Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit - Страница 11
Hoofstuk 8
ОглавлениеKarin was van die begin af nie baie gelukkig in die hotel nie. Haar kamer was gerieflik en die diens redelik goed, maar sy het nie tuis gevoel in die hotelatmosfeer nie. Haar ongereelde ure het meegebring dat sy dikwels laatgekom het vir ete en die koue of opgewarmde kos was nie smaaklik nie. Die gedurige kom en gaan van mense en lawaai uit die kroeg het haar ook gepla, en sy het besluit om so gou moontlik ander blyplek te soek. Die hotellewe mag dalk goed genoeg wees vir ’n man, maar vir ’n alleenlopende vrou is dit beslis nie aangenaam nie.
Maar waar en hoe? Ná ’n besonder lawaaierige naweek het Karin Maandagoggend met die intrapslag vir Mien bygedam.
“Mien, ek soek ander losies,” val sy sommer met die deur in die huis toe Mien die lysie met haar pasiënte se name inbring. “’n Paar kamers by mense – êrens waar ek rus vir my siel kan kry. As dit daarop aankom, sal ek self vir my etes sorg. Weet jy nie van ’n gawe weduwee wat haar oor ’n arme, eensame ou doktertjie sal ontferm nie?”
Mien kyk in die mooi, glimlaggende oë en skud haar kop. “Nee, nie op die oomblik nie, maar gee my kans om so ’n bietjie daaroor te dink. Wil die hotellewe nie meer vlot nie?”
“Nee, ek hou nie daarvan nie. Daar was die naweek ’n rugbyspan in die hotel en die lawaai het nooit opgehou nie. Een van die spelers het toe nog ’n spier in sy been ook beseer en ek is in my professionele hoedanigheid na sy kamer ontbied.”
Mien se oë rek.“En toe? Wat het gebeur?”
Karin glimlag ondeund.
“Ek het die pasiënt ondersoek, behandeling voorgeskryf, hom belet om die volgende paar weke rugby te speel, my fooi ingesamel en geloop. Daar was geen ander ongevalle nie!”
Mien lag.
“Mooi so. Jammer ek was nie by nie.”
Karin neem die lysie by haar en bestudeer dit ’n oomblik.
“My pasiënte groei aan,” sê sy. “Dis vandag almal nuwes. Maar ek het ’n sterk vermoede baie van hulle kom nog bloot uit nuuskierigheid.”
“Solank hulle maar net kom,” sê Mien toe sy wegstap.
Terwyl sy vir haar eerste pasiënt wag, dink Karin aan die veertien dae wat verby is. Veertien besonder besige en interessante dae wat haar kennis en vernuf dikwels kwaai op die proef gestel het.
Maar dit was juis die veelsydigheid van die werk wat sy so interessant gevind het – selfs die lang, dikwels vermoeiende plaasritte was nog ’n nuwigheid – en as sy die vooruitsig gehad het dat sy later self ’n paar kleiner operasies kon doen, sou haar beker oorgeloop het. Maar sy het ’n gevoel gehad sy sou nie die kans kry nie – nie as dit van Hugo afhang nie.
Ná veertien dae het sy Hugo Slabbert nog niks beter geken as wat sy hom die eerste dag geken het nie.
Is dit omdat hy nie van haar as mens hou nie dat hy nog altyd so koel en ongeërg teenoor haar is? wonder sy nou weer. Of is sy houding teenoor haar maar net deel van sy misnoeë met die ganse vrouegeslag?
Sy stoot die gedagte aan Hugo Slabbert ongeduldig van haar af weg. Selfs hy kan nie haar geesdrif demp of die bevrediging wat sy uit haar werk put, bederf nie.
Haar eerste pasiënt is ’n aantreklike jong meisie. Sy het kastaiingbruin hare, lewendige bruin oë en ’n mooi gelaatskleur, en lyk blakend gesond. Karin wonder wat haar dokter toe laat kom het. Tot haar verbasing hoor sy dat Sarie Gous al byna ’n jaar getroud is en dink dat sy reeds vier maande swanger is.
“Ek moes natuurlik lankal gekom het,” glimlag Sarie verontskuldigend. “Maar ek was so gesond dat ek dit elke week uitgestel het – totdat my man nou uiteindelik sy voet neergesit het. Buitendien was ek ook skaam vir die mansdokters – ek was my hele lewe lank nog so gesond dat ek maar min ondervinding van dokters het.”
Karin glimlag. Sy hou dadelik van die mooi, spontane jong vrou.
“Dis darem die een keer wanneer ’n vrou nie moet wag om dokter toe te gaan nie.”
“Ek weet,” erken Sarie. “Dis hoekom ek so bly is jy sal die bevalling kan waarneem.”
“Ek is jammer,” sê Karin, opreg teleurgesteld. “Ek sou baie graag wou, maar ek is net vir drie maande hier op Doringlaagte – net totdat dokter Truter terugkom.”
Sarie Gous kyk verslae na haar.
“Ag nee,” sê sy. “Hoekom? Dokter Truter is dan vir nege maande weg.”
“Nege maande!” Fronsend staar Karin op haar beurt na Sarie. Omdat dokter Truter haar gevra het om vir drie maande as locum Doringlaagte toe te kom, het sy aanvaar hy is net vir drie maande oorsee. Sy is so verras dat sy haar pasiënt byna begin uitvra, maar bedwing haarself gelukkig. “In elk geval,” vervolg sy ná ’n rukkie, “ek het voorlopig net vir drie maande gekom. Miskien sal dit beter wees as jy in die omstandighede liewer na dokter Slabbert of dokter Roux toe gaan.”
Maar Sarie weier beslis.
“Nee,” sê sy. “Ek wil nie na een van hulle toe gaan nie. As jy dan regtig moet weggaan voor my baba gebore is, kan ons altyd later ’n ander plan maak.”
Die ondersoek verloop voorspoedig, maar die aanstaande moeder se bekken is heelwat kleiner as wat Karin van haar mooi sterk liggaamsbou verwag het.
Sarie het dadelik die klein fronsie tussen die dokter se donker wenkbroue raakgesien.
“Is daar iets verkeerd?” vra sy effens verontrus.
“Nee, glad nie,” sê Karin gerusstellend. “Behalwe dat die bekken ’n bietjie kleiner is as wat ek verwag het.”
“En wat beteken dit?”
“Dat ons die baba nie mag toelaat om te groot te word nie.” As dit later blyk ’n keisersnee is wenslik of noodsaaklik, is daar genoeg tyd om haar te sê, dink Karin. Daar is geen rede om Sarie nou al met die vooruitsig van ’n operasie te ontstel nie – veral nie terwyl sy met ’n bietjie voorsorg heel moontlik natuurlik geboorte sal kan gee nie.
Hulle gesels ’n rukkie oor dieet en oefening en Sarie belowe om Karin se voorskrifte getrou na te kom en haar elke twee weke te kom sien of dadelik te laat weet as sy nie gesond voel nie.
Sy groet Sarie glimlaggend en daar is ’n trotse gevoel in haar binneste. Sarie kon na enigeen van die ander dokters toe gegaan het, maar sy het verkies om na haar toe te kom. Net jammer sy sal Sarie nie die hele tyd kan bystaan tot haar baba gebore word nie.
Sy sit ’n rukkie fronsend voor haar en kyk, dan trek sy Sarie se kaart nader om ’n paar besonderhede daarop in te vul. Toe Mien ’n rukkie later met ’n koppie tee vir haar inkom, vra sy terloops: “Mien, vir hoe lank is dokter Truter weg?”
Mien kyk nuuskierig na haar, dan antwoord sy: “Nege maande of ’n jaar. Ek het gedink jy weet.”
Karin skud net haar kop. Sy begin nou opgewonde raak en neem haar voor om die saak so gou moontlik met Isak Roux te bespreek. Indien hulle reeds iemand anders gekry het om die res van die tyd waar te neem, is daar natuurlik niks wat sy daaraan kan doen nie. Maar daar is ’n kans dat hulle nog nie ’n ander locum gekry het nie. Dokter Truter het vir haar gesê hulle is op die tippie in die steek gelaat deur ’n dokter wat elders ’n meer lonende pos aanvaar het – daarom dat die reëlings so halsoorkop moes geskied.
En dan verdwyn die opwinding meteens as sy besef dat sy doelbewus net vir drie maande aangestel is.
Sy voel ’n bietjie teleurgesteld, maar eintlik kan sy dokter Truter-hulle nie kwalik neem nie. Met so ’n groot, steeds groeiende praktyk kon hulle seker nie te versigtig wees nie. Al wat sy kan doen om haar saak te bevorder, is om te wys dat sy bereid is om hard te werk en haar plek hier kan vol staan.
Toe Karin ná middagete weer by die spreekkamers kom, is Mien besig om ’n paar mooi dahlias in ’n vaas op haar lessenaar te rangskik.
Mien kyk glimlaggend op toe sy inkom.
“Ek het vir jou losies gekry,” sê sy.
“Jy het gou gespeel. Waar en hoe?”
Mien hoor die effense onsekerheid in haar stem en vervolg dadelik: “Jy moet natuurlik self besluit; ek het maar net die aanvoorwerk gedoen. Dis by tannie Rina Louw. Sy is ’n weduwee en woon saam met haar kleindogter in ’n lekker groot huis naby die kerk. Die huis is baie gerieflik geleë en ek is seker jy sal van tannie Rina en Susan hou.”
“Is daar nog ander loseerders?”
“Nee. Die Louws was vroeër welgestelde mense, maar oom Joachim is verlede jaar dood en ek dink tannie Rina het dit deesdae nie te breed nie. Dan het sy natuurlik ook nog Susan se toekoms om aan te dink.”
“Hoe oud is Susan?”
“Susan is so sewentien; sy skryf vanjaar matriek. Haar ma is dood met haar geboorte en haar pa is later weer getroud. Haar oupa en ouma het haar toe aangeneem en grootgemaak.”
“En is mevrou Louw bereid om ’n loseerder te neem?”
“Sy was eers bietjie huiwerig,” erken Mien. “Maar toe sy eers aan die gedagte gewoond raak, was sy heeltemal gretig. En jy is darem ook ’n baie spesiale loseerder,” vervolg Mien glimlaggend. “In elk geval, ek het gaan kyk en sy het twee heerlike ruim kamers, een met ’n stoepdeur sodat jy kan kom en gaan sonder om die huismense te steur. Daar is ook ’n mooi groot tuin – die dahlias kom juis van haar af.”
“Dit klink perfek. Baie dankie vir die moeite, Mien. Ek sal probeer om vanmiddag nog daar aan te ry – sal jy sommer nou vir my die adres gee?” Terwyl Mien die adres neerskryf, vra sy: “Hoeveel plaasbesoeke is daar?”
“Drie. Wat dit betref, is vandag ’n regte blou Maandag. Daar was ’n bakleiery op een van die plase en die een werker is glo taamlik ernstig beseer.”
“En ons hoor nou eers daarvan?” vra Karin effens verbaas.
“Die boer was die naweek weg en het eers vanoggend teruggekom.”
“Ek sien. Is die plase naby mekaar?”
“Twee is taamlik naby mekaar. Dis op een van hulle wat die bakleiery plaasgevind het. Die ander een is heeltemal in die teenoorgestelde rigting naby die nedersetting. Maar dokter Slabbert het al die besonderhede.”
“Wag daar nog pasiënte vir my? So nie kan ek maar dadelik ry.”
“Daar is niemand nie,” sê Mien en gaan uit.
Karin maak dadelik gereed om te gaan.
Sy kry Hugo in sy spreekkamer besig om vorms in te vul en te onderteken.
“Sit asseblief net so ’n oomblikkie,” sê hy toe sy op sy uitnodiging inkom. “Ek is nou klaar.”
Gehoorsaam gaan sit sy op die punt van die stoel en wag dat hy klaarmaak. Haar blik rus ’n oomblik op die sterk gesig van die man voor haar. Sy merk weer die ferm mond, die reguit swart wenkbroue en die donker hare wat so netjies gekam is. Ondanks sy koel, ongenaakbare houding lyk hy besonder aantreklik in sy wit oorjas. Of is sy houding deel van sy aantreklikheid? wonder sy nou.
Ná ’n rukkie stoot hy die dokumente opsy, skroef sy vulpen se doppie vas en kyk na haar.
“Ja, Dokter?”
Die bruusk stem waarsku haar dat sy tyd beperk is, en koel antwoord sy: “Ek het nie vanmiddag pasiënte of huisbesoek nie en het gedink ek kan maar dadelik met die plaasritte begin.”
Hugo antwoord nie dadelik nie en ongemaklik wonder sy wat die fronsie op sy gesig beteken. Dan sê hy: “Dokter Roux het die een besoek geneem – hy is reeds weg. Oom Joppie van Zyl se seun het vanoggend van die perd afgeval en hy is nog steeds bewusteloos. Ek het gedink ek sal self die ander twee besoeke doen – die plase is nie ver van mekaar af nie – maar ek het nou net gehoor ek moet dalk nog vanmiddag ’n galblaasoperasie doen. Die pasiënt kom met die drieuurtrein en ek kan nie nou weggaan nie.”
Karin se oë glinster.
“’n Galblaas! Ek sal dit graag wil sien.”
“Ongelukkig is daar die plaasbesoeke,” herinner hy haar droogweg.
“Natuurlik.” Haar stem is weer koel en saaklik. Net ’n klein rukkie in sy geselskap is gewoonlik genoeg om alle warmte en spontaneïteit by haar te laat verdwyn. “As jy my die nodige inligting sal gee, kan ek dadelik gaan.”
“Ek het gedink ek sal self gaan,” herhaal hy tot haar verbasing. “Daar was verlede nag ’n bakleiery op een plaas en dit klink nie na ’n lekker storie nie.”
Sy staar hom koel aan.
“Ek gaan soontoe as dokter, ek lê nie ’n sosiale besoek af nie.”
Hy glimlag effens en sê: “Ek vra om verskoning, dokter De Wet.”
Kortliks verduidelik hy die pad en sy maak ’n paar haastige aantekeninge. Dan vervolg hy: “Daar sal seker ’n paar wonde wees wat toegewerk moet word – sorg maar dat jy alles byderhand het. En as een van die pasiënte hospitaal toe moet kom en jy nie reëlings kan tref vir iemand om hom dorp toe te bring nie, is ek bevrees jy sal hom maar self moet inbring.”
“Natuurlik,” antwoord sy weer, asof dit die natuurlikste ding in die wêreld vir haar is om ’n manspasiënt saam met haar rond te ry.
Toe sy opstaan om te gaan, sê sy: “Daar is nog iets wat ek vanmiddag met dokter Roux wou bespreek het, maar aangesien hy nie hier is nie, kan jy my miskien raad gee.”
Stilswyend wag hy dat sy aangaan. Hy is heeltemal bewus van die feit dat sy gereeld met haar probleme na Isak Roux toe gaan. Dis slegs wanneer Isak nie beskikbaar is of haar nie kan help nie, dat sy na hom toe kom.
“Ek soek ander losies,” vervolg sy toe hy nie antwoord nie. “Ek is nie baie gelukkig by die hotel nie.”
“Daar is geen rede waarom jy in die hotel moet bly as jy nie gelukkig is daar nie,” antwoord hy dadelik. “Het jy ander blyplek in gedagte?”
“Mien sê mevrou Rina Louw sal my neem – ek wou haar juis vanmiddag nog gaan sien het.”
“Tannie Rina?” Hy kyk ’n paar tellings fronsend na haar, dan sê hy: “As tannie Rina bereid is om vir jou losies te gee, hoef jy nie verder te soek nie.”
“Ek is bly om dit te hoor,” sê sy. “Ek sal enige verskil in die onkoste natuurlik self betaal!”
“Ons kan later daaroor gesels,” sê hy, en kop in die lug stap sy ’n paar oomblikke later by die spreekkamer uit.
Hugo Slabbert kyk haar peinsend agterna. Hy dink aan die rit wat vir haar voorlê en hoewel hy spyt is dat die onaangenaamste deel van die werk vandag op haar val, voel hy dat dit in die omstandighede miskien ’n baie goeie ding is.
Dit sal haar eens en vir altyd laat besef dat die werk van ’n algemene praktisyn op ’n dorp soos Doringlaagte nie vir ’n vrou bedoel is nie.