Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit - Страница 5
Hoofstuk 2
ОглавлениеDie afskeidspartytjie wat Isak Roux en sy vrou vir die Truters gegee het, was ’n klinkende sukses. Baie mense het gekom om hulle ’n voorspoedige reis toe te wens en meer as een keer die aand is Herman Truter getref deur hulle spontane en opregte waardering vir sy werk. Die foute wat hy begaan het, het hulle blykbaar vergeet; net die goeie en mooi dinge word onthou. Dat sy sukses ook aan sy vrou te danke is, erken hy geredelik. Die lot van ’n dokter se vrou is nie altyd maklik nie, maar sy het hom al die jare getrou bygestaan en hy is dankbaar dat hulle die vakansie saam kan gaan geniet.
Daar is die aand dikwels half ernstig, half skertsend na die nuwe dokter verwys en een van sy boesemvriende het voorspel dat die praktyk met die nuwe trekpleister vanjaar fenomenale groei sal beleef. Hy het die tergery glimlaggend aangehoor, maar geweier om enige verdere inligting oor die nuwe dokter te verskaf.
Hy was bly om te sien dat Hugo die partytjie blykbaar terdeë geniet. Sy aantreklike jong vennoot was vanaand in ’n buitengewoon opgewekte bui en meer as een meisie se hart het seker vinniger geklop by die gedagte dat Hugo dalk in haar belangstel.
Hy was nog altyd oortuig daarvan dat sy jong kollega eendag ’n meisie sal ontmoet wat hom sy bitterheid en vooroordeel sal laat vergeet – en daar was ’n tyd toe hy gehoop dit sal Elizabeth wees. Maar hoewel sy en Hugo goeie vriende geword het, was daar nooit sprake van ’n dieper verhouding tussen hulle nie. En hy weet dit was nie weens ’n gebrek aan belangstelling van Elizabeth se kant af nie.
Nou begin hy twyfel of die wonderwerk ooit sal geskied.
Ook Elizabeth se gedagtes het kort-kort na haar pa se jong vennoot gedwaal. Hugo kyk skielik in haar rigting en betrap haar blik op hom. Sy glimlag effens en hy glimlag terug, en ’n paar oomblikke later voeg hy hom by hulle groepie. Hy neem haar aan haar arm en trek haar so ’n entjie van die ander af weg.
“Ons twee het nog nie eens kans gehad om te gesels nie,” sê hy. “En dis al amper weer tyd om huis toe te gaan.”
“Wie se skuld is dit?” vra sy kalm.
“Seker myne,” erken hy. “Maar ek was darem nog die hele tyd van plan om jou te kom groet.”
“Ek waardeer die gedagte,” sê sy liggies.
“Moenie sarkasties wees nie – dit pas jou nie. Ek wou ook nog vir jou sê dit lyk of die liefde met jou akkordeer. Ek het jou nog nooit so mooi soos vanaand sien lyk nie.”
Met ongeveinsde verbasing kyk sy na hom.
“Ek kan my eie ore nie glo nie!” sê sy. “Maar dankie vir die kompliment.” Sagter, tergend vervolg sy: “Die liefde akkordeer met die meeste vrouens – en met die meeste mans ook. Waarom probeer jy dit nie ’n slag nie?”
Vinnig, ondersoekend kyk hy na haar.
“Kom ons gesels liewers oor iets waarin ons albei belangstel.”
“Dis jy wat die eerste van liefde gepraat het,” herinner sy hom. “Maar ek wil jou nie verveel nie. Sê my, wat dink jy van my pa se plan om ’n vrouedokter na Doringlaagte in te voer?”
Dadelik verander sy gesig.
“Ek dink daar is vanaand al genoeg oor die onderwerp gepraat,” antwoord hy styf.
“Ek het geweet dit sal nie jou goedkeuring wegdra nie,” sê sy ondeund.
Eers dink sy hy gaan kwaad word. Hy kyk ’n paar tellings fronsend na haar, dan glimlag hy skielik.
“Waarom sou dit nie my goedkeuring wegdra nie?”
“Om welbekende redes. Jy weet tog self wat jou reputasie is, Hugo.”
“Wat is my reputasie?”
Sy kyk hom nuuskierig aan. Hugo is vanaand in ’n besonder toegeeflike luim. Maar voor sy kan antwoord, kom die hospitaal se matrone, Ralie Vermeulen, en ’n jong verpleegstertjie, Kitty Erasmus, by hulle staan. Die matrone is ’n mooi, donker vrou van omtrent dertig jaar. Sy is kort en stewig gebou en gee die indruk dat sy ’n wakker en bekwame persoon is. Sy het ’n jaar gelede Doringlaagte toe gekom en hoewel sy nie baie gewild onder die verpleegsters is nie, hou die dokters van haar. Hulle sê die hospitaalroetine het nog nooit so glad geloop soos nou nie. Sy was altyd vriendelik teenoor Elizabeth, maar Elizabeth het dikwels die gevoel gekry sy hou nie van haar nie.
“Ons kom net groet,” sê Ralie Vermeulen glimlaggend. “Dit word tyd dat ons huis toe gaan.”
Elizabeth kyk op haar horlosie en sien dis reeds halfelf.
“Die aand het verbygevlieg,” sê sy. “Het jy die partytjie geniet, Kitty?”
“Dit was heerlik, dankie. Ek het die hele aand net gewens dit was ek wat so lekker vakansie kon gaan hou.”
“Jou beurt sal ook nog kom,” glimlag Elizabeth. Sy en Kitty het saam hier op Doringlaagte skoolgegaan en al die jare goeie vriendinne gebly.
“Ons is nie almal ewe gelukkig nie,” sê Ralie Vermeulen speels vir Elizabeth. “Jy moet maar vir ons minderbevoorregtes alles kom vertel as jy terugkom. Ek hoop die rus doen dokter Herman goed. Ná al die jare verdien hy ’n lekker lang vakansie.”
Sy bedoel natuurlik ek en Mamma verdien dit nie, dink Elizabeth, maar sy bedank die matrone ewe stemmig. Ook sy is vanaand in ’n besonder toegeeflike bui!
Hugo draai na matrone Vermeulen en sê: “Ek moet nog ’n draai by die hospitaal gaan maak. Wil jy en Kitty nie sommer saam met my ry nie?”
“Dankie, dit sal baie gaaf wees, dokter Slabbert,” antwoord sy sonder aarseling. “Dokter Roux het gesê hy sal ons terugneem, maar as jy in elk geval hospitaal toe moet gaan …”
“Ek moet gaan,” verseker hy haar koel. “Dit sal nie moeite wees nie.”
Die man kan by tye so ongeërg klink, dink Elizabeth. Dis asof dit geen verskil aan hom maak of hulle ry en of hulle bly nie – wat seker ook die geval is. As Hugo net één maal verlief kon raak, behoorlik verlief kon raak, en liefs op ’n meisie wat nie eens na hom wil kyk nie, sal hy miskien ook mens word. Maar as hy die dag verlief raak, sal dit seker op ’n masjien soos matrone Vermeulen wees, met sy emosies deeglik onder beheer. En of Hugo daarvan bewus is of nie, Ralie Vermeulen is besig om haar web vir hom te spin.
Hulle gesels hiervan en daarvan totdat Kitty, wat die meeste van die tyd in stilte na hulle geluister het, impulsief vir Hugo sê: “Ons was almal so verbaas om te hoor die nuwe dokter is ’n vrou. Het Dokter haar al ontmoet?”
Elizabeth hou haar asem op.
“Nog nie,” antwoord Hugo koel. “Maar ons nuuskierigheid sal seker gou bevredig word.”
Kitty bloos verleë, bewus van die matrone se bestraffende blik.
“Dis maar net menslik om nuuskierig te wees,” sê Elizabeth liggies, maar Hugo maak of hy haar nie hoor nie. Sy vriendelikheid het verdwyn; hy is skielik weer die koel, saaklike dokter.
“Tot siens, Elizabeth,” sê hy en steek sy hand na haar toe uit. “Geniet die vakansie.”
Dan verdwyn hy tussen die gaste saam met die matrone en ’n blosende Kitty.
“En waaroor het jy en Hugo so druk staan en gesels?” vra Arrie du Randt langs Elizabeth. Arrie boer in die distrik en hy en Boet is boesemvriende.
“Sommer hiervan en daarvan,” glimlag sy.
“Sluit hiervan en daarvan die nuwe dokter in?” vra hy nuuskierig.
“En waarom stel jy in die nuwe dokter belang, Arrie? ’n Sterk, gesonde kêrel soos jy?” vra sy streng, maar met vonkelende oë.
“Ek kry darem partymaal verkoue,” sê hy pateties.
Elizabeth lag heerlik: “Solank jy net nie jou hart breek nie, Arrie..”
“Dink jy daar is gevaar voor?” vra hy gretig. “Ek bedoel, as ’n man nou geïnteresseerd is in die vrou en nie in die dokter nie. Kan … kan jy nie vir my ’n idee gee wat om te verwag nie?”
Sy skud haar kop glimlaggend.
“Ek het nie die vaagste benul nie. Sy is nog jonk, dis al wat ek weet.”
“Wat sê jou pa?”
“My pa was in haar getuigskrifte geïnteresseerd, nie in die kleur van haar oë nie,” antwoord sy gemaak streng.
“Dan sal ek maar geduldig moet wag,” sê Arrie. “Jammer sy is nie veearts nie, nè – dan kon ek haar al om die ander dag op Oupossie gehad het. Maar toe maar, ek sal ’n plan maak.”
“Arrie, jy praat nou sommer groot!”
“Ja, dis waar,” erken hy. “Dis die gedagte aan ’n nuwe gesig hier op ons ou dorpie wat my so opgewonde maak. Jy weet, ek word nie jonger nie. Dis tyd dat ek aan die toekoms begin dink.”
“Hier is genoeg oulike meisies op Doringlaagte om van te kies.”
“Oulike meisies, ja, maar niemand wat ou Arrie se hart vinniger laat klop nie.”
“Jy het te uitsoekerig geword. Dis reeds ’n teken van gevorderde jare!”
Later stap sy en Arrie na haar ouers toe sodat hy van hulle afskeid kan neem. Herman Truter sit sy arm om sy dogter en kyk glimlaggend af na haar.
“En toe, was dit lekker om weer al die ou vriende te sien?”
“Dit was baie lekker. Ek dink net dokter Karin de Wet se ore tuit seker vanaand.”
“Dit wil ek glo. Dit het beslis die klomp weer iets gegee om oor te gesels. Ek het gewonder: was dit waaroor jy en Hugo netnou gesels het?”
Sy glimlag ondeund.
“Ek het probeer, maar Hugo het weggeskram. Dit het darem nie gelyk of my tergery hom juis ontstel nie.” Haar pa antwoord nie en ná ’n rukkie vervolg sy: “Ek sal nou nie graag my vakansie daarvoor wil prysgee nie, maar ek sou tog baie graag die volgende paar weke hier op Doringlaagte wou wees.”