Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit - Страница 4

Hoofstuk 1

Оглавление

Die spreekkamers van dokters Truter, Slabbert en Roux is feitlik in die middel van die dorp geleë. Dit is ’n siersteengebou, omring deur hoë bloekombome en met groen grasperke aan weerskante van ’n smal sementpaadjie wat van die straat na die gebou loop. Gedurende die week, en veral Saterdae as die boere van die distrik dorp toe kom, is daar ’n gedurige toeloop van mense. Op die voorstoep waar die mans graag vergader, tref jy dikwels ’n interessante groepie mense bymekaar aan.

Hier wag hulle saam: die oues en die jonges, die armes en die rykes, sommige met kwalik bedekte ongeduld oor die tyd wat verlore gaan, ander meer geduldig maar met onrus in hul harte omdat hulle nie weet wat die besoek aan die dokter gaan oplewer nie.

Daar is die gereelde besoekers soos oom Japie Blinkwater en sy tydgenote, vol van die kwale wat met die ouderdom kom. Vir hulle verloop die lewe teen ’n rustiger pas en is tyd nie meer so belangrik nie, en vir oom Japie is die weeklikse kuier op die spreekkamers se stoep iets waarna hy gretig uitsien. Daar ontmoet hy mense met wie hy normaalweg nie in aanraking kom nie; daar gesels hulle oor hulle siektes, oor landsake en boerdery; daar kry oom Japie allerhande interessante nuusbrokkies wat hy vir tant Alie huis toe kan neem om haar ook weer ’n bietjie op te beur. Ja-nee, hy sien uit na Saterdagoggend se besoek aan die dokter.

Op hierdie sonnige Saterdagoggend teen die einde van Maart wag dokter Truter se pasiënte reeds van vroeg af op hom. Dokter Slabbert en dokter Roux se motors staan al langer as ’n uur langs die gebou geparkeer, maar van dokter Truter is daar nog geen teken nie.

“Dokter is vanmôre laat,” merk oom Japie op toe daar weer ’n stiltetjie tussen die mans op die stoep kom en hy suig ingedagte aan sy kromsteelpyp. Hy dink daaraan dat dit dokter Truter se laaste oggend by die spreekkamers is – vir byna ’n jaar altans – en voel onrustig. Hy sal dokter Herman mis. Dokter Herman ken hom en sy kwale soos geen ander dokter dit sal kan ken nie.

Wat dokter Herman ook besiel om op sy leeftyd – hy is nie meer vandag se kind nie – daar in die vreemde te gaan rondloop, weet hy nie.

“Daar is hy nou,” sê iemand toe die dokter se bekende groen motor vinnig die straat afkom, met ’n wye draai verby die gebou ry en in die agterplaas tot stilstand kom.

Dokter Truter is reeds besig om sy hande te was toe die verpleegster met haar skryfblok by sy spreekkamer inkom. Herman Truter is die oudste van die drie vennote, ’n lang, forsgeboude man met ’n vriendelike, innemende gesig. In teenstelling met sy byna wit hare is sy gesig nog jonk en die blou oë glinster dikwels van pret en lewenslus.

Hy groet die verpleegster vriendelik maar effens ingedagte, en terwyl hy die skoon wit baadjie aantrek wat sy vir hom reghou, kyk hy na die lysie pasiënte wat sy vir hom gegee het.

“Ons kan maar dadelik begin,” sê hy, sonder om soos gewoonlik te verduidelik waarom hy vertraag is. “Stuur maar dadelik vir mevrou Klopper in.”

Mien de Lange weet hy is haastig en verspil nie tyd met onnodige vrae nie. Die res van die oggend verloop vinnig en dis reeds byna eenuur toe oom Japie aan die beurt kom. Terwyl die oubaas versigtig in die groot stoel voor die lessenaar gaan sit, dink Herman Truter dat sy laaste oggend nie behoorlik afgerond sou wees as oom Japie nie ook daar was nie. Hy het hom in die verlede dikwels gevra om nie Saterdae te kom wanneer daar altyd meer pasiënte as op gewone weeksdae is nie. Oom Japie woon op die dorp; dit maak nie vir hom saak op watter dag van die week hy sy medisyne kom haal nie. Maar oom Japie, met regte oumenskoppigheid, het hom nie so maklik van stryk laat bring nie.

Hy luister na oom Japie se klagtes en vandag is die rympie langer as gewoonlik, asof oom Japie daaraan dink dat daar nie volgende week ’n begrypende dokter Herman sal wees by wie hy sy nood sal kan kla nie.

Dokter Truter ondersoek hom deeglik en gee hom die medisyne vir sy bors en hart waarsonder oom Japie nie meer kan klaarkom nie.

“Die bors is op die oomblik’n bietjie beter, maar as die asma erger word, moet jy maar weer vir ’n paar inspuitings kom,” sê hy toe hulle klaar is. “En pas jou dié winter goed op – jy onthou hoe lank die brongitis jou verlede jaar platgetrek het.”

“Ek sal oppas, Dokter,” belowe oom Japie en sy stem bewe. Sy oë is skielik dof. Noudat die oomblik van afskeid aangebreek het, wonder hy of hy nog hier sal wees as dokter Herman weer terugkom. “En na wie toe sal ek nou gaan as ek raad en medisyne nodig het, Dokter?” vra hy pateties.

Daar is onverwags ’n knop in Herman Truter se keel. Hy weet wat in oom Japie se gedagtes omgaan. As mens reeds sewentig is en jou hart is nie meer so sterk nie, vlieg jou gedagtes maklik na wat voor in die pad – miskien nog nader as wat jy dink – op jou wag.

Hy sit sy hand gerusstellend op oom Japie se skraal skouer. “Dokter Roux sal jou help. Ek sal self met hom praat.”

“Wat van dokter Slabbert?”

“Jy kan na dokter Slabbert toe ook gaan as jy verkies,” sê hy geduldig. Oom Japie sal gou genoeg uitvind hy en Hugo Slabbert sit nie langs dieselfde vuur nie.

Die oubaas dink ’n paar oomblikke na.

“Miskien sal dokter Roux tog beter wees. Of wat van die nuwe dokter wat in Dokter se plek kom?”

Dokter Truter aarsel ’n oomblik, dan glimlag hy. Die nuus sal gou genoeg deur die dorp versprei en intussen kan hy oom Japie iets anders as sy kwale gee om oor te dink terwyl hy huis toe stap.

“Die nuwe dokter wat in my plek kom, is ’n vrou,” sê hy kalm, maar hy hou die oubaas fyn dop om sy reaksie te sien. “Dokter Karin de Wet.”

“’n Vrou!” Daar is ongeloof en groot teësin op oom Japie se gesig te lees. “’n Vroumensdokter! Maar waarom maak Dokter dan nou so?” vra hy verontwaardig.

“Sy is ’n vrou, maar sy is ook ’n baie bekwame dokter,” sê dokter Truter glimlaggend. “Toe maar, oom Japie, een van die dae is ek weer terug, dan gesels ons twee weer lekker. Sê groete vir tant Alie en pas julle twee maar goed op.”

Hy kyk oom Japie nadenkend agterna. Die oubaas is nie die enigste een wat so sterk oor ’n vrouedokter voel nie. Sy vennoot Hugo Slabbert was byna net so verontwaardig soos oom Japie toe hy van die nuwe verwikkeling hoor. Maar daar was geen ander uitweg nie. Die man wat maande gelede belowe het om in sy plek waar te neem terwyl hy oorsee is, het op die nippertjie ’n ander pos aanvaar en hy het met die hande in die hare gesit. Hy het dadelik begin soek, maar kon op sulke kort kennisgewing nêrens ’n geskikte plaasvervanger vind nie – niemand behalwe dokter Karin de Wet nie. ’n Kollega in die stad het haar aanbeveel en omdat hy verleë was, het hy gereël om haar te gaan sien.

Hy het stad toe gegaan en die meisie ontmoet. Sy was jonk en aantreklik met haar donker hare en wakker blou oë en het nie soos ’n dokter gelyk nie. Maar haar getuigskrifte was goed en die superintendent van die hospitaal het met lof van haar werk gepraat. Nog teen sy sin, maar deur omstandighede daartoe gedwing, het hy die meisie gevra of sy gewillig sou wees om vir ’n proeftyd van drie maande Doringlaagte toe te kom en sy het gretig ingestem. Hy het haar gesê dat hy die saak eers met sy vennote wil bespreek en dat hy haar dadelik van hulle besluit sal laat weet.

Met ’n effens onrustige gemoed het hy die middag weer in die pad geval. Hy was nie heeltemal gelukkig nie, grotendeels omdat hy nie geweet het wat sy vennote – en veral Hugo Slabbert – se reaksie sou wees nie. Dis nie dat hulle bevooroordeeld is teen vrouedokters nie. Maar vir ’n jong meisie om as algemene praktisyn na ’n plattelandse dorpie soos Doringlaagte te kom … nee, dit sou nie deug nie. Sy sou fisiek nie sterk genoeg wees vir die werk nie, om maar net een beswaar te noem. En tog was sy so gretig om te kom.

Hy het haar probeer waarsku. Hy het haar vertel van die eensame plaasritte, dikwels in die nag; hy het haar vertel dat sy baie hard sou moes werk, dat sy nie vaste ure sou hê soos by die hospitaal nie. Maar sy wou nie na sy waarskuwings luister nie. Sy het glimlaggend gesê sy is jonk en sterk en nie bang vir harde werk nie, en dat sy graag platteland toe wil gaan. Die drie maande op Doringlaagte sou waardevolle ondervinding wees en haar die kans gee om self te oordeel of sy ’n algemene praktyk op die platteland bo die meer gespesialiseerde werk in ’n groot, moderne hospitaal verkies.

Isak Roux het die nuus redelik kalm aanvaar, maar Hugo was vies en ontsteld.

“Wat wil ons met ’n vroumens hier maak?” het hy ontevrede gevra. “Het ons nie genoeg moeilikheid nie? En wie moet haar deel van die werk doen?”

“Moet nou nie onbillik wees nie, Hugo. Sy sal dit self doen. Haar getuigskrifte is goed, die superintendent het met lof van haar gepraat …”

“Seker maar net omdat hy van haar ontslae wil raak,” het Hugo hom nors in die rede geval.

Hy het sy jong kollega stilswyend aangekyk, toe het hy bestraffend gesê: “In die stad voel hulle blykbaar anders oor die saak. Daar veroordeel hulle nie ’n dokter bloot omdat sy ’n vrou is nie. Hulle gee haar eers ’n kans om te wys wat sy kan doen.”

“Ek veroordeel haar nie. Dis net dat die werk hier baie dae te veel is vir drie gesonde mans.”

“Ek weet, Hugo. Ek weet dit maar te goed. Maar jy weet ook hoe ek die afgelope tien dae rondgeval het om iemand in my plek te kry. Ek gaan oor ’n paar dae weg en dan sal julle nie tyd hê om verder te soek nie. Isak wil Meimaand met vakansie gaan en jy weet net so goed soos ek jy kan nie die werk alleen behartig nie.”

“En jy dink ek sal dit met die hulp van ’n onervare meisiekind kan doen?”

“Ek hoop so.” Sy stem was ferm, want hy moes sowel homself as Hugo oortuig. “Buitendien kom sy ook net vir drie maande. Intussen kan jy en Isak iemand anders soek en kan ek met ’n geruste hart gaan vakansie hou.”

Die frons was nog op Hugo Slabbert se gesig en hy het nie geantwoord nie. Ná ’n rukkie het Herman gesê: “As jy so sterk oor die saak voel, Hugo, sal ek die meisie laat weet dat ons iemand anders gekry het. Ek het jou gesê dis nog nie finaal nie.”

“Hugo is verspot,” het Isak Roux gesê terwyl hy deur toe stap. “’n Halwe eier is beter as ’n leë dop en ek voel ook ons kan nie nee sê net omdat sy ’n vrou is nie. Wat my betref, kan sy gerus kom.”

’n Rukkie nadat hy weg is, was daar stilte in die kamer, toe het Hugo na hom gekyk en effens gegrinnik.

“Ek sal ook nie verder beswaar maak nie,. Drie maande is darem nie so oneindig lank nie … as sy dit so lank hier by ons uithou. En intussen kan ons iemand anders soek, sê jy?”

“Ek laat dit aan jou en Isak oor. Ek het net gevoel ek kan nie weggaan en julle alleen hier los nie – veral nie terwyl Isak Meimaand wil weggaan nie.”

“Ons sal klaarkom – moenie jou verder daaroor bekommer nie,” het Hugo gesê, en daarmee was die saak afgehandel.

Dokter Truter is die volgende halfuur nog druk besig, maar uiteindelik is die laaste pasiënt weg en bly hy alleen agter.

Ná ’n rukkie kom Mien de Lange by sy spreekkamer in.

“Dit was die laaste een,” sê sy glimlaggend en voeg verskonend by: “Ek is jammer daar was vandag so baie, maar hulle wou Dokter almal nog vir oulaas sien. Ek weet nie wat van sommige van hulle sal word terwyl Dokter weg is nie.”

Dokter Truter glimlag effens.

“Daar was ’n tyd toe ek ook gedink het hulle sal nie sonder my kan klaarkom nie,” sê hy. “Nou het ek al geleer dat niemand onmisbaar is nie en ek laat hulle almal met ’n geruste hart in jou en my vennote se hande.”

“Dokter Slabbert is ’n goeie dokter, maar sy pasiënte is nie lief vir hom nie,” sê Mien met die vrymoedigheid van iemand wat al jare lank vir hom werk.

“Sy pasiënte bewonder en respekteer hom,” sê hy half vermanend. “Sy vriende hou van hom en weet hulle kan altyd op hom reken. En as sake hier verkeerd loop terwyl ek weg is of jy het hulp of raad nodig, raai ek jou aan om reguit na dokter Slabbert toe te gaan. En nou kan jy gerus maar huis toe gaan. Dis lank ná etenstyd en jy is seker al dood van die honger. Ek sien jou mos vanaand by dokter Roux-hulle.”

“Ja, ons sal daar wees. En as daar regtig niks verder is wat ek vir Dokter kan doen nie …”

“Daar is niks nie,” herhaal hy vriendelik. “Gaan gerus.”

Hy hoor haar nog ’n rukkie in die wagkamer langsaan werskaf, dan word dit stil in die gebou. Meteens word hy ook haastig om huis toe te gaan. Die besef dat as hy vandag die deur agter hom toetrek, hy nege maande lank, miskien ’n jaar, nie weer die binnekant van sy spreekkamer sal sien nie, maak hom skielik opgewonde. Ná al die jare sal dit inderdaad ’n vreemde ervaring wees.

Sy gedagtes gaan terug na daardie dag byna dertig jaar gelede toe hy as jong geneesheer na Doringlaagte gekom het. Aanvanklik het hy gekom met die bedoeling om slegs ’n jaar of twee hier te praktiseer en dan weer terug stad toe te gaan. Later sou hy dan oorsee gaan om verder te studeer … Dit was byna dertig jaar gelede en dit voel vir hom soos die dag van gister.

Sy drome is nooit verwesenlik nie. ’n Jaar nadat hy op Doringlaagte gekom het, is hy met ’n meisie uit die distrik getroud. Die maande en jare het verbygevlieg en hy het nie meer aan weggaan gedink nie. Sy kinders, ’n seun en ’n dogter, is hier gebore en het hier grootgeword, deel van Doringlaagte. In die dertig jaar het hy self hier vasgegroei en deel van die dorpie en sy mense geword.

Sy praktyk het saam met Doringlaagte gegroei. Vandag is hy ’n welgestelde man; hy het twee dokters wat hom help en hulle kan nog steeds nie elke dag die werk baasraak nie. Hy het die mooi, moderne hospitaal waarvoor hy so lank en so hard geveg het ’n paar jaar gelede aan die noordekant van die dorp sien verrys en geweet dat hy ’n belangrike mylpaal in sy lewe bereik het.

Ja, hy het ’n lang, moeilike skof agter die rug en hy sien reikhalsend uit na die vakansie wat voorlê. En die feit dat sy dogter, Elizabeth, saam met hulle vakansie kan gaan hou, beteken vir hulle baie.

Hy sou Boet ook graag wou saamneem, maar hy is reeds ’n getroude man met ’n gesin. Boet boer op die ou familieplaas, Geluksvlei, waar sy ma grootgeword het. Herman onthou vandag nog hoe teleurgesteld sy skoonouers destyds was toe hulle enigste dogter en die erfgenaam van Geluksvlei op ’n dokter verlief raak en binne enkele maande met hom trou. Die geboorte van ’n kleinseun het egter vir die verlies van ’n dogter vergoed, en Boet het grootgeword met die gedagte dat Geluksvlei eendag aan hom sal behoort.

Van die planne wat hy heimlik vir sy dogter en Hugo Slabbert gekoester het, het nooit iets gekom nie. Elizabeth is verloof aan ’n jong argitek en hulle wil trou sodra sy van die oorsese vakansie af terugkeer. Maar hoewel hy van Hennie hou, sou hy liewer vir Hugo Slabbert as skoonseun wou gehad het.

Ná vier jaar het hy groot bewondering en waardering vir Hugo se werk. Dis danksy Hugo dat hy nou ná al die jare uiteindelik so lank oorsee kan gaan, iets wat hy sy vrou aan die begin van hulle lewe saam belowe het. Hy weet Hugo sal sy plek vol staan terwyl hy weg is.

Nee, met Hugo se werk is daar nie fout te vind nie. Net jammer die man is so antisosiaal. Dis waar wat Mien de Lange sê: ondanks Hugo se bekwaamheid is hy nie baie gewild onder sy pasiënte nie. Sy koel, saaklike houding en die feit dat hy hom in sy vrye tyd so maklik kan onttrek aan die res van die mensdom steek baie mense dwars in die krop. Hugo speel graag gholf, maar jy sal hom selde op ’n partytjie aantref. Sy werk, sy mediese boeke en tydskrifte, sy gholf en sy plateversameling is blykbaar al wat hy nodig het. Hugo het hom self vertel dat hy eenmaal verloof was, maar dat die meisie die verlowing ’n paar weke voor die huwelik verbreek het. Dié een ongelukkige ervaring met die skone geslag was blykbaar genoeg vir Hugo.

Hy skrik toe daar onverwags aan sy deur geklop word. Dis Hugo Slabbert.

“Hugo! Ek dog jy’s lankal weg,” sê hy verbaas. “Het jy vergeet dis Saterdagmiddag?”

“Nee, ek het nie vergeet nie, maar ek was besig. En daar is een of twee goed waaroor ek jou nog wou sien.”

“Praat maar,” sê hy. “Dis seker die laaste kans wat ons sal kry.”

“Dit is,” antwoord Hugo. “Maar ek sal so gou moontlik maak. Eerstens wou ek jou raad vra oor die Pienaar-baba. Ek is nie tevrede met die reaksie op ons behandeling nie en ek begin wonder of ons op die regte spoor is.”

Terwyl hy gesels, wonder dokter Truter hoe die mense ooit kan sê Hugo is hard en ongevoelig. As hulle hom nou kon sien soos hy hier voor hom staan, met die bekommerde plooitjie tussen sy oë, sou hulle verplig wees om van opinie te verander. Maar dis natuurlik Hugo se eie skuld. As Hugo net ’n bietjie moeite wil doen, ’n bietjie spontaner en vriendeliker wil wees, kan hy maklik een van die gewildste mans in die distrik wees. Maar Hugo gee blykbaar nie om wat die mense van hom dink nie en het geen behoefte daaraan om gewild te wees nie.

Toe hulle drie-uur saam by die gebou uitstap, sê dokter Truter vir sy vennoot: “Wel, dis dan dit. Nogal ’n vreemde gedagte dat ek van volgende week af nie meer hier sal wees nie.”

“Ons sal jou mis,” sê Hugo.

“Ek betwyfel dit. Behalwe so af en toe om die vrede te bewaar.” Hugo grinnik effens, maar sê niks nie, en dokter Truter vervolg: “Hugo, ek reken op jou om dokter De Wet te help waar jy kan, veral aan die begin.”

Hugo kyk tersluiks na hom. “Sy sal met die grootste hoflikheid ontvang word.”

“Nie net hoflikheid nie, Hugo. Ook met ’n bietjie vriendelikheid en bedagsaamheid, hoop ek.”

“Omdat sy ’n vrou is?” vra Hugo saggies.

“Omdat sy jonk en vreemd en onervare is. Sy sal swaar genoeg kry, Hugo. Moenie die wêreld vir haar onnodig moeilik maak nie.”

Die jonger man glimlag skeef.

“Ontspan. Sy sal hoflik en … e … bedagsaam behandel word,” belowe hy. Hy steek sy hand in sy sak en haal sy sleutels uit terwyl hy fronsend na dokter Truter kyk. “Maar sy sal darem wragtie ook in haar spoor moet trap.”

Tryna du Toit-omnibus 3

Подняться наверх