Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit - Страница 17
Hoofstuk 14
ОглавлениеDie telefoon het Karin vroeg die volgende oggend wakker gemaak.
Nog half deur die slaap – sy is gedurende die nag uitgeroep na ’n kind met kroep – steek sy haar hand uit om die gehoorbuis op te tel.
Dis die matrone van die seunskoshuis.
“Ek is jammer om jou so vroeg lastig te val, Dokter,” sê sy verskonend. “Ek soek eintlik na dokter Slabbert, maar daar is nie antwoord by sy woonstel nie en hy is ook nie by die hospitaal nie. Kan jy my miskien sê waar ek hom kan kry?”
“Hy is vir die dag stad toe. Hy moet in ’n moordsaak gaan getuig.” Sy hoor die matrone se uitroep van ontsteltenis en vra: “Kan ek nie help nie?”
“Dis Kosie Roux,” sê die matrone. “Ek is baie bekommerd oor hom. Hy was die hele nanag siek van maagpyn en het aanhoudend naar geword. Die seuns het gisteraand nadat die ligte uit was, ’n tamaai fees gehou om hulle rugbyoorwinning te vier en ek het gedink dis van al die deurmekaar etery dat hy siek geword het. Ek is bevrees ek het vir hom medisyne gegee om te drink. Nou begin ek onrustig word. Hy is koorsig en word nog altyd naar, en die pyn is ook erger.”
Karin is skielik helder wakker.
“Ek kom dadelik,” sê sy en sit die telefoon neer.
Haar gedagtes is by Kosie terwyl sy haastig aantrek. Volgens die matrone se beskrywing van die simptome klink dit vir haar na akute blindedermontsteking en die feit dat die matrone hom medisyne ingejaag het, kan sake vererger.
By die koshuis word Karin se ergste vrese bewaarheid. Al Kosie se simptome dui op blindedermontsteking. Hy erken ook dat hy al een keer vantevore ’n aanmaning gehad het, hoewel dit niks was in vergelyking met hierdie een nie.
“Ons sal maar die ou blindederm moet uithaal,” sê sy glimlaggend. “As hy so begin lol, moet ’n mens dadelik van hom ontslae raak.”
“Vandag nog?” vra hy. Hy probeer ook glimlag, maar dis duidelik dat hy heelwat pyn verduur.
“Vandag nog,” antwoord sy. “So gou moontlik.”
Ongelukkig kan Kosie nie vir haar sê presies waar sy ouers hulle bevind nie – al wat hy weet, is die naam van die plaas waar hulle gekuier het en van waar hulle saam met vriende op safari gegaan het. Maar of hulle nog daar is of reeds op pad terug is, weet hy nie – hy weet net hulle verwag om teen volgende Woensdag of Donderdag tuis te wees.
’n Paar oomblikke staan Karin besluiteloos, dan roep sy die matrone eenkant. Beslis sê sy: “Hy moet dadelik geopereer word. Ek sal die hospitaal bel en reël dat die ambulans hom kom haal.”
Die matrone is diep ontsteld.
“Maar, Dokter,” protesteer sy, “ons kan mos nie sonder sy ouers se toestemming opereer nie.”
“Maar kan u nie die nodige toestemming gee as ons sy ouers nie betyds kan opspoor nie?”
“Nee,” sê sy. “Dokter Roux het gesê ingeval Kosie siek word of iets voorval, moet ek vir dokter Slabbert laat kom – hy sal weet wat om te doen.”
Karin is nou in ’n penarie. Die operasie kan desnoods ’n uur of twee langer uitgestel word, maar dit is wenslik om Kosie so gou moontlik in die teater te kry. Daar is miskien reeds ’n moontlikheid van perforasie … En waar gaan sy nou vir Hugo in die hande kry?
Dan sê sy: “Ek sal probeer om met dokter Slabbert in aanraking te kom. Ek sal die sersant vra om my te help. Hy kan die polisie op die dorpe langs die hoofpad in kennis stel en miskien kan hulle hom nog voorkeer.” Sy kyk na haar horlosie. “Dit is nou sewe-uur. Ek sal tot nege-uur wag, maar niks langer nie. As ek dan nog niks van dokter Slabbert gehoor het nie, sal ek opereer.”
“Dit sal op Dokter se eie verantwoordelikheid wees,” waarsku die matrone.
“Ek weet. As dit u meer gerus sal stel, sal ek dokter Silbur ook vra om Kosie te ondersoek en sy opinie te gee.”
Matrone gryp na dié strooihalmpie.
“Asseblief, Dokter. Ek dink dit sal verstandig wees.”
Kwart oor sewe, dink Karin, toe sy by die polisiekantoor uitstap. Hugo behoort nog ver van die stad af te wees. Sy hoop hulle kan hom voorkeer.
Sy bel dokter Silbur toe sy by die huis kom, maar hy is nog in die bed. Die huishulp wil hom nie gaan roep nie en belowe om hom ’n boodskap te gee. Maar Karin was nie tevrede daarmee nie.
“Ek moet self met dokter Silbur praat,” sê sy koel en beslis. “Sê vir hom dis dokter De Wet en sê asseblief vir hom dis dringend. Ek sal wag.”
Dokter Silbur was taamlik gou by die telefoon, ewe vriendelik en hulpvaardig, en het belowe hy sal agtuur by die hospitaal wees.
Karin kan nou eers gaan kyk hoe dit vanoggend met tannie Rina gaan. Haar pasiënt het ’n taamlike goeie nagrus gehad, maar sy lyk moeg en pap en haar koors is hoër. Karin herhaal haar bevel dat sy nie uit die bed mag opstaan nie.
“Ek sal maar vandag by die huis bly,” sê Susan toe Karin in die kombuis kom. “Ons skryf volgende week eksamen en doen nou net hersiening.”
Op pad hospitaal toe moes Karin gou eers ’n paar noodsaaklike besoeke doen, maar agtuur is sy daar.
Matrone Vermeulen is nie in haar kantoor nie en Karin kry haar by Kosie in die kamer. Soos gewoonlik is dit moeilik om te weet wat in haar gedagtes omgaan, maar Karin kry die indruk dat sy bekommerd is en dit laat haar ook meer senuweeagtig voel.
Kosie se toestand is feitlik dieselfde. Hy lê met toe oë, maar slaap nie. Toe Karin oor hom buk, kreun hy sag. Sy is jammer sy het die koshuismatrone belowe sy sal wag – die spanning word ondraaglik en die gewag bring hulle niks in die sak nie.
Sy gesels met die matrone, maar dié se houding is koel en stug en Karin is verlig toe dokter Silbur die kamer binnekom.
Hy ondersoek Kosie tydsaam en Karin voel hoe die spanning oplaai. Uiteindelik kyk hy op na Karin en knik.
“Blindederm,” beaam hy. “Geen twyfel nie. Het jy gereken om self te opereer, Dokter?” Sy knik en effens onseker vervolg hy: “Dit kan dalk ’n moeilike operasie wees. Sal dit nie beter wees om te wag tot dokter Slabbert kom nie?”
Karin antwoord beslis: “Ek dink nie dit is raadsaam om te wag nie. As ek nege-uur nog niks van dokter Slabbert gehoor het nie, gaan ek opereer.”
Sy is bewus van die matrone se afkeuring, maar maak of sy dit nie raaksien nie. Sy aanvaar dankbaar dokter Silbur se aanbod om haar te assisteer en hy is daar weg met die belofte dat hy kwart voor nege weer terug sou wees.
Nadat hy weg is, sê matrone Vermeulen vir Karin: “Sal dit nie verstandiger wees om na ’n meer ervare man soos dokter Silbur te luister nie, dokter De Wet?”
“Die verantwoordelikheid sal nog groter wees, Matrone, as ek uitstel tot dit te laat is. Sal jy asseblief toesien dat Kosie gereed gemaak word vir die operasie?”
Sy probeer vriendelik en beleef praat, maar die matrone bly stug en die gebrek aan vertroue in haar bekwaamheid wat sy oral teëkom, laat Karin nou ook aan haarself twyfel. Kitty bring vir haar ’n koppie koffie wat sy dankbaar afsluk, en kwart voor nege gaan sy teater toe om te skrop.
Sy het nog vir oulaas langs Kosie se bed gestaan, haar vinger op sy haastige pols, ’n gebed in haar hart, toe het sy vasberade weggestap.
Tot op die laaste minuut het sy nog gehoop om iets van Hugo te hoor.
Drie minute voor nege kom die sersant by die hospitaal aan met ’n boodskap wat hy persoonlik vir haar wil gee en Kitty neem hom reguit teater toe. Karin het al haar wit jurk aan en die suster help haar om haar handskoene aan te trek toe Kitty vir haar kom sê dat die sersant haar ’n oomblik wil sien.
“Ek kan nie nou uitgaan nie, Kitty. Wat is die boodskap?”
Kitty het die deur agter haar oopgelaat en die volgende oomblik staan die sersant daar. Hy sê vir Karin: “Ons het dokter Slabbert gekry, Dokter. Hy sê as jy reken dis nodig om dadelik te opereer, moet jy nie wag nie. Hy kom so gou moontlik.”
Karin sug saggies – ’n sug van diepe verligting. Krag en besieling vloei soos ’n elektriese stroom deur haar en sy weet dat sy Hugo altyd vir hierdie oomblik dankbaar sal bly. Dan buk sy oor die pasiënt en die operasie begin.
Hugo Slabbert kom ’n halfuur later by die hospitaal aan. Hy kry Kitty in die gang en hoor die operasie is reeds aan die gang. Hy skrop haastig, trek hy die oorjas aan wat Kitty vir hom bring en glip so ongemerk moontlik by die operasieteater in.
Karin is so verdiep in haar taak dat sy nie eens opgemerk het toe Hugo by die teater inkom nie. Die operasie het nie so voor die wind gegaan soos sy gehoop het nie. Eers kon sy die blindederm tot haar ontsteltenis nie dadelik kry nie en kosbare minute het verlore gegaan terwyl sy daarna soek. Toe sy dit kry, was dit rooi en geswel met duidelike tekens van perforasie, en sy het haarself verwyt dat sy twee uur gewag het.
Sy het net die ontsteekte orgaan afgebind en verwyder toe sy van Hugo se aanwesigheid bewus word. Vlugtig het sy na hom opgekyk en haar eerste reaksie was om opsy te staan sodat hy haar plek kan inneem en die operasie kan voltooi. Hy het sy kop effens geskud en sag maar gebiedend gesê: “Gaan aan.”
Sy het die operasie voortgesit, maar sy was die hele tyd bewus van sy teenwoordigheid. Die wete dat sy stilswye op goedkeuring dui, het haar egter vertroue gegee en sy het die operasie vlug en seker voltooi.
Terwyl hulle koffie drink, ontdek Karin waarom die polisie Hugo nie eerder kon opspoor nie. Hy het net anderkant die eerste dorpie – minder as veertig myl van Doringlaagte af – moeilikheid met sy motor gekry en was verplig om terug te draai na ’n garage waar hy meer as ’n uur lank vertraag is. Toe hy die boodskap kry, het hy dadelik omgedraai en terug Doringlaagte toe gejaag.
Hy wil alles van Kosie weet en Karin vertel hom kortliks wat gebeur het. Hy luister aandagtig, vra na Kosie se simptome en frons toe sy sê dat die matrone vir Kosie maagmedisyne gegee het.
“In daardie geval verstaan ek nie waarom jy nog gewag het nie, dokter De Wet,” sê hy koel. “Terwyl daar reeds gevaar van perforasie was, moes jy dadelik geopereer het.”
“Ek is bevrees ek het ook skuld daaraan,” sê dokter Silbur vir Hugo. “Toe ek besef dat daar moontlik komplikasies kan wees, het ek haar aangeraai om te wag tot jy kom. Ek het toe nog nie geweet dat sy ’n chirurg ook is nie – ek het gedink sy leer nog maar om een te wees.”
Hy kyk na Karin en vervolg glimlaggend: “Ek vra jou om verskoning, Dokter. Dit sal nie weer gebeur nie.”
Karin glimlag verleë, bewus van die blos wat haar wange bedek. Dit is die mooiste kompliment wat sy nog ooit gekry het, dink sy, en dit van die versigtige, tydsame dokter Silbur.
“Ek wil net weer na Kosie gaan kyk,” sê sy.
“Ek stap saam,” sê Hugo. Op pad vra hy: “Maar ek het blykbaar nog nie die hele storie gehoor nie. Wou hulle jou nie toelaat om sonder my toestemming te opereer nie?”
Sy stem is vriendelik, aanmoedigend, en onwillig sê sy: “Die koshuismatrone wou nie haar toestemming gee nie – sy het gesê as ek opereer, doen ek dit op my eie verantwoordelikheid. Dokter Silbur het my aangeraai om te wag, en Matrone was nie gelukkig nie en wou ook gehad het ek moes wag. Om hulle tevrede te stel het ek gesê ek sal tot nege-uur wag.”
“Jy was hierdie keer gelukkig,” sê hy. “Maar moet dit nie weer waag nie. As sake verkeerd geloop het, was dit ook jou verantwoordelikheid.”
“Ek weet, maar wanneer mense jou so duidelik laat verstaan dat hulle geen vertroue in jou het nie, verloor jy later ook vertroue in jouself.”
Hugo kyk fronsend voor hom, dan sê hy: “Dis dalk my skuld ook. Ek het jou in die verlede dalk nie genoeg gewys dat ék jou ten volle vertrou nie.”
Karin gaan staan en weet ’n oomblik nie wat om te sê nie. Dan kyk sy op na hom en die diepblou oë is blink en ernstig.
“Dankie, Dokter,” sê sy saggies. “Dit sal nie weer gebeur nie.” Dan vervolg sy op ’n ligter toon: “Mag ek ook vir gister se vertoning van … histerie … om verskoning vra?”
Hy grinnik effens.
“Waarom wil jy om verskoning vra? Jy het tog alles bedoel wat jy gesê het, nie waar nie?”
“Ek het,” erken sy moedig, “maar dis nog geen rede waarom ek dit moet sê nie.”
Hy glimlag, maar antwoord nie, en met die vrede tussen hulle nou weer herstel, stap hulle saam verder.
“Wat word nou van jou saak?” vra Karin nuuskierig.
“Ek weet nie. Ek hoop maar ek word nie gedagvaar vir minagting van die hof of so iets nie. Ek het die polisie gevra om te laat weet ek word opgehou. Ek wil nou gaan bel om te hoor wat hulle kon regkry.”
Mien lyk vandag bleek en gespanne, maar toe Karin vra of sy iets makeer, antwoord sy ontkennend en wil alles oor Kosie se operasie hoor. Karin vertel haar kortliks wat gebeur het, maar sy hou Mien die hele tyd fyn dop. Haar kleur is vanoggend besonder sleg – sy is nie net baie bleek nie, haar vel het ook ’n gryserige skynsel waarvan Karin nie hou nie. En sy het die afgelope tyd baie maer geword.
Toe sy klaar is en Mien haar gelukgewens het, sê sy onverwags: “Mien, jy lyk nie vir my goed nie. Is jy bekommerd of is jy siek? Wil jy nie vir my sê nie? Jy weet twee koppe is altyd beter as een.”
Mien haal haar skouers op en daar is ’n bitter trek om haar mond.
“Dis maar net weer die gewone manmoeilikheid,” sê sy ongeerg. “Maar noudat ek ouer word, is dit my maag wat deurloop. Ek kan omtrent niks eet nie of my maag is onderstebo.”
“Pyn ook?”
“Nie pyn nie, anders sou ek lankal gedink het dis iets ernstigs. Net slegte spysvertering en ’n gedurige swaar gevoel op my maag – en dit alles net danksy die verbrande man.”
Karin weet alles van Mien se man af; op ’n dorpie soos Doringlaagte leer ’n mens gou jou bure en hulle moeilikhede ken. John de Lange is ’n aantreklike, vrolike man wat Mien al baie ongelukkige dae besorg het – nie net omdat hy swak sorg vir sy gesin nie, maar ook omdat hy in al wat vrou is, belangstel. Ná die tyd is hy altyd berouvol en vol goeie voornemens en ’n tyd lank gaan dit dan weer goed, maar hy kan dit maar nie regkry om op die nou en reguit paadjie te bly nie. Mien het al geleer om sy rondlopery gelate te aanvaar en Karin wonder wat hy nou weer aangevang het wat Mien so ontstel het.
“Dis maar net weer die gewone storie,” antwoord Mien toe sy vra. “Maar die kinders word groot en hulle begin besef wat aangaan. Party dae dink ek ek is ’n gek – ek moes hom die eerste keer al in die pad gesteek het.”
“Kom eet vanmiddag saam met my,” sê Karin. “Tannie Rina is siek en ek eet sommer by die kafee. Dan kan ons rustig gesels.”
Maar Mien skud haar kop.
“Die kinders kom van die skool af en dan kan ons darem so ’n halfuurtjie gesels. Ek sien reeds so min van hulle. Ek sal liewer huis toe gaan as Dokter nie omgee nie.”
“Natuurlik nie. As daar reeds twee plaasbesoeke is, sal ek ook nie lank kan bly nie.”
Sy kyk na Mien en vervolg ongeërg: “Mien, ek wil graag X-strale van jou maag laat neem. So gou moontlik.”
’n Oomblik staan Mien roerloos, dan kyk sy stadig op na Karin en Karin sien die onrus in haar oë.
“Dis nie nodig nie. Ek is seker dis net slegte spysvertering.”
“Heel moontlik,” stem Karin saam. “Bekommernis kan ’n mens se siel én liggaam aantas. Maar daar is tog ’n kans – een kans uit ’n duisend miskien – dat dit nie net slegte spysvertering is nie. Laat ons maar heeltemal seker maak.”
“Ek sal daaroor dink,” sê Mien, wat nou vinnig retireer.
Karin laat haar gaan. Sodra Mien aan die gedagte gewoond geraak het, sal sy weer met haar praat. Mien se slegte kleur val haar al van die eerste dag af op en dit het nie die afgelope weke verbeter nie. En dié gedurige probleme met haar maag … Arme Mien, wat reeds so ’n dubbele las moet dra.
Maar daar is nie tyd om langer aan Mien te dink nie. Die eerste pasiënt het reeds by haar spreekkamer ingekom.