sluit sy by haar gasheer onder die sambreel aan en waai vir Arrie, wat met ’n sigbare gebrek aan konsentrasie speel vandat die rooi motor stilgehou het. Twee dubbelfoute laat sy maat verontwaardig uitroep en sy teenstanders spottend grinnik, en geamuseerd kyk Karin hoe hy en sy maat met die grootste gemak onder die stof geloop word.

“Nee, Arrie,” sê Truida tergend toe hulle afstap, “dit was maar ’n swak vertoning – veral die laaste paar potte. Ons sal hulle later weer speel as jy jou volle aandag by die spel kan bepaal.”

Arrie glimlag, glad nie onthuts deur haar tergery nie, en stap reguit na Karin toe.

“Ek is bly jy is hier,” sê hy toe hy haar groet. “Ons was bang hulle hou jou dalk daar in die dorp.”

Karin glimlag. Sy het Arrie twee keer gesien sedert sy Maandag op Oupossie was. Die een keer het sy hom toevallig by die hospitaal raakgeloop toe hy na Jakop kom verneem het, die ander keer het hy vir haar by die hotel kom kuier onder die voorwendsel dat hy kom hoor hoe dit met Jakop gaan. Sy kon albei kere net vinnig met hom gesels, maar sy het van hom gehou en daarna uitgesien om hom beter te leer ken.

Die middag het gesellig verloop. Behalwe Karin en Arrie was daar nog ’n jong getroude paar, Hans en Ella Vorster, wat op een van die aangrensende plase boer. Hulle was almal geesdriftige tennisspelers en Karin moes hard konsentreer om haar man tussen hulle te staan.

Toe die son agter die rantjies wegsak en die bome skraal en donker teen die rooi aandhemel staan, stap hulle almal saam huis toe. Die weer was nog lekker, al was dit byna Meimaand, en die braaivleisvuur het reeds buite langs die huis gebrand. Solank die mans iets drink, gaan bad die vrouens en Truida kyk dat die kinders – twee van haar eie en twee van die Vorsters – hulle aandete kry.

Dit was lekker om ná die middag se harde oefening in ’n gemaklike stoel so ’n entjie van die vuur te ontspan en te luister na die boere se praatjies terwyl die heerlike geur van vleis wat oor die kole braai die lug vul.

“Ek het Hugo ook genooi om vanaand saam met ons te kom eet,” sê Truida toe hulle elkeen met ’n bord kos op die skoot sit. “Hy het gesê hy sal miskien kom, maar daar het seker weer iets voorgeval.”

“Moet jy nou oor Hugo praat?” vra Arrie ontevrede. “Ek het net begin dink ek het daarin geslaag om Karin van die hospitaal en al die siek mense te laat vergeet.”

Karin glimlag. Sy het nie geweet Hugo is ook genooi nie, maar sy wonder of hy ooit regtig van plan was om te kom. Hy weet sy kuier die naweek op Geluksvlei en sou die plaas juis om daardie rede vermy. Sy is in elk geval bly hy het nie opgedaag nie. Maar noudat Truida sy naam genoem het, kan sy hom nie weer so maklik uit haar gedagtes verban nie.

Sy dink weer aan vanoggend se gesprek met Isak Roux en sy wonder of sy die moed sal hê om met Hugo Slabbert oor die saak te gesels. As sy haar eie gevoelens probeer ontleed, kan sy ook glad nie verstaan waarom sy so gretig is om hier op Doringlaagte aan te bly nie, veral nie terwyl sy weet dat Hugo haar teenwoordigheid slegs duld omdat daar destyds niemand anders beskikbaar was nie. Waarom die begeerte om hom te oortuig dat hy verkeerd is, dat sy vooroordele ongegrond is, dat ’n vrouedokter in elke opsig ’n man se gelyke is wat bekwaamheid, pligsbesef en uithouvermoë betref? Of sy dit sal regkry om hom te oortuig, is ’n ope vraag, maar sy voel ’n onverklaarbare koppigheid om nie die saak so maklik gewonne te gee nie.

Miskien is dit net gekrenke trots, maar sy verkies om te dink dat dit nie net oor haarself gaan nie, maar dat sy vir alle vrouens ’n lansie probeer breek.

Sy het die volgende oggend ontbyt in die bed gekry, maar was uitgerus en vol energie en het nie onnodig lank in die kamer getalm nie. Later het sy saam met haar gasheer in die tuin rondgestap terwyl sy vrou in die huis besig was. Hy het haar van sy ouers en sy suster vertel, en van sy pa se teleurstelling toe hy uiteindelik besef het dat sy enigste seun net een groot ambisie het: om eendag op sy oupa se plaas te gaan boer.

“Ek was jammer om hom teleur te stel,” sê hy. “Hy het hard gewerk om die praktyk op te bou en ek kan goed verstaan dat hy my graag daar wou hê. Maar die medisyne het my nooit geïnteresseer nie. Miskien was dit my oupa se skuld – ek het van jongs af al my vakansies op die plaas deurgebring en ek het grootgeword met die gedagte dat ek eendag op Geluksvlei sal kom boer. Maar ek het twee seuns en hulle kan nie albei op Geluksvlei boer nie – miskien besluit een van hulle om eendag in sy oupa se voetstappe te volg.”

“Dit sal wonderlik wees,” sê sy saggies.

“Ja, dit sal wonderlik wees vir Oupa. Maar ek sal hulle nie probeer beïnvloed nie – die drang moet self daar wees.” Hy kyk af na haar en vervolg glimlaggend: “Ek is nogal nuuskierig om te weet wat ’n aantreklike jong meisie soos jy laat besluit het om ’n dokter te word.”

“My pa is ook ’n dokter,” antwoord sy. “Ek het van jongs af in die werk belanggestel en hoewel my pa my nooit aangemoedig het nie, het hy my ook nie teëgegaan toe ek besluit het om dokter te word nie.”

“En jy was nog nooit spyt nie?”

Sy skud haar kop.

“Die werk begin nou eers regtig interessant word.”

“Jou moeilikheid lê natuurlik nog voor,” sê hy glimlaggend. “Die dag sal kom dat jy tussen ’n man en jou beroep sal moet kies – en wat dan?”

“Waarom moet ek kies?” vra sy liggies. “Waarom kan ek nie die man sowel as die beroep behou nie?”

“Ek weet nie,” antwoord hy. “Ek dink maar net nie dit is moontlik nie. Óf die man óf die beroep sal verwaarloos word. En geen man wat sy sout werd is, sal dit aanvaar nie.”

Sy kyk op in sy glimlaggende gesig, bewus daarvan dat hy haar terg.

“Ek weier om te glo dat alle mans ewe bekrompe is,” sê sy. “En as twee mense mekaar verstaan en respekteer, kan hulle altyd ’n oplossing vir hulle moeilikhede vind.”

“Bes moontlik,” gee hy toe. “Maar ons het darem nie nou van respek gepraat nie. Maar toe maar, ons gesels weer eendag …”

Stadig begin hulle terugstap huis toe en ná ’n rukkie vra hy: “Hou jy regtig van die werk hier, Karin?”

“Dis baie interessant.”

“En jy sal graag langer as die drie maande wil bly?”

“Nogal.” Sy vertel hom van haar gesprek met Isak Roux en hy luister belangstellend.

Toe sy klaar is, sê hy: “As jy wil, sal ek ook met Hugo praat.”

“Nee dankie,” sê sy haastig. “Liewer nie.”

“Ek en Hugo is goeie vriende – dit kan nie kwaad doen nie.”

“Nee,” sê sy beslis en hy glimlag.

“Hou jy nie van Hugo nie?” vra hy.

“Hy is ’n baie goeie dokter,” antwoord sy koel.

“Net ’n bietjie ongenaakbaar?” vra hy tergend. “En effens bevooroordeeld teen die vroulike geslag – en ek veronderstel dit geld ook alle vrouedokters?”

Sy kyk verwytend na hom en hy lag.

“Toe maar, as jy eendag vir Hugo beter leer ken, sal jy uitvind dat hy glad nie so ongenaakbaar is nie.”

“Dié voorreg sal ek seker nooit hê nie,” antwoord sy uit die hoogte en hy besluit dis beter om van die onderwerp af te stap.

Arrie het kort ná ete die middag weer kom kuier. Hy het Karin genooi om ’n entjie te gaan stap en hoewel hy later vir Boet en Truida ook by die uitnodiging ingesluit het, het hulle besef dat hy liewer alleen met Karin wil wees en gesê hulle verkies om tuis te bly. Karin was egter bewus van die tergende glinstering in Boet se oë en het met ’n effense blos op haar wange saam met Arrie van die huis af weggestap.

Sy het sy geselskap geniet. Hy het haar van Oupossie vertel en van sy ouers wat nog saam met hom daar woon tot hy eendag sover kom om ’n vrou huis toe te bring.

Karin kon nie so maklik soos Arrie oor haar drome en teleurstellings gesels nie, maar sy het hom van haar werk in die stad vertel en ook die redes wat haar laat besluit het om platteland toe te kom.

“Ek is bly jy het Doringlaagte toe gekom,” sê hy toe sy klaar is. “Want anders het dit miskien nog jare geduur voor ek jou ontmoet het. Maar dit klink vir my of die werk daar in die hospitaal baie beter by ’n vrou sal pas as die werk wat jy hier op Doringlaagte moet doen.”

“Miskien,” sê sy. “Maar ek wil self uitvind.” Sy voel gevlei deur Arrie se bewondering vir haar, maar dit laat haar ook ’n bietjie verleë voel en sy stel voor dat hulle huis toe begin stap.

Arrie willig in en heelwat stadiger as wat hulle gekom het, stap hulle deur die veld terug. Eers toe hulle naby die huis kom, vra Arrie haar of sy die volgende Saterdagaand saam met hom bioskoop toe sal gaan.

“Ek sal graag wil gaan, Arrie,” sê sy dadelik. “Maar ek dink nie ek kan ’n afspraak met jou maak nie. Ek is volgende naweek aan diens en dokter Roux-hulle gaan Saterdag met vakansie. Ek sal baie sleg voel as jy die hele ent in dorp toe kom en ek vind op die tippie uit ek kan nie saam met jou gaan nie.”

“Ek kom dorp toe vir besigheid, so jy hoef jou nie te bekommer nie. Ek het gehoop ons kan die middag eers saam tennis speel, want ons rugbywedstryd is gekanselleer. En as jy die aand los is, gaan ons saam uit; so nie, ry ek maar saam met jou op jou rondtes of wag tot jy klaar is.”

“Dan neem ek graag die uitnodiging aan,” sê sy, maar sy wonder hoe lank Arrie se geduld sal hou. Dit mag die eerste en selfs die tweede keer nogal ’n aardigheid wees om so vir ’n meisie te wag, maar dit kan vervelig raak op die lang duur.

Arrie het die aand by hulle geëet en daar gekuier tot Karin so teen negeuur se kant aanstaltes begin maak het om te ry.

Hy het agter haar aangery tot by die eerste hek – van daar af het hulle paaie in byna teenoorgestelde rigtings geloop.

Hy is gaaf, dink Karin toe sy alleen verder ry. “Ek hou baie van hom.”

Maar vreemd genoeg was dit nie Arrie wat haar gedagtes die res van die pad besig gehou het nie.

Tryna du Toit-omnibus 3

Подняться наверх