Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit - Страница 15

Hoofstuk 12

Оглавление

Toe Karin teen halftien nog nie van haar plaasbesoeke teruggekeer het nie, het Rina Louw erg bekommerd begin voel. Sy gee nie om as die kind laat saans en selfs snags alleen op die dorp rondry nie, maar die gedagte dat die meisie stokalleen êrens in die distrik is, maak haar onrustig. Karin is ’n dokter, maar sy is ook ’n vrou, en ’n vrou behoort dit nie alleen in die nag op die donker paaie te waag nie.

Sy stap weer na Karin se sitkamer waar Susan besig is om haar huiswerk te doen. Karin het voorgestel dat hulle twee saans as sy uit is in haar sitkamer kom sit. Daar het altyd saans ’n heerlike vuur gebrand en een van hulle was dan byderhand as die telefoon miskien lui. Rina Louw het gewoonlik saans vroeg gaan slaap, maar Susan het graag nog gebly. Sy het Karin aanbid en het dit geniet om in haar sitkamer te sit en werk en miskien ’n bietjie met haar te gesels as sy terugkom. Dan het sy ewe tevrede haar boeke weggepak en bed toe gegaan.

Sy het Karin se voorwaarde dat sy nie ná tienuur mag bly nie tensy sy baie dringende werk het, ook getrou nagekom.

Sy kyk op toe haar ouma by die vertrek inkom.

“Ek gaan nou maar bed toe, my kind. As Dokter kom voor jy gaan slaap – daar is lekker sop op die stoof en die ketel kook amper. Miskien wil sy liewer warm sjokolade hê; die arme kind is seker verkluim.”

“Sy was nog nooit so laat nie, was sy, Ouma?” vra Susan en haar ouma hoor die onrus in haar stem. Skielik luister Susan gespanne, dan sê sy: “Hier is nou ’n motor – miskien is dit Dokter.”

In stilte luister hulle na die voetstappe op die gruispaadjie. Dan skud Susan haar kop. Nog voor die persoon aan die deur klop, het sy geweet dis nie dokter De Wet nie.

Sy maak die deur oop en haar oë rek effens toe sy sien dis dokter Slabbert wat buite staan.

“Goeienaand, Susan. Is dokter De Wet hier?”

“Goeienaand, Dokter. Nee, sy het nog nie van haar plaasbesoeke teruggekom nie. Maar kom in, Ouma is ook hier.”

Hy kom binne en sy vra hom effens senuweeagtig om te sit. Rina Louw groet hom vriendelik. Sy sal nie gou vergeet hoe goed hy vir haar en Susan was tydens haar man se siekte en afsterwe nie.

“Kan ek vir Dokter ’n koppie koffie maak?” bied sy aan. “Die water kook – dit sal nie moeite wees nie.”

“Dankie, dit sal lekker wees.” Ook hy het ’n lang, moeilike dag agter die rug en hy gaan sit in die diep stoel voor die vuur en stoot sy bene behaaglik voor hom uit. Hy wonder wat Karin so ophou. Hy het verwag om haar tuis te kry, maar sy sal seker nou enige oomblik opdaag.

Hy kyk belangstellend om hom rond. Dis die eerste keer dat hy hier kom en hy dink dat sy die vertrek baie gesellig ingerig het. Hy hou van die warm wynrooi gordyne en die helder kussings wat op die divan gestapel is. Dan kyk hy na die meisie wat by Karin se lessenaar sit en werk. Hoewel sy maak of sy verdiep is in haar werk kom hy agter dat sy nie op haar gemak is nie en hy is nie verbaas toe sy ná ’n paar minute haar boeke bymekaarsit nie.

“Dokter De Wet het gevra ek moet saans as sy uit is, hier sit,” verduidelik sy effens verleë toe sy opstaan. “Ek neem boodskappe vir haar.”

Die telefoon lui skielik en sy tel dit dadelik op. Sy luister ’n rukkie, dan sê sy beleefd: “Dokter is nog nie terug nie, Mevrou … Ja, ek het dit neergeskryf en gesê dis dringend … Ja, sy sal die boodskap kry.”

Toe sy die telefoon neersit, kyk sy na Hugo.

“Dis die derde keer dat die vrou bel. Moet ek dit nou weer neerskryf?”

“Skryf dit maar weer neer, dan weet dokter De Wet dis dringend.”

Susan skryf die boodskap neer, dan sê sy saggies: “Dokter was nog nooit so laat nie.”

Hugo antwoord nie en sy sê nag en verdwyn. ’n Rukkie later bring Rina Louw koffie en beskuit en terwyl hy dit drink, gesels hulle hiervan en daarvan. Maar die geselsery wil maar nie vlot nie en toe hy klaar is, maak tannie Rina verskoning en sê sy gaan bed toe.

“Ek sal nog ’n paar minute wag,” sê dokter Slabbert. “Dan moet ek ook gaan.”

“En as sy nie kom nie?” vra tannie Rina en dit klink soos ’n beskuldiging vir hom.

“Sy sal kom,” antwoord hy koel. “Sy is natuurlik êrens opgehou.”

“Ek hoop so. Maar die rondryery so alleen in die nag is nie goed nie.”

Sy sê vir hom nag en dan is Hugo alleen met sy gedagtes voor die vuur.

Toe Karin kwart oor tien nog nie terug is nie, staan hy op en stap na die lessenaar toe. Vlugtig kyk hy na die boodskappe op die skryfblok, dan skeur hy die vel papier af en steek dit in sy sak. Op die skoon vel skryf hy haastig ’n paar reëls, onderstreep die woord “dringend” en teken sy naam. Voor hy gaan, sit hy ’n groterige stomp op die vuur, dan trek hy die deur saggies agter hom toe.

Hugo was elfuur terug in sy woonstel. Hy bel Karin ingeval sy teruggekom het terwyl hy uit was op huisbesoek, maar daar is nie antwoord nie. Hy gaan bad en gaan lê later. Hy kan nie dink waar sy so lank kan draai nie, maar hy weier om regtig bekommerd te raak. Dan verrys die beeld van ’n skraal jong meisie – heelwat skraler as toe sy hier gekom het – met donker hare en oë so blou soos koringblomme voor sy geestesoog en met ’n gedempte vloek gooi hy skielik die komberse van hom af, trek sy kamerjas en pantoffels aan en stap telefoon toe.

Hy skakel die polisie en verduidelik kortliks wat gebeur het. Hulle belowe hulle sal dadelik met al hulle manne in die distrik in verbinding tree en hom bel sodra hulle iets hoor.

Meer kan hy nie doen nie. Hy gaan terug bed toe, maar sy onrus neem nou vinnig toe en hy staan later maar op en maak vir homself koffie. Halfeen bel hy Karin weer, maar daar is nie antwoord nie. Traag kruip die minute verby en die gedagte aan alles wat met haar kon gebeur het, beroof hom van sy laaste bietjie gemoedsrus. Hy het net besluit om aan te trek en self na haar te gaan soek, toe die telefoon skielik lui.

Hy antwoord dadelik. Dis die polisiesersant wat bel om te sê dat Karin by een van hulle buitestasies aangekom het. Sy het verdwaal en hulle gee net vir haar koffie, dan sal hulle haar tot in die grootpad begelei. Sy behoort so oor ’n driekwartier tuis te wees.

“Dankie, Sersant.” Sy verligting is oneindig groot.

“Alles reg, Dokter, ons help graag. Bly ons het haar gekry. Sy kon die hele nag daar tussen die kliprantjies rondgedwaal het – en miskien nog verkluim het van die koue.”

Hugo bedank hom weer en lui af. Verdwaal! Hy het nooit ernstig aan so ’n moontlikheid gedink nie. Ná byna twee maande op Doringlaagte waarin sy elke week minstens vier, vyf plaasbesoeke gehad het, behoort sy darem nie meer te verdwaal nie. Maar dis natuurlik tipies van ’n vroumens! Dan versag die streng lyne van sy mond en hy wonder wat Karin vir haarself te sê sal hê. Baie verlig klim hy weer in die bed, skakel die lig af en vyf minute later is hy vas aan die slaap.

Dit is halftwee toe Karin saggies die buitedeur oopstoot en so geluidloos soos ’n skaduwee by haar sitkamer inglip. Die vuur is dood, maar die vertrek is nog warm en sy is onuitspreeklik dankbaar om uiteindelik tuis te wees.

Die ondervinding was ’n nagmerrie, maar dis verby en sy wil nie nou verder daaraan dink nie. Nou begeer sy net een ding: slaap, slaap en nog slaap. Sy voel as sy nou haar oë toemaak, maak sy hulle nooit weer oop nie. Sy skakel die lig aan en skrik toe daar saggies aan haar deur geklop word. Dit is tannie Rina wat in ’n lang flennienagrok en ’n groot grys wolserp om haar skouers in die deur staan.

“My kind!” sê sy. “Ek was al so bekommerd oor jou. Waar was jy?”

“Ek het verdwaal, Tannie.” Meer kan sy nie uitkry nie, maar meer is ook nie nodig nie.

“Klim dadelik in die bed. Ek bring vir jou iets om te drink.”

Outomaties stap Karin eers na die lessenaar en trek die skryfblok nader. Daar is net een boodskap, van Hugo Slabbert.

“Bel my sodra jy inkom. Dringend.” Die “dringend” is onderstreep.

Sy kyk besluiteloos na die nota. Hy verwag tog seker nie sy moet hom nou bel nie. Maar die onderstreepte “dringend” laat haar tog onrustig voel en half huiwerig trek sy die telefoon nader.

“Ja?” vra hy kortaf en sy weet dat hy geslaap het.

“Ek is jammer, ek wou jou nie wakker maak nie. Maar jou boodskap sê dis dringend.”

“Dit was dringend. Ek het intussen gehoor dat jy onder polisiebegeleiding huis toe kom, maar ek is bly jy het gebel. Daar is nie môreoggend operasies nie – slaap dus maar vir ’n verandering laat. Goeienag.”

“Onder polisiebegeleiding!” Dit is tipies van Hugo Slabbert om dit so te stel. Maar hy het nie kwaad geklink nie. Sy stem was onverwags warm en diep, en sy wonder of hy ’n bietjie bekommerd oor haar was. Maar die gedagte dat hy met die polisie in verbinding was, laat haar ’n bietjie verleë voel.

Sy het die volgende oggend tot halfnege geslaap. Selfs nadat sy wakker geskrik het, het sy nog ’n tyd lank in die bed gelê, ongewoon traag om op te staan. In die daglig, met die son wat so warm by haar venster inskyn, kon sy glimlag oor haar ervaring die vorige nag, maar diep in haar hart het sy erken dat sy nie graag gou weer so ’n ondervinding wil deurmaak nie.

Voor sy spreekkamers toe kon gaan, moes sy eers by die hospitaal aangaan om ’n pasiënt te besoek. Tot haar verbasing is Hugo se motor nog daar. Hy doen sy hospitaalrondtes gewoonlik vroeg in die oggend en tensy hy operasies het, is hy teen hierdie tyd lankal weer weg. En hy het tog self vir haar gesê hy opereer nie vandag nie.

Vinnig stap sy die hospitaaltrap op. Matrone Vermeulen is nie in haar kantoor nie, maar die stafsuster bied aan om Karin te vergesel. Dit gebeur maar selde dat die matrone Karin op haar rondte vergesel – daarvoor is dokter De Wet nie belangrik genoeg nie. Maar sy is sonder uitsondering op haar pos as Hugo Slabbert daar kom.

“Het julle vanoggend operasies gehad, Staf?” vra Karin terwyl hulle die gang afstap.

“Twee – albei dokter Silbur se pasiënte. Hy het self die blindederm gedoen, maar dokter Slabbert het die buikoperasie gedoen.”

Afgesien van die Truter-Slabbert-Roux-vennootskap is dokter Silbur die enigste ander dokter met ’n praktyk op Doringlaagte. Sy pasiënte is meestal uit die meer gegoede Engelse gemeenskap, en hoewel Karin nooit die indruk kry dat hy hom doodwerk nie, maak hy blykbaar ’n goeie bestaan. Hy bestuur nie self sy groot swart motor nie, maar word oral deur ’n chauffeur rondgery. Hy opereer nie dikwels nie – hoogstens een of twee keer per week – en dan doen hy net kleiner operasies. As sake ernstig word, roep hy gewoonlik dokter Truter of Hugo Slabbert se hulp in of stuur die pasiënte stad toe waar hulle deur ’n spesialis behandel kan word.

Karin het hom een of twee keer met operasies geassisteer en is getref deur die kontras tussen sy tydsame, presiese bewegings en Hugo Slabbert se vlugheid. Maar hy is ’n aangename, hoflike man wat blykbaar tevrede is met sy kleiner prestasies – solank dit plek en tyd in sy lewe laat vir dinge soos gholf en brug, waarin hy hartstogtelik belangstel.

Sy loop dokter Viljoen, die huisdokter, in die kinderafdeling raak.

“Jy het vanoggend iets interessants gemis,” sê hy vir haar. Hy vertel haar kortliks van Hugo se operasie en van die ontsaglike gewas wat hy uit ’n vrou se buik gehaal het. “So iets het ek in my dag des lewens nog nie gesien nie – en ek dink ook nie jy nie,” vervolg hy.

Sy glimlag oor sy entoesiasme, maar voel tog dat sy iets gemis het.

Toe sy terugkom, staan die twee dokters en die matrone in die voorportaal en gesels. Hulle groet en Karin is bewus van Hugo se blik op haar.

“Ek hoop jy het heeltemal herstel van jou onaangename ervaring laas nag, Dokter,” sê hy beleefd. Tot haar ergernis voel Karin hoe sy bloos.

“Ek het heeltemal herstel, dankie,” antwoord sy. Glimlaggend verduidelik sy aan dokter Silbur en die matrone wat nuuskierig toekyk: “Ek het laas nag in die distrik verdwaal.”

“Dit was seker nie so ’n aangename ondervinding nie,” sê dokter Silbur besorgd.

“Nee, dit was nie,” erken sy liggies.

Die matrone sê niks nie en haar donker oë verraai ook nie haar gedagtes nie. Dis net wat ’n mens van ’n stadsdoktertjie kan verwag, dink sy, om hier op die plaaspaaie te kom verdwaal. Die feit dat Karin vanoggend ondanks haar wedervaringe nog so jeugdig en mooi lyk, het seker iets met haar gevoel van wrewel te doen. Die mooi ferm mond is helderrooi en die skaduwees onder die diepblou oë laat hulle nog groter en donkerder lyk. Die grys baadjiepak pas haar volmaak en die syserpie om haar nek is die presiese blou van haar oë. Sy lyk soos ’n modepop, nie soos ’n dokter nie, dink sy vererg toe Karin saam met die twee mans wegstap.

Dokter Silbur stap saam met Karin buitentoe. “Ek is bly ek het jou hier raakgeloop,” sê hy toe hulle by haar motor kom. “Ek het jou gister probeer bel, maar jy was reeds weg. Daar is iets wat ek graag met jou wil bespreek en ek het gewonder of jy nie vanaand by ons wil kom eet nie.”

Karin kyk onseker na hom.

“Ek sou graag wou kom, maar ek kan nie op die oomblik afsprake maak nie. Ek sal moontlik teen etenstyd terug wees, maar ek kan ongelukkig nie daarop reken nie.”

“Ons eet nooit saans voor halfagt nie,” sê hy. “Ons sal tot agtuur wag. En moenie aantrek nie, daar sal nie ander gaste wees nie.”

Wat kan die “iets” wees wat hy met haar wil bespreek? wonder Karin nuuskierig toe sy wegry. Sy hoop haar werk sal haar toelaat om vanaand by die Silburs te gaan eet.

By die spreekkamers wag Hugo reeds vir haar. Hy maak nie weer melding van haar avontuur van die vorige nag nie en kort en saaklik bespreek hulle ’n paar pasiënte en die besoeke wat hy die vorige aand vir haar gedoen het.

Eers toe hulle klaar is, sê sy met ’n half verleë glimlaggie: “Ekskuus vir die moleste van gisteraand. Ek hoop nie dit het groot ongerief vir jou veroorsaak nie.”

Hy glimlag onverwags.

“Ek het nie gedink jy sal nou nog verdwaal nie.”

“Ek het dit nie met opset gedoen nie.”

“Ek neem so aan. Maar ek het genoeg bekommernisse – sorg dat dit nie weer gebeur nie.”

“Ja, Dokter,” antwoord sy gedwee.

Die res van die dag het vinnig verloop. Drie-uur die middag, net toe sy met haar laaste pasiënt klaar is en aan plaasbesoeke begin dink, kom Hugo weer na haar toe.

“Ek het vergeet om vir jou te sê dat ek Donderdag stad toe moet gaan om getuienis in ’n moordsaak af te lê. Ek sal baie vroeg die oggend moet ry – dis byna honderd myl – en ek weet nie hoe laat ek die middag sal terugkom nie; dit hang alles af van hoe laat die saak verhoor word. Ek is bevrees jy sal die dag maar alleen hier moet regkom.”

“Ek sal dit geniet,” antwoord sy ewe parmantig en daar is ’n ondeunde glinstering in die mooi blou oë.

“Ek hoop nie jy sal rede hê om jou woorde te berou nie,” sê Hugo, maar hy glimlag. Dan vervolg hy weer saaklik: “Daar is tot dusver twee plaasbesoeke. Hulle is nie ver van mekaar nie en ek sal albei doen. Soek vir jou ’n maat, dan gaan speel jy ’n paar stelle tennis.”

Daar is ’n klein stiltetjie voor Karin saggies sê: “Ek neem aan dis net ’n voorstel!”

Hy grinnik.

“Nee, dis doktersbevele! En sorg dat jy hulle nakom!”

Toe Mien ’n paar minute later inkom, sê sy terwyl sy met haar duim in die rigting van Hugo se spreekkamer wys: “Dit word heeltemal menslik! Toe ek netnou by hom kom, staan hy sowaar en fluit.”

Karin het niks daarop te sê gehad nie.

Sy is halfagt die aand by dokter Silbur se huis en het selfs tyd gehad om te bad en een van haar mooiste rokke aan te trek.

Die Silburs het in ’n groot dubbelverdiepinghuis nie ver van die Rouxs nie gewoon. Die vertrekke was ruim en deftig gemeubileer.

Mevrou Silbur, ’n lang, donker vrou van omtrent veertig, het ’n swart fluweelrok aangehad. Sy was aanvanklik ’n bietjie teruggetrokke en omdat sy nie Afrikaans kon praat nie, praat hulle later deurgaans Engels.

Die tafel was pragtig gedek, die ete heerlik, die bediening perfek, en dit was duidelik dat die Silburs die kuns van lekker lewe verstaan het en daagliks uitleef. Karin kon skaars glo dat sy maar net vier-en-twintig uur gelede in ’n armoedige plaaswerker se huis om die lewe van ’n jong vrou en haar kind geworstel het.

Sy het die telefoon een keer ver weg hoor lui, maar ’n huishulp het geantwoord en indien dit ’n boodskap vir die dokter was, sou hy seker eers later daarvan in kennis gestel word.

Daar was geen haas nie en hulle het gesels oor die opera, oor boeke, oor alles behalwe siek mense en hulle kwale. Dit was eers later toe hulle weer in die sitkamer voor die vuur sit en dokter Silbur rustig ’n sigaar sit en rook dat hy by die eintlike rede vir die ete-uitnodiging kom.

“Ek het by Hugo gehoor dat jy hulle tot einde Junie help. Ek weet nie of jy al enige ander planne gemaak het nie, maar ek wil graag vir jou ’n aanbod maak.”

In stilte wag Karin. Sy wonder of Hugo vanoggend vir dokter Silbur gesê het dat sy net tot Junie aanbly. Dit beteken hy het reeds besluit sy sal gaan en wag maar net die tyd af om haar te sê. Sy voel meteens ontsteld en vererg, en ook bitter teleurgesteld. Hy het gesê hy sal haar ’n kans gee … maar hy het die hele tyd reeds klaar besluit.

Heeltemal onbewus van die gevoelens wat sy woorde by die jong meisie wakker gemaak het, vervolg dokter Silbur tydsaam: “Ek en my vrou wil graag Augustusmaand vir drie maande oorsee gaan en ek sal met graagte my praktyk in jou hande laat.” Hy kyk ondersoekend na Karin, maar sy weet nie dadelik wat om te sê nie en hy vervolg: “Ek sal jou dieselfde salaris betaal wat jy nou kry en die werk sal baie makliker wees. Daar sal min plaasbesoeke wees – ek het net ’n paar pasiënte in die distrik – en jy sal die gebruik van my motor en bestuurder hê.”

Met opregte waardering antwoord Karin: “Dit is baie vriendelik van jou, Dokter – ek waardeer die vertroue wat jy in my stel. Ek het nog nie besluit wat ek gaan doen nie en ek sal graag oor jou aanbod wil dink.”

“Doen dit gerus,” sê dokter Silbur hartlik. “Ek dink ook al geruime tyd daaraan om ’n jong vennoot te kry. Dalk slaag die proefneming so goed dat ons later aan ’n vennootskap kan dink.”

Karin is daar weg met die gevoel dat sy droom. Maar van al die gedagtes wat deur haar brein gewarrel het, was sy die sterkste bewus van haar wrewel en diepe teleurstelling in Hugo Slabbert.

Tryna du Toit-omnibus 3

Подняться наверх