Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit - Страница 7
Hoofstuk 4
ОглавлениеDaar word liggies aan die deur geklop en sonder om op ’n antwoord te wag, kom iemand die huis binne.
“Mag ek maar inkom?” vra ’n lang donkerkopman in die deur van die sitkamer. Met ’n vreemde gevoel van opwinding herken Karin die man wat sy laat die middag by die garage gesien het.
“Kom in, Hugo,” nooi Marie Roux vriendelik terwyl sy van die rusbank af opstaan. “Ek het begin wonder of jy nog hier sal aankom. Jy is net betyds vir ’n lekker koppie koffie. Maar kom, laat ek jou eers aan dokter De Wet voorstel. Dit is dokter Slabbert, Karin.”
“Goeienaand, dokter Slabbert.”
“Goeienaand, dokter De Wet.” Hugo Slabbert se stem is bruusk maar nie onvriendelik nie, maar daar is nie ’n flikkering van herkenning in die koel bruin oë nie. Sy handdruk is sterk, sy blik deurdringend. Hy kyk net ’n oomblik af in haar oë, maar sy voel dat hy in dié een oomblik alles – van haar kortgeknipte swart hare en rooi lippe tot haar hoëhakskoene – raaksien.
“Sit, Hugo,” nooi mevrou Roux. “Kom jy nou eers terug?”
Hy gaan sit in een van die diep stoele en strek sy lang bene gemaklik voor hom uit.
“Ek was net gou by die hospitaal aan. Is Isak nog nie tuis nie?”
“Ek verwag hom enige oomblik. Het jy al iets geëet, of kan ek vir jou spek en eiers bak?”
“Koffie en beskuit sal gaaf wees, dankie, Marie.”
“Gesels julle twee dan ’n bietjie, ek gaan net gou die koffie maak.”
’n Rukkie nadat sy uit is, is daar stilte in die vertrek. Dan draai Hugo Slabbert na Karin en sê beleefd: “Ek hoop jy het ’n voorspoedige reis gehad?”
“Baie voorspoedig, dankie. Dit was ’n lieflike dag om te ry.”
Weer kom daar ’n stilte wat sy vasbeslote is om nie te verbreek nie. Intussen wonder sy of hy haar regtig nie herken het nie, of maar net uit pure moedswilligheid voorgee hy het nie. Die stilte wil net ongemaklik word toe hy skielik opstaan en na ’n groot vaas krisante toe stap wat op ’n lae tafeltjie staan. Liggies, byna liefkosend raak hy aan die blomme en buk vorentoe om aan hulle te ruik.
“Is Marie se krisante nie pragtig nie?” sê hy.
“Hulle is,” sê sy.
“Het dokter Roux darem vanaand kans gehad om jou ’n bietjie in te lig oor die werk?” vra hy onverwags.
“Ja dankie. Die res sal ek seker maar algaande moet leer.”
Hy kyk ’n oomblik nuuskierig na haar, dan vra hy kortaf: “Wat is die eintlike rede hoekom jy Doringlaagte toe gekom het?”
Sy staar hom koel aan.
“Is dit bloot ’n retoriese vraag, Dokter?”
“Glad nie. Ek wil baie graag die antwoord hoor.”
“Glo jy dat ’n vrou ook eerlik in die medisyne kan belangstel, dat sy ook kan voel sy wil graag iets doen om mense se pyn en ellende te verlig?”
“Ek glo dit wel.”
“Glo jy dat ’n vrou wat dieselfde opleiding as ’n man gekry het, die reg het om skouer aan skouer saam met hom te werk?”
“Sy mag die reg hê, maar sy sal dit in die meeste gevalle nie kan doen nie.”
“Waarom nie?”
“Omdat sy ’n vrou is.”
“Dit is tog nie ’n argument nie.”
“Dit is ’n feit wat nie weggeredeneer kan word nie. Maar sê my, het jy nie van die werk in die hospitaal gehou nie?”
Karin voel sy begin warm word, maar sy laat dit nie blyk nie en haar stem bly kalm en onverstoord: “Ek het baie daarvan gehou, veral aan die begin, maar ek was tog nie heeltemal gelukkig nie. Die werk was te eng; daar was te veel roetinewerk. Ek het nooit die pasiënte as mense leer ken nie – daar was nooit tyd daarvoor nie. Ek was vier maande lank in die kinderafdeling, maar dit was die langste wat ek ooit in een afdeling was.”
“Dis goeie ondervinding vir ’n onervare jong dokter.”
“Dit was goeie ondervinding, ja, en ek erken dis ’n noodsaaklike deel van ’n dokter se opleiding. Maar die werk het my later nie meer heeltemal bevredig nie. Miskien sal ek weer eendag daarnatoe teruggaan, maar dan sal dit wees omdat ek self oortuig is dat ek daar die grootste bydrae kan lewer.”
“Stel jy in enige spesifieke rigting belang?”
“Dit is juis die moeilikheid – ek stel in alles belang: verloskunde, pediatrie, chirurgie.” Sy kyk na hom waar hy met sy skouers teen die kaggel aangeleun staan en wonder of sy hom iets van haar innerlike en opregte oortuiging laat verstaan het. Sy oë is stip op haar gevestig, maar sy gesig bly koel en onpersoonlik en sy weet sy het nie tot hom deurgedring nie. Half vererg, half onverskillig haal sy haar skouers op en sê: “Ek is jammer. Ek het nie bedoel om ’n toespraak af te steek nie.”
“Dit was my skuld. Ek het die argument aan die gang gesit.”
Sy kyk effens verbaas na hom en sien dat hy glimlag. Maar sy glimlag nie terug nie. Sy is vies vir haarself omdat sy weer onnodig opgewonde geraak het – argumente met die mansgeslag sal haar nêrens bring nie. Slegs feite sal ’n man oortuig. Veral ’n man soos Hugo Slabbert, wat reeds bevooroordeeld is teen die vroulike geslag … ’n Man soos hy sal skepties staan teenoor enige vrou wat dink dat sy sowel ’n dokter as ’n vrou kan wees.
Dokter Roux was so vriendelik teenoor haar. Hy het haar laat voel dat hulle haar hier nodig het en dat sy op gelyke voet saam met hulle kom werk. Hugo se houding het haar vir ’n oomblik uit die veld geslaan. Hy is nie openlik vyandig nie – hy dink nie so baie van sy vyand nie! – maar op subtiele wyse laat hy haar voel dat sy ’n indringer is en dat hy nie veel vertroue het in haar vermoë om die werk hier op Doringlaagte te doen nie.
Maar sy sal hom wys. Sy sal hom wys dat sy vir niemand terugstaan wat werk en uithouvermoë betref nie.
Hy het weer op en af in die vertrek begin stap en sy wonder of hy altyd so rusteloos is. Telkens lei sy voete hom tot vlak by die vaas met krisante, wat hy dan ’n paar oomblikke in stilte aanskou, en hy bly ook ’n lang ruk voor ’n skildery van Maggie Laubser staan. Dit is seker die helder, warm kleure van die skildery wat hom trek, dink Karin. Hy stel heelwat meer belang in die blomme en die skildery as in die nuwe dokter. Sy is in die eerste paar oomblikke geweeg … en blykbaar te lig bevind.
Sy is bly toe Marie Roux met die koffie en beskuit inkom.
“Wat dwaal jy weer rond soos ’n broeishen wat nes soek, Hugo?” vra Marie toe sy die koffie op die tafel neersit. “Bekommerd oor ’n pasiënt?”
Hy beantwoord nie haar vraag nie.
“Ek het net jou krisante bewonder,” sê hy terwyl hy nader stap. Marie kyk na hom asof sy hom nie glo nie, maar sy sê niks verder nie.
Sy was net besig om koffie in te skink toe haar man daar aankom.
“Hallo, Hugo,” groet hy joviaal. “Van môre af sal dit darem seker beter gaan. Was die rit Leeufontein toe werklik so dringend noodsaaklik soos hulle gesê het?”
“Dié keer was dit werklik dringend. Swart koffie vir my, asseblief, Marie, met twee lepeltjies suiker.” Hugo neem die koffie by haar en vervolg: “Ek het die pasiënt saam met my ingebring. Ek sal vanaand – of vannag – nog moet opereer.”
’n Oomblik is daar stilte in die vertrek en Marie kyk hom effens verslae aan. Karin voel ’n skielike prikkeling van opwinding. Dan was dit die gedagte aan die operasie wat voorlê wat Hugo Slabbert so rusteloos in die vertrek laat rondstap het. Sy wonder of sy toegelaat sal word om die operasie by te woon en miskien nog te help.
“Wat makeer?” vra dokter Roux fronsend.
“Die bywoner se vrou. Derde baba. Agt maande swanger. Placenta previa. Sy het een ernstige bloeding gehad en ek is ’n tweede te wagte. Ek was bang dat dit op pad al sou gebeur. Daar is nog ’n kans om sowel die ma as die kind te red, maar ons sal dadelik moet opereer.”
“Keisersnee?”
Hugo knik.
“Ek wil graag hê jy moet die narkose gee. Die vrou se toestand is kritiek en ek kan nie bekostig om enigiets te waag nie.”
“Natuurlik,” antwoord dokter Roux dadelik. “Hoe laat?”
“So gou moontlik – Suster is reeds besig om alles reg te kry.”
Die twee mans vergeet vir ’n oomblik van Karin en Marie terwyl hulle die geval bespreek. Gretig luister Karin na alles wat hulle sê, maar sy waag dit nie om ’n woord te sê nie. Placenta previa – die ontydige losgaan van die nageboorte en die ernstige bloeding wat daarmee gepaard gaan – is een van die komplikasies van swangerskap wat selfs ’n ervare dokter die skrik op die lyf kan jaag en daar moet sonder versuim opgetree word.
Toe die mans ’n paar minute later opstaan, draai Isak Roux na Karin en sê: “Is jy reg om te gaan, Dokter? Ek sal jou sommer op pad na die hospitaal by die hotel aflaai.”
“Ek sou baie liewer saam hospitaal toe wou gaan,” sê sy dadelik.
“Maar natuurlik. Weet jy, Hugo, ek het vir ’n oomblik vergeet ons het ’n nuwe vennoot.”
“Ek het gedink dokter De Wet is moeg ná die lang reis, anders sou ek dit self voorgestel het. Kom gerus.” Hy glimlag effens. “Dit sal ’n goeie inlywing wees. Ek ry ook maar dadelik. Dis miskien nodig om die pasiënt eers ’n bloedoortapping te gee.”
“Ons is op jou hakke.”
Hugo bedank sy gasvrou vir die koffie en beskuit en vertrek. ’n Paar minute later ry Isak Roux se motor ook deur die hospitaalhekke en hou voor die verligte ingang stil.
Karin is jammer sy het nie kans gehad het om ’n ander rok aan te trek en van haar hoëhakskoene ontslae te raak nie, maar vanaand was dit ’n geval van bly by die huis of kom soos jy is.
Sy het nie juis tyd om op die buitekant van die gebou te let nie, maar kyk met belangstelling om haar rond toe hulle ingaan. Onder in die gebou is dit stil, maar op die eerste verdieping waar die operasieteater is, is daar oral tekens van bedrywigheid.
Dokter Slabbert is reeds besig om sy hande en arms te skrop en alles is blykbaar gereed vir die operasie.
“Skrop ook maar asseblief, dokter De Wet,” sê Hugo Slabbert tot haar verbasing. “Miskien kry ons jou hulp nodig.”
Sy gehoorsaam dadelik en ’n jong verpleegster met ’n sproetgesig en effens rooierige hare bring vir haar en dokter Roux elk ’n oorjas en masker. Sy kyk nuuskierig na Karin en Karin glimlag vriendelik.
“Dit is Kitty, dokter De Wet,” stel Isak Roux hulle voor. “Sy het omgedop die eerste keer toe sy in die teater moes help en ons het haar later sommer aan haar voete uitgesleep en in die gang laat lê.”
“Haai, Dokter,” protesteer Kitty. “Ek het die dag net effens snaaks gevoel en toe jaag dokter Slabbert my by die teater uit.”
“Ek weet,” sê hy goedig, “maar ek moes julle darem ordentlik voorstel. Die een wat daar met die instrumente werskaf, is suster Vorster, een van ons steunpilare totdat sy ook muisneste gekry het.”
Die meisie kyk op en glimlag vlugtig, dan gaan sy weer aan met haar werk. Sy is ouer as Kitty, seker by die dertig, dink Karin. Sy het ’n stil, byna kleurlose gesig met mooi donker oë en ’n sagte, sensitiewe mond.
Dokter Slabbert spoel sy hande in ontsmettingsmiddel af en wag met druppende hande dat die suster hom help om sy handskoene aan te trek. Fronsend gaan sy blik deur die teater asof hy wil seker maak dat alles reg is.
Die pasiënt word presies elfuur deur die jong huisdokter ingestoot en dokter Roux is dadelik byderhand. Die vrou is doodsbleek en haar asemhaling is gejaagd. Onrustig soek haar oë rond, tot dokter Slabbert na haar toe stap en gerusstellend oor haar buk.
“Dokter … my kinders … ek is so bang …” fluister sy deur bloedlose lippe en daar is angs in haar oë.
“Alles sal regkom, Mevrou,” sê hy en sy stem is diep en warm en vertroostend. “Dit sal nou nie meer lank wees nie.”
Haar lippe bewe en sy sluit skielik haar oë en draai haar kop weg. Hy knik vir dokter Roux om die narkose toe te dien en gesels intussen gerusstellend met die pasiënt.
Dit duur nie lank voor die vrou aan die slaap raak nie. Sy word versigtig op die operasietafel getel en dokter Roux neem posisie in by haar kop. Sy hand is op haar pols, sy oë stip op die pasiënt en daar is ’n bekommerde frons tussen sy winkbroue.
Dokter Slabbert staan nader en onmiddellik is elkeen op sy plek.
’n Kort bevel, ’n uitgestrekte hand waarop die eerste blink instrument geplaas word, en die drama om lewe en dood, wat hom so dikwels al in hierdie klein teater afgespeel het, het weer eens begin.
Karin volg die operasie aandagtig. Dit gaan vinnig en vlot. Af en toe kom daar ’n kort bevel van die gemaskerde chirurg en elke keer word presies die regte instrument in sy uitgestrekte hand geplaas.
’n Skielike waarskuwing van die narkotiseur en almal se oë gaan bekommerd na die pasiënt se gesig.
“Dokter De Wet, staan dokter Roux by,” kom die kortaf bevel van Hugo Slabbert en onmiddellik is Karin by. Sy help dokter Roux om die pasiënt ’n inspuiting te gee, maar daar is nie reaksie nie. Sy kan geen polsslag voel nie.
“Suurstof?” vra sy en Isak Roux knik.
Die onbekende jong dokter is nou ook by om te help en die rooikopverpleegster moet ’n rukkie lelik bontstaan. Ná nog ’n paar angsvolle minute voel Karin weer die flou, onseker gefladder van die pols onder haar vingers en sy slaak ’n sug van verligting. Maar sy weet die gevaar is nog geensins verby nie.
Onverpoos gaan die operasie voort en dis vir Karin asof hulle al ure lank in die wit teater besig is. Die pasiënt se polsslag is darem weer effens sterker en gereelder en Karin voel sy kan vryeliker asemhaal.
Dan hou dokter Slabbert die slap liggaampie van die baba in sy hande en kyk vlugtig rond.
Sy blik val op Karin en hy aarsel ’n oomblik voor hy sê: “Dokter De Wet, kyk solank wat jy kan doen. Dokter Viljoen kan jou help.”
Sy neem die kind uit sy hande en hy buk dadelik weer oor die tafel. Karin draai die baba in ’n verwarmde kombersie toe en gaan saam met dokter Viljoen na die klein kamertjie langsaan.
Hulle spook byna ’n kwartier lank tevergeefs om lewe in die slap liggaampie te bring en ’n gevoel van moedeloosheid begin Karin oorweldig. Dis die heel eerste taak wat haar opgelê is. Gaan sy daarin misluk?
As suurstof nie wil help nie, wat dan?
“Sy kleur is ’n bietjie beter,” sê dokter Viljoen skielik. Sy het self opgemerk dat die kind nie meer so blou is nie.
“Dankie, Dokter,” hoor sy ’n koel stem langs haar sê. “Ek sal nou oorneem.”
Sy staan opsy en dokter Slabbert neem haar plek in. Enkele minute later kom die geluid waarop sy so hoopvol en so tevergeefs gewag het: die eerste, sagte geskree van die pasgebore seuntjie.
Met blink, gelukkige oë kyk sy na die jong dokter wat haar gehelp het en hy glimlag. Hulle het hulle werk goed gedoen. Dit het slegs ’n paar minute langer geneem om die slap liggaampie in ’n lewende wesentjie te verander.
’n Rukkie later drink hulle almal saam koffie in die personeelkamer – almal behalwe die rooikopverpleegster wat by die pasiënt sit. Die vrou se toestand is nog kritiek en dit sal seker nog ’n paar dae so bly, maar tensy daar nuwe komplikasies intree, is daar goeie hoop op herstel.
Karin was bly toe dokter Roux voorstel dat hulle gaan slaap. Sy het ’n lang dag agter die rug en wil graag uitgerus wees as sy môre haar nuwe werk begin. En dan glimlag sy: die werk het reeds begin. Môre sal maar net ’n voortsetting van die nag se werk wees.
“Goeienag, dokter De Wet,” sê dokter Slabbert toe sy groet om huis toe te gaan. Hy lyk moeg, dink Karin, maar die bruin oë is nog net so koel en onpersoonlik soos altyd.
“Ek is bly ek kon by wees,” sê sy.
’n Vlugtige glimlaggie verjaag die vermoeienis van sy gesig.
“In die omstandighede was dit ’n goeie ding dat jy saamgekom het. Dankie vir die hulp.”
Dit was al: dankie vir die hulp. Tog was daar ’n warm gevoel in haar hart en sy was skielik glad nie meer so moeg nie.
Sy en Isak Roux stap saam weg, maar toe hulle by die trap kom, val dit hom by dat hy iets vergeet het.
“Stap maar solank af,” sê hy. “Ek kom dadelik.”
Stadig, half ingedagte stap Karin by die trap af. Toe sy in die groot ingangsportaal kom, sien sy die man en twee dogtertjies wat in die een hoek op ’n bank sit. Die jongste dogtertjie, ’n kind van omtrent twee jaar, is vas aan die slaap in sy arms, die ander enetjie, ’n jaar of twee ouer, sit styf teen hom aangedruk terwyl sy met groot, onrustige oë om haar staar. Die groepie lyk so eensaam en verlate dat Karin innig jammer voel vir hulle. Sou dit die vrou se man en kinders wees?
Sy stap vinnig na hulle toe en haar stem is sag en gerusstellend: “Goeienaand, Meneer. Wag u vir iemand?”
Hy sluk voor hy praat. “My vrou … Dokter Slabbert sou ’n noodoperasie op haar doen. Weet u … weet u of die operasie al verby is?”
“Die operasie is verby en u vrou slaap nog van die narkose. Haar toestand is so goed soos dit in die omstandighede kan wees.”
“En die kind?”
“Die seuntjie lewe en lê vas aan die slaap in sy mammie se kamer.”
Die man se gesig vertrek ’n oomblik, dan beheer hy homself.
“Dis wonderlike nuus,” sê hy en probeer glimlag.
“Weet dokter Slabbert u is hier?” vra Karin fronsend, maar die man skud sy kop.
“Ek kon dit nie alleen daar op die plaas uithou nie en het besluit om agterna te kom. Ek het die klokkie gelui,” vervolg hy effens verskonend, “maar niemand het gekom nie. Ek het gedink ek sal maar hier wag tot alles verby is. U sê … u sê dit gaan goed met my vrou?”
“Nog nie goed nie. Dit was ’n moeilike operasie en sy is baie swak. Maar kom saam met my, dan neem ek u na dokter Slabbert toe.”
Die man sê egter hy sal liewer die volgende oggend terugkom. Noudat hy weet alles het goed afgeloop, sal hy liewer die dogtertjies in die bed gaan sit.
Uiteindelik is Karin weer terug in haar hotelkamer. Sy trek gou uit en sit die lig af. Gedagtes maal in haar kop, maar sy is te moeg om die baie gewaarwordings van die dag te ontleed. Sy slaap.