Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit - Страница 14

Hoofstuk 11

Оглавление

Marie Roux het Karin en Hugo Slabbert genooi om die Vrydagaand voor die Rouxs met vakansie sou vertrek vir oulaas saam met hulle te eet. Daar was nog ’n paar sake wat die dokters moes bespreek en finale reëlings wat getref moes word, en die Rouxs was gretig om die volgende middag vroeg, sodra spreekure verby was, in die pad te val.

Karin het die middag tussen een- en twee-uur van die hotel na haar nuwe blyplek getrek. Sy het nog nie kans gehad om haar tasse uit te pak of die vertrekke na haar sin te rangskik nie, maar sy is seker sy sal baie gelukkig saam met tannie Rina en haar kleindogter bly.

Terwyl sy in een van haar tasse rondsoek na ’n rok om aan te trek, dink sy weer aan haar en Hugo se gesprek die oggend. Hulle was besig om gou ’n koppie koffie tussen operasies te drink toe hy vir haar sê dat dokter Roux hom gesê het dat sy graag langer by hulle op Doringlaagte sal wil aanbly.

“Jy weet wat my gevoelens oor die saak is,” het hy vir haar gesê. “Ek het geen geheim daarvan gemaak nie. Noudat ons twee die werk alleen moet behartig, sal jy self besef wat ek bedoel as ek sê dat ’n vrou nie die werk kan doen nie. Dis nie dat ek jou gewilligheid of bekwaamheid in twyfel trek nie. Dis ’n kwessie van stamina. Ek sal jou aanraai om maar liewer weer by een van die hospitale te gaan werk; daar loop jy nie gevaar om jou kragte te ooreis nie.”

Dit was alles baie mooi en baie vaderlik, maar Karin het haar lippe opmekaar gepers en hom nie geantwoord nie. Hy het ondersoekend na haar gekyk en ná ’n rukkie half ergerlik gesê: “Dokter De Wet, wíl jy nie oortuig word nie?”

“Ek glo ek kan die werk doen,” het sy koppig geantwoord. “Al wat ek vra, is ’n kans om dit te bewys.”

Hulle het mekaar ’n lang oomblik aangekyk, soos twee aartsvyande wat kragte meet. Toe het sy houding verslap en hy het kortaf gesê: “Jy sal die kans kry. Ons praat weer oor ’n maand.”

“Dankie, dis al wat ek vra,” het sy koel herhaal, maar haar hart het in haar keel geklop en haar hande het so gebewe dat sy nie die koppie behoorlik kon vashou nie. Die smaak van oorwinning was soet in haar mond en sy het sterk en vol moed gevoel.

Sy dink aan die maand wat voorlê en sy weet hy sal nie uit sy pad gaan om sake vir haar te vergemaklik nie. Inteendeel. Maar sy wil dit ook nie anders hê nie en sy hoop sy sal die nodige krag en inspirasie kry om haar altyd goed van haar taak te kan kwyt.

Hugo se motor staan reeds op die sypaadjie voor die Rouxs se huis en Karin trek haar motor langs syne.

Sy tref die gesin en Hugo voor die kaggelvuur aan en daar word dadelik vir haar ook ’n stoel nader getrek en vir elkeen ’n glas wyn ingeskink.

“Ons drink op Isak en Marie se gesondheid,” stel Hugo voor en glimlaggend lig Karin haar glasie vir hulle.

“’n Heerlike vakansie,” wens sy hulle toe.

“Dankie, ons sien al so daarna uit,” sê Marie. “Dit sal die eerste keer wees dat ons sonder die kinders gaan vakansie hou.” Glimlaggend kyk sy na Kosie wat sit en koerant lees en vervolg: “Kosie gaan koshuis toe en ek is seker dit sal hom die wêreld se goed doen, maar ek sal bly wees as julle so verlangs ’n ogie oor hom sal hou. Ingeval iets skeefloop – ’n mens weet tog nooit wat kan gebeur nie – weet ek dan darem hy is in goeie hande.”

“Ag, Ma, wat kan nou gebeur?” vra Kosie ongeduldig. “Tensy ek doodgaan van die honger.”

“Met daardie blik soetkoekies en die droëvrugte en biltong?” vra sy ma en Kosie grinnik net.

“Ons sal na hom kyk, Marie,” belowe Hugo, en Marie Roux glimlag dankbaar.

“Is jy al gevestig in jou nuwe blyplek?” vra sy vir Karin.

“Allesbehalwe. Ek het vandag halsoorkop getrek en ek het nog nie eens begin uitpak nie – ek kom nou net van ’n plaasbesoek af. Maar dis heerlike vertrekke – daar is ook ’n kaggel wat ek gereeld sal gebruik – en ek is seker ek gaan baie gelukkig wees daar.” Sy kyk vlugtig na Hugo en sê: “Ek moet vir jou dankie sê: my telefoon was reeds daar toe ek vanmiddag terugkom.”

Hy glimlag effens. “Dit was ’n plesier, Dokter.”

Die volgende dag was grou en bewolk met ’n fyn motreëntjie wat af en toe uitgesak het. Dit was die eerste werklik onaangename dag vandat Karin op Doringlaagte gekom het, maar teen twaalfuur het dit begin opklaar en toe dokter Roux net ná eenuur van die spreekkamers af wegry, het die sonnetjie al weer met tussenposes deur die wolke gebreek en daar kon selfs weer aan tennis gedink word. Vir ’n wonder was daar die dag nie ’n enkele plaasbesoek nie en Karin kon met ’n rein gewete gaan tennis speel. Sy is egter vroeg huis toe, want sy het ’n paar huisbesoeke gehad en wou graag haar blyplek ’n bietjie regmaak. Toe sy by die huis kom, kry sy Susan op die stoep waar sy in die sonnetjie sit en lees.

“Dokter is vroeg terug,” sê die meisie skamerig.

Sy is ’n mooi meisie met dromerige groen oë en lang blonde vlegsels en Karin het dadelik van haar gehou.

“Ek het nog nie eens my tasse uitgepak nie, Susan,” antwoord Karin vriendelik. “En ek het gedink vanmiddag is ’n goeie kans om alles mooi agtermekaar te kry.”

“Kan ek nie vir Dokter help nie?” vra Susan en Karin willig dadelik in. Sy sal Susan se hulp goed kan gebruik en terselfdertyd kans kry om haar beter te leer ken.

Susan kyk met bewondering na Karin se mooi rokke wat sy in die kas help ophang. Toe sy hoor dat Karin nog ’n paar besoeke moet doen, stel sy voor dat Karin dadelik gaan bad en aantrek en dat sy alleen verder uitpak.

“Ek doen dit graag, Dokter,” sê sy toe Karin aarsel. “Ek weet hoe besig Dokter is en ek geniet dit om al die mooi klere te sien. Buitendien het ek nou niks anders om te doen nie – Ouma het ’n siek tannie gaan besoek en ek moet die huis oppas.”

Karin het haar vriendelike aanbod aanvaar en toe sy weer in die slaapkamer terugkom, was alles netjies weggepak.

“Ek het die tasse in die kas in die gang gebêre,” sê Susan. “Daar is baie plek en hier is hulle tog net in die pad.”

“Jy is ’n skat,” sê Karin dankbaar. “Kom help nou gou vir my dat ons die meubels in my sitkamer so ’n bietjie verskuif, dan is alles agtermekaar.”

Hulle het gestoot en geskuif tot die meubels na Karin se sin was en Susan het dadelik opgemerk dat die vertrek nou baie geselliger lyk.

“Dis wonderlik wat ’n verandering dit maak,” sê sy peinsend en wonder wat haar ouma sal sê as sy die meubels in haar kamer en die eetkamer ook ’n bietjie verskuif.

“Ja, dit lyk goed,” sê Karin. Al wat kortkom, is ’n mooi mat en nuwe gordyne. Sy sal dadelik vir haar ma skryf om dit vir haar te koop en te laat aanstuur. Haar ma sal wel weet wat om te kry.

“As Dokter uit is en die telefoon lui, moet ek antwoord?” vra Susan toe sy uitstap.

“As jy toevallig naby is en die boodskap neerskryf, sal ek dit baie waardeer, Susan. Maar dis glad nie nodig dat jy die telefoon oppas nie.”

“Ek doen dit graag,” antwoord Susan, en Karin dink dat sy dit inderdaad gelukkig getref het.

Sy is die aand saam met Arrie bioskoop toe en hulle kon die hele rolprent ongestoord geniet.

“Dit lyk vir my jy het my maar net bang gepraat,” sê Arrie toe hulle later in die kafee sit en koffie drink. “Ek is teleurgesteld – daar het dan niks gebeur nie.”

“Wees dankbaar, my vriend, wees dankbaar,” sê sy.

“En kan ons dit weer volgende Saterdagaand doen?”

“Op dieselfde voorwaardes, en ek hoop om jou ontwil die aand is ’n bietjie meer opwindend.”

Hy glimlag en sê tergend: “’n Aand saam met jou is nooit sonder opwinding nie.”

Hugo Slabbert kom op daardie oomblik by die kafee ingestap. Die restaurantgedeelte is taamlik vol en hy staan ’n oomblik in die deur terwyl hy rondsoek na ’n leë tafel of ’n plek om te gaan sit. Daar is plek aan hulle tafel en Arrie wink vir Hugo om by hulle te kom sit.

“Ek hoop nie jy gee om nie,” sê Arrie terwyl hy ’n stoel vir Hugo uittrek. “Ek wou juis nog met hom praat oor iets. Hallo, Hugo. Ek sê nou net vir Karin jy spaar my nou ’n oproep.”

Hugo se “Goeienaand” is koel maar vriendelik. Hy ruik effens na eter en Karin wonder of hy by die hospitaal was.

Die kelnerin is dadelik by en hy bestel koffie. Dan sê hy vir Arrie: “Is jy bekommerd oor Bester?”

“Ja. Ek het hom gesê hy moet dadelik na jou toe gaan met sy knie.”

“Ek het hom vanmiddag gesien. Hy sal seker nie weer hierdie seisoen rugby speel nie.”

“Maar Hugo!” Arrie is heeltemal verslae. “Ons enigste vleuel wat iets beteken! Wat gaan ons nou aanvang?”

“Jy sal maar vir Lubbe moet opskuif eerste span toe. Ek dink nog altyd hy hou baie belofte in.”

“Hy is te bang,” sê Arrie vies. “As die wêreld vir hom ooplê, nael hy soos ’n windhond, ja, maar by die eerste teken van gevaar verloor hy kop en dan foeter hy alles op. Ekskuus, Karin,” maak hy haastig verskoning, “maar Lubbe lok gewoonlik sterk taal by my uit.”

“Hy is onervare, dis al,” sê Hugo. “Gee hom gereeld plek in jou eerste span en kyk wat gebeur.”

“Ek sou baie eerder vir Kosie Roux wou probeer. Daar’s vir jou ’n oulike klein vleuel.”

“Kosie is ’n skoolseun en jy kan daardie gedagte maar uit jou kop sit,” sê Hugo. “Al sê sy pa ja, sal ek dit nie toelaat nie.”

Arrie grinnik.

“So het jy al baie keer gesê. Maar watse soort dokter is jy dan, Hugo, dat jy nie Bester se knie kan regmaak nie?”

“As Bester verlede jaar na my geluister het en die knie kans gegee het om behoorlik gesond te word, sou julle nie nou met die hande in die hare gesit het nie.”

Vir Karin sê hy: “Ek kom nou net van die hospitaal af – een van die skoolseuns het met ’n fiets in ’n motor vasgery.”

“Ernstig?” Sy wonder of hulle na haar gesoek het – sy is immers aan diens. Tensy dit natuurlik een van Hugo se privaat pasiënte is.

“Gelukkig nie – net ’n paar gebreekte ribbes en kneusplekke.”

“Ek het ’n wonderlike, rustige aand gehad,” erken Karin. “Arrie is heeltemal teleurgesteld – ek dink hy het verwag om die hele aand in die ambulans rond te ry.”

“’n Man het ook maar sy drome,” glimlag Arrie.

“Die stilte voor die storm,” voorspel Hugo. “Saam met die koue weer kom die winterkwale en siektes.”

Hulle het nog so ’n rukkie gesels, toe sê Karin sy moet huis toe gaan. Hugo Slabbert het ’n tweede koppie koffie bestel en sy en Arrie is alleen daar weg.

“Ek het nie geweet Hugo Slabbert stel ook in rugby belang nie,” sê Karin vir Arrie toe sy weer langs hom in sy motor sit.

“Hy stel baie belang – hy het vroeër jare self ook gespeel. Hy is vanjaar lid van ons keurkomitee, soos jy seker uit ons gesprek afgelei het.”

“Ek het – ook dat die arme kaptein maar baie probleme het.”

Ná die lang, bedrywige dag was Karin moeg en bly om in die bed te kom, maar die telefoon het haar die nag twee maal uit ’n diep slaap gewek en in die koue uitgejaag. Die wind het gaan lê, maar dit was snerpend koud en die grond was hard van die ryp.

Toe Karin die tweede keer in die bed klim net toe die rooidag begin breek, was sy so verkluim dat dit vir haar gevoel het sy word nooit weer warm nie. Sy het al baie van die Hoëveldse winters gehoor en as dit ’n voorsmakie is van wat gaan kom, het sy die helfte nog nie gehoor nie.

Hugo Slabbert se voorspelling dat dit slegs die stilte voor die storm was, is die volgende paar weke oor en oor bewaarheid. Die ongure weer het voortgeduur en griep, verkoues, brongitis en mangelontsteking was meteens volop. Die spreekkamers was vol en die plaasbesoeke het toegeneem, en Karin het van die een pasiënt na die ander gejaag. Die rooi tweesitplekmotortjie was hier, daar en oral en die vriendelike swarthaarmeisie agter die stuurwiel was lankal nie meer ’n vreemdeling op Doringlaagte nie.

Sy was bewus daarvan dat Hugo nog besiger as sy is – hy is nie die soort man wat homself spaar nie, nie eens om ’n koppige meisie ’n les te leer nie – en buiten die oggende wanneer sy hom met operasies geassisteer het, het sy maar min van hom gesien.

Sy was saans doodmoeg, maar sy het nooit gekla nie, nie eens teenoor tannie Rina of Susan, wat die vriendelikheid en hulpvaardigheid self was nie. Hulle het in dié besige dae baie vir haar beteken. Haar blyplek was altyd blinkskoon, die kaggelvuur het helder gebrand as sy saans moeg en koud by die huis kom, telefoonboodskappe is getrou aangeteken en tannie Rina het dit altyd reggekry om vir haar iets smaakliks vir ete voor te sit, selfs as sy lank ná etenstyd eers opgedaag het.

’n Paar gevalle van kwaai virusgriep het die dokters heelwat hoofbrekens besorg voor hulle dit korrek gediagnoseer het. Eers toe het Karin vir Hugo vertel van die geval wat sy ’n rukkie terug op een van haar plaasbesoeke teëgekom het en wat haar so gehinder het omdat sy nie haar vinger op die probleem kon lê nie. Sy het dit destyds met dokter Roux bespreek, maar omdat sy nooit weer van die mense gehoor het nie, het sy aanvaar die kind het gesond geword en later daarvan vergeet. Nou glo sy dat dit ook virusgriep was.

Hoewel die plaasbesoeke tydrowend en vermoeiend was, het dit Karin dikwels groot bevrediging verskaf.

Die moeilikste geval was ’n bevalling op ’n verafgeleë plaas. Dit was haar derde plaasbesoek van die dag en toe sy die middag kort voor sononder uiteindelik by die werker se huis aankom, het sy ’n jong vrou in ’n uitgeputte toestand daar aangetref. By die lig van ’n flikkerende olielamp en die sterk flits wat sy altyd by haar gedra het, het sy alleen, met net die twyfelagtige hulp van ’n ou vrou, geveg om die lewe van die moeder en haar kind. Dit was ’n lang en taai worsteling. Alles was verkeerd en die sweet het later op Karin se voorhoof gepêrel en op die grond begin val sodat sy die ou vrou elke nou en dan moes vra om dit af te vee.

Maar uiteindelik was die stryd verby en die baba, warm toegewikkel in ’n kombersie, het luidkeels sy koms in die koue, onvriendelike wêreld aangekondig. Sy ma het geslaap, nog onder die invloed van die verdowingsmiddels wat Karin haar toegedien het, maar wanneer sy wakker word, sou hulle die baba in haar arms lê en die pyn sou saam met die donker nag wyk.

Met diep teue het Karin die koue, vars lug ingeasem toe sy weer buite kom en nederig dankie gesê dat sy weer eens die wonder van die geboorte van ’n nuwe lewe kon aanskou. In hierdie oomblik, hier in die oop veld onder die helder, vonkelende sterre, het sy baie na aan haar Skepper gevoel.

Sy luister na die stamelende dank van die pa wat saam met haar tot by die motor stap en gly styf en stram agter die stuurwiel in. Noudat alles verby is, besef sy hoe moeg sy is. Maar haar dag is nog nie klaar nie. Die lang pad huis toe lê nog voor en terug op die dorp wag die besoeke wat sy nie die middag kon doen nie.

Dit was ’n stikdonker nag en omdat sy so moeg was, het sy die uitdraaipaaie seker nie so goed dopgehou soos sy moes nie. Dit was eers toe ’n vreemde houthek skielik voor haar in die pad opdoem dat sy vir die eerste maal besef dat sy op ’n vreemde pad is. Sy het nooit vanmiddag deur so ’n hek gery nie, dit onthou sy goed.

Sy draai dadelik om en toe sy ’n paar myl terug ’n uitdraaipaadjie aan die regterkant sien, volg sy dit. Maar sy het al onrustiger geraak. Is dit maar net omdat dit so donker is dat die pad vir haar so vreemd lyk?

Toe sy ’n driekwartier later weer voor dieselfde houthek stilhou en besef dat sy die hele tyd in ’n sirkel tussen die rantjies deurgery het en nie ’n enkele tree nader aan die dorp was nie, het sy haar kop op die stuurwiel gelê met die gevoel dat sy nou die einde van haar kragte bereik het.

Sy sien nie kans om vanaand verder te gaan nie. Met die koms van die nuwe dag sal sy weer nuwe moed en krag kry, maar nou dreig golwe van vermoeienis en teleurstelling om haar te oorweldig.

’n Lang ruk het sy so met haar kop op haar arms gerus en sy moes seker ingesluimer het, want skielik het sy met ’n ruk regop gesit.

Wat was daardie geluid wat haar skielik so helder wakker gemaak het?

Sy luister gespanne en haar hart klop in haar keel. Die donker nag is meteens vol dreigende gevare. Dan hoor sy dit weer: die aaklige getjank van ’n jakkals hier digby haar en sy sug verlig terwyl haar hele liggaam verslap. Maar sy sit gou weer regop. Sy besef nou sy kan nie hier bly nie. As sy vanaand hier voor die hek slaap, sal sy erken dat Hugo Slabbert reg was. Enigeen kan in die donker nag op ’n vreemde pad verdwaal. Dit is nie so ’n groot skande nie. Maar vervlaks of sy hier gaan bly sit tot die son môreoggend opkom.

Sy kyk op haar horlosie en sien met verbasing dis reeds halftwaalf. Sy moes beslis ’n rukkie geslaap het. Sy is stram en styf van die koue en rasend honger, maar sy is nie meer so verskriklik moeg nie. Sy sal maar weer probeer, miskien is sy dié keer gelukkig.

Sy klim uit die motor en kyk op na die helder sterre. Miskien kan hulle haar help om by die huis te kom. Die Suiderkruis hang hoog en die Melkweg lê skitterend oor die hemel. Maar hoe loop haar pad huis toe? Mismoedig skud sy haar kop.

Toe die jakkals skielik weer hier digby haar sy stem verhef, vlieg sy in die motor in en ruk die deur toe.

Sy sal maar vannag sonder die hulp van die sterre haar pad moet vind.

Tryna du Toit-omnibus 3

Подняться наверх