Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit - Страница 9
Hoofstuk 6
ОглавлениеToe Karin en Isak Roux by die spreekkamers aankom, het daar reeds ’n hele aantal pasiënte op hulle gewag.
Oom Japie het die vreemde rooi tweesitplekmotor agterdogtig van die stoep af gade geslaan en ongemaklik op die harde bankie rondgeskuif. Hy voel vanmôre kriewelrig. Sy bors was vannag baie benoud en hy het maar sleg geslaap. Alie se smeergoed was ook op en hy was toe verplig om weer spreekkamers toe te kom. En terwyl hy nou tog hier is, kan hy sommer van ’n veilige afstand af sy nuuskierigheid oor die nuwe dokter bevredig.
Karin het saam met dokter Roux by ’n sydeur ingestap van waar ’n gang reguit na die dokters se spreekkamers lei. Elke vertrek het op sy beurt ’n deur na die wagkamer, maar die dokters kon vryelik kom en gaan sonder om self ooit deur die wagkamer te stap.
Dokter Roux maak ’n deur aan die regterkant oop en staan opsy sodat Karin eerste kan ingaan.
“Dit was dokter Truter se spreekkamer – nou joune,” sê hy.
Die vertrek is ruim en lugtig met ’n groot venster aan die noordekant. Daar is ’n boekrak, half gevul met mediese boeke, ’n groot kiaathoutlessenaar en -stoel, en twee gemakstoele. In die hoek is ’n afskorting waar pasiënte ondersoek word, ’n wasbak en ’n medisynekas. Die blokkieshoutvloer is blink gevryf en daar is ’n vaas met vars rose op die lessenaar.
Daar is ’n klop aan die deur en ’n verpleegster kom binne.
“Dit is Mien de Lange, dokter De Wet,” stel Isak Roux haar bekend. “Mien is ons regterhand. As jy iets wil weet, moet jy haar maar net vra.”
“Hallo, dokter De Wet,” groet Mien en die twee vroue betrag mekaar met wedersydse belangstelling. Karin sien ’n vrou van omtrent vyf-en-dertig jaar met blonde, effens verbleikte hare en helderblou oë. Sy was seker mooi toe sy jonk was, dink Karin, maar nou is haar gesig te skraal en kleurloos en sy gee die indruk dat sy nie gesond is nie. Haar glimlag is egter vriendelik en Karin hou dadelik van haar.
Sy is nog jonk, dink Mien. Jonk en mooi genoeg om sake vir haarself ingewikkeld te maak – veral op ’n dorpie soos Doringlaagte waar mooi, interessante meisies nie so danig volop is nie. Indien sy senuweeagtig is, steek sy dit goed weg, maar Mien voel lus om haar ’n bemoedigende kloppie op die skouer te gee.
“Is Mien ook verantwoordelik vir die mooi rose op my lessenaar?” vra Karin glimlaggend.
Mien knik.
“Hulle is net om welkom te sê. Ons hoop Dokter se tyd hier op Doringlaagte sal gelukkig wees.” Voor Karin kan antwoord, draai sy na dokter Roux en vervolg: “Maar ek het eintlik gekom om vir Dokter ’n boodskap te gee. Lettie Smuts se ma het gebel en gevra Dokter moet asseblief dadelik soontoe kom. Sy is nog net agt maande swanger, maar die bevalling het begin en sy en die vroedvrou is albei bekommerd oor haar toestand. Dit lyk of sy stuipe wil kry.”
“Wanneer het sy gebel?”
“Omtrent twintig minute gelede.”
Isak Roux kyk besorg na Karin.
“Ek sal dadelik moet gaan. Miskien is dit nie so erg nie, dan kom ek gou weer terug. So nie, sal jy en Hugo maar moet klaarkom.”
“Natuurlik, Dokter.”
Mien stap saam met hom uit en fronsend staar Karin na die vaas met rose sonder om hulle raak te sien. ’n Paar oomblikke later is Mien de Lange weer terug in die spreekkamer.
“Dit is Lettie Smuts se eerste kind,” sê sy effens bekommerd vir Karin. “Ek hoop tog nie iets gebeur nie. Sy wag al so lank vir die baba.”
Karin antwoord nie.
Mien gee haar ’n lysie name.
“Hier is drie pasiënte vir jou,” sê sy. “Twee van hulle is ou pasiënte van dokter Truter. Die derde een is ’n jong onderwyseres wat aan die begin van die jaar Doringlaagte toe gekom het. Sy het spesifiek vir jou gevra.”
“Dis bemoedigend,” glimlag Karin.
“Daar sal nog meer wees,” voorspel die verpleegster. “Hulle moet net eers aan die gedagte gewoond raak.”
Karin trek haar baadjie uit, hang dit agter die deur op en trek haar skoon wit oorjas aan en knoop dit toe. Uiterlik kalm neem sy haar plek agter die lessenaar in. Maar die glinstering in die diepblou oë en die sagte kleur op haar wange het haar ware gevoelens aan Mien de Lange se kennersoog verraai.
Die onderwyseres, Lulu Reyneke, was Karin se eerste eie pasiënt op Doringlaagte. Die diagnose was voor die hand liggend: ’n erg ontsteekte keel en ontsteking van die sinusholtes. Karin het haar ’n voorskrif gegee en haar aangeraai om dadelik bed toe te gaan.
“Ek wou nog vanaand gaan dans het,” sê Lulu, maar Karin skud haar kop.
Hulle gesels so ’n bietjie – met drie pasiënte om haar die hele oggend besig te hou, is daar geen haas nie – dan groet Lulu en vertrek.
Karin was besig om haar kaart in te vul toe Mien weer inkom.
“Dokter Slabbert het laat weet hy word opgehou by die hospitaal en weet nie hoe laat hy hier sal wees nie.”
Karin staar haar effens verslae aan.
“En nou?” vra sy. “Wat gebeur nou?”
“Wel, die pasiënte wat liewer hulle eie dokters wil sien, sal moet wag … of huis toe gaan en ’n ander dag weer kom. Die res sal jou moet sien.” Sy glimlag bemoedigend. “Sal ek uitvind wat hulle sê?”
“Asseblief.”
Die oggend was skielik nie meer so rustig nie en Karin se hart klop in haar keel.
Haar volgende pasiënt het ’n versweerde vinger gehad wat sy moes oopsny en behandel en sy was net daarmee klaar toe Mien de Lange met ’n lang lys name en pasiëntkaarte inkom.
“Genoeg pasiënte om jou tot vanmiddag toe besig te hou as daar nie intussen hulp opdaag nie,” sê sy ewe in haar skik.
Effens huiwerig neem Karin die eerste kaart by haar en lees die paar besonderhede oor Maggie Bosman wat daarop aangeteken staan.
“Die Bosmans is taamlik nuut op Doringlaagte,” vul Mien aan. “Haar man is ’n messelaar. Ek wonder of sy weer verwag …”
Karin glimlag.
“Bring maar vir Maggie Bosman in.”
Die oggend verloop vinnig en betreklik voorspoedig. Karin het haar verdiep in haar werk en geleidelik haar senuweeagtigheid verloor. Mien de Lange se pittige opmerkings en intieme kennis van Doringlaagte se mense en hulle kwale het haar taak beslis ook vergemaklik.
Mien het oom Japie, wat vanoggend so half mistroostig in sy hoekie gewag het, al ’n paar keer in die verbystap opgemerk. Hy het heelwat gehoes en omdat hy nie te goed gelyk het nie, het sy later weer na hom toe gestap.
“Oom Japie, jou dokter is nog nie hier nie.”
“Ek weet,” antwoord hy half nors.
“Jy sal miskien nog lank moet wag.”
“Wat daarvan?” brom hy.
“Kom dat dokter De Wet gou vir oom Japie help. Dis tog net medisyne vir die bors wat Oom wil hê, nie waar nie?”
“Ek het ook ’n vrotsige pyn agter my blad,” kla hy. Dis duidelik dat oom Japie nie vanoggend in ’n baie goeie bui is nie en Mien praat maar mooi.
“Kom, Dokter kan dadelik vir oom Japie help.”
Maar hy aarsel nog, onwillig om sy vooroordele so maklik te laat vaar. Aan die ander kant voel hy nie baie lekker nie en wil hy nie sonder medisyne huis toe gaan nie, Om so sonder geselskap hier te sit, is ook maar bra vervelig. Die ander is reeds gehelp, of huis toe. Brommend en ontevrede staan hy uiteindelik op om die verpleegster te volg.
“Net ’n oomblikkie, oom Japie,” keer sy. “Daar is nou iemand by Dokter. Daarna is dit Oom se beurt.”
Vlugtig bestudeer Karin Jacobus Gerhardus Greyling se kaart. ’n Staatspasiënt … drie-en-sewentig jaar oud … ’n lang geskiedenis van borsmoeilikheid … asma, longontsteking … later ook hartmoeilikheid …
“Werk maar liggies met die oubaas,” waarsku Mien. “Hy is een van die ou garde wat nog glo ’n vrou se plek is in die kombuis. Hy kom gewoonlik net medisyne vir homself en sy vrou haal.”
Karin staan op toe oom Japie inkom en stap nader om hom te groet. Met een oogopslag het sy die effens geboë figuur en die netjiese maar armoedige klere waargeneem.
“Môre,” brom haar pasiënt, glad nie geïmponeer deur die nuwe dokter nie.
“Goeiemôre, meneer Greyling,” groet sy saaklik. “Kom sit maar asseblief.”
Die oubaas gaan sit versigtig op die punt van die stoel, sy hande geklem om die kierie tussen sy bene. Agterdog en teësin omring hom soos ’n wolk. Voordat hy egter kan praat, oorweldig ’n hoesbui hom en Karin staan op om hom ’n glas water te gee.
“Dis ’n slegte hoes,” sê sy.
“Dis niks erger as gewoonlik nie,” brom hy. “Ek hoes al jare so.”
Karin het hom die hele tyd noukeurig dopgehou. Daar is ’n effense blos op sy wange, die blou oë is flou en waterig en dit lyk vir haar of hy koorsig kan wees. Saam met die hoes is dit beslis simptome van erger moeilikheid en ondanks Mien se waarskuwing voel sy onwillig om hom met ’n bottel hoesmedisyne huis toe te stuur sonder om hom ook deeglik te ondersoek.
“Dit klink vir my soos ’n nuwe hoes,” sê sy om tyd te wen. “U het seker êrens verkoue opgedoen.”
“So ’n effense verkouetjie,” erken hy ongeduldig. “Ek het gister hout gesaag en die windjie het my seker gevang.”
“Pyn in die bors?” vra sy.
“Nie erger as gewoonlik nie,” skerm hy. “Ek het ’n pyn agter my blad, maar dis seker maar van gister se saagwerk.”
“Heel waarskynlik,” stem Karin in. “Maar ek dink darem ons moet seker maak.”
“Ek wil net medisyne hê,” sê oom Japie beslis. “Medisyne vir die bors en smeergoed vir Alie se jig. Suster sal jou kan sê watter medisyne dokter Herman altyd voorgeskryf het.”
Karin tel haar stetoskoop van die lessenaar af op.
“Ek sal u die medisyne gee, maar ek wil u net gou ondersoek. Trek net u baadjie uit …”
Maar oom Japie het reeds regop gekom, ontsteltenis en diepe verontwaardiging in elke trek van sy gesig te lees.
“Nee, Juffrou, dit doen ek nie!” sê hy en sy blou oë blits vuur. Hy hoor nie die geklop nie en is nie bewus daarvan dat die deur agter hom oopgegaan het nie. “Ek trek my nie voor ’n vreemde vroumens uit nie en laat my ook nie deur ’n vroumens ondersoek nie. Dis teen my beginsels!”
Hugo Slabbert bly ’n oomblik besluiteloos in die deur staan. Hy het die situasie voor hom met een oogopslag ingeneem en ’n onwillige glimlaggie verhelder vlugtig sy gesig. Die prentjie van die verontwaardigde oom Japie, wat besig is om vinnig tru te staan, en die half verleë, half geamuseerde uitdrukking op die gesig van die jong dokter wat stetoskoop in die hand nog agter die lessenaar staan, was selfs vir sy streng selfbeheersing te veel.
Hy het homself egter onmiddellik bedwing en die deur toegemaak en nader gestap.
“Verskoon my, dokter De Wet,” sê hy kalm. “Ek het gedink jy is alleen.” Vir oom Japie vra hy: “Wat makeer, oom Japie?”
“Meneer Greyling laat hom nie deur ’n vroumens ondersoek nie,” antwoord Karin koel, bewus van die blos op haar wange en diep gekrenk dat Hugo Slabbert haar verleentheid moet aanskou.
“Ek wou net medisyne gehad het,” sê oom Japie nors. “Watse ondersoekery is dit?”
Karin neem oom Japie se kaart en hou dit sonder ’n woord na Hugo Slabbert toe uit. Hy kyk ’n paar tellings ondersoekend na haar en daar is nou nie ’n sweem van ’n glimlag op sy gesig nie. Dan neem hy die kaart en sê vir oom Japie: “Kom saam met my, oubaas.”
Die stem is kortaf, gebiedend, en oom Japie volg hom dadelik.
Karin bly alleen agter, vies, verleë en tog terselfdertyd geamuseerd. Dis nie soseer die ou man se houding wat haar ontstel nie – sy kan nogal die snaaksheid daarvan insien – maar die feit dat Hugo Slabbert juis op daardie oomblik moes inkom.
Daar is geen ander pasiënte vir Karin nie en sy wag om te hoor wat nou van haar verwag word.
Mien kom ’n rukkie later in.
“Jammer, maar ek moes dokter Slabbert eers help om ’n pasiënt te verbind.”
“Ek wag maar om te hoor wat die program vir die res van die naweek is.”
“Daar is nie vanmiddag spreekure nie, maar ek weet nie wie môre aan diens is nie. Die dokter wat aan diens is, neem ook die spreekure in die oggend waar.”
“Spreekure op Sondag?” vra Karin verbaas.
“Net omtrent ’n uur – anders is daar die hele dag ’n aanloop by die dokters se huise.”
“Ek sien,” sê Karin. ’n Vry Sondag is blykbaar iets van die verlede.
“Dan is daar nog ’n plaasbesoek wat vanmiddag gedoen moet word. Maar dis die beste om met dokter Slabbert self te praat. Ek weet nie watter reëlings hulle getref het nie.”
“Sal hy nog lank besig wees?”
“Nee, hy is feitlik klaar. ’n Hele paar van sy pasiënte het besluit om nie langer te wag nie.” Sy kyk na Karin en vra nuuskierig: “En oom Japie? Ek het hom tot my verbasing toe by dokter Slabbert aangetref.”
Karin glimlag effens verleë.
“Meneer Greyling het geweier om hom deur ’n vroumens te laat ondersoek.”
Mien lag. “Die oubaas het hom seker morsdood geskrik. Jy moet hom ook nie meneer Greyling noem nie – almal ken hom maar as oom Japie. Maar ek is jammer, dit was my skuld. Ek moes hom nooit na jou toe gebring het nie, maar hy het vir my siekerig gelyk en ek het gedink ons kan hom dalk gou weghelp.”
Karin knik. Sy het nie lus om selfs met Mien oor oom Japie te gesels nie.
“Baie dankie vir al die hulp vandag … en nogmaals dankie vir die rose,” sê sy saggies.
Mien kyk ’n oomblik reguit na haar.
“Ek help jou graag waar ek kan, Dokter,” sê sy vriendelik. “Tot siens dan tot Maandag. Ek sal vir dokter Slabbert sê jy wag vir hom.”
Sy het ’n bondgenoot in Mien, dink Karin toe die verpleegster by die spreekkamer uitstap. Mien het vanoggend uit haar pad gegaan om haar taak so maklik moontlik te maak en sy is dankbaar daarvoor. Sy hou van die vrou met die mooi blou oë en bleek, fynbesnede gesig en hoop hulle sal altyd so goed saamwerk.
Sy trek haar wit oorjas uit, neem haar handsak en haal ’n kam en lipstiffie daaruit. Sy het net weer haar handsak toegemaak toe dokter Slabbert aan die deur klop en inkom.
“Mien sê jy wil my sien.”
Sy stem en houding is koel en saaklik en Karin antwoord op dieselfde toon: “Ek wou net weet wat die reëlings vir die naweek is. Dokter Roux is uitgeroep net nadat ons hier aangekom het en daar was nie tyd om dit met hom te bespreek nie …”
“Sondagoggend se spreekure word om die beurt deur een van ons waargeneem. Ek is dié naweek aan diens. Afgesien van persoonlike oproepe is jy die res van die naweek los.”
“Suster sê daar is nog ’n plaasbesoek wat vandag gedoen moet word. Kan ek dit nie doen nie?”
Hy aarsel, dan sê hy: “Ek het van Isak verstaan julle gaan vanmiddag saam tennis speel.”
Karin voel haar wange word warm.
“Ek het in die eerste instansie hierheen gekom om te werk en nie om tennis te speel nie, Dokter,” herinner sy hom beleef.
“Ons sien almal uit na Saterdagmiddae,” sê Hugo Slabbert droogweg. “Ek het self gehoop om vanmiddag gholf te gaan speel.”
Die blos op Karin se wange word dieper, maar sy staan haar man.
“Ek sal dit graag doen,” herhaal sy. “As jy so gaaf sal wees om my die besonderhede te gee …”
Maar Hugo skud sy kop.
“Ek dink tog ek moet liewer self ry,” sê hy en sy stem is weer koel. “Die plaas is baie afgesonder en jy ken nog nie die distrik nie. Van Maandag af sal jy ’n oorvloed plaasbesoeke hê – rus maar nog vandag.”
Karin antwoord nie, maar hy kan sien sy is teleurgesteld. Half ergerlik, half geamuseerd oor haar koppigheid kyk hy na haar, dan sê hy kortaf: “Nou goed, ek sal ’n kompromis met jou tref. Ek gaan speel gholf, jy kan gaan tennis speel as jy lus het, en vyfuur kom laai ek jou op, dan ry jy saam met my uit plaas toe.”
Karin se hart klop skielik in haar keel en sy weet nie wat om te sê nie.
“Dis nie ’n noodgeval nie,” vervolg hy, asof hy dink dat dit die rede is waarom sy aarsel. “Die kind is blykbaar al die hele week siek.”
Dit sal kinderagtig wees om nou beswaar te maak en Karin aanvaar die uitnodiging.
“Dis dan afgespreek,” sê hy. “Ek kry jou vyfuur by die hotel.” Waarskuwend vervolg hy: “As jy nie vyfuur reg is nie, ry ek sonder jou. Ek kan nie wag nie.”
“Ek sal reg wees,” sê sy koel.
Hy draai om om weg te stap, dan draai hy weer terug. “Ek is jammer jy moes die eerste oggend alleen hier regstaan. Ek moes ’n bloedoortapping gee en kon die pasiënt nie dadelik los nie.”
“Met Mien se hulp het dit heel voorspoedig gegaan,” sê sy styf.
“Ek wil ook om verskoning vra vir oom Japie. Ek hoop nie dit het jou ontstel nie.”
“Hoegenaamd nie,” sê sy en haar glimlag is heuningsoet. “Mans se vooroordele is nie ’n vreemde verskynsel vir ’n vrou wat die medisyne as beroep gekies het nie.” Hy kyk na haar, maar hy antwoord nie, en half vererg draai sy van hom af weg en sê: “Hy het vir my koorsig gelyk. Ek het gevoel ek kan hom nie net met ’n bottel medisyne huis toe stuur nie.”
Hy grinnik effens, maar haar rug is half na hom gekeer en sy sien dit nie.
“Hy was ’n bietjie koorsig,” erken hy. “Ek het hom gesê om dadelik bed toe te gaan of ek stuur hom hospitaal toe. Dis al dreigement wat enige uitwerking op hom het. Miskien kan jy dit in die toekoms onthou.”
Sy antwoord nie en hy groet en gaan terug na sy spreekkamer toe.
“Nog ’n rissie ook daarby,” mymer hy en dis allesbehalwe met genoeë dat hy aan die volgende drie maande dink.
In dokter Truter se spreekkamer het Karin haar handsak en voorskrifboekie opgetel en in haar handsak gesit.
“Ek sal hulle wys,” sê sy vir haarself toe sy uitstap. “Ek sal hulle wys.”