Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 10

week 2 . dag 3

Оглавление

God is alwetend

Met trane wat vlak lê, het Marjorie en Adolf Bosman deur die noodeenheid se venster na hul pasgebore seuntjie gekyk. Minder as 24 uur tevore is klein Danie gesond gebore. Intussen het hy egter longinfeksie opgedoen en vir sy lewe geveg. Die dokter se boodskap was kort en kragtig: “As jul baba dit deur die nag maak, is daar hoop, maar die kanse lyk baie skraal.”

“Here, red my kind!” Dit was Marjorie se fluisterstem wat opgeklink het waar sy magteloos met haar hand plat teen die ruit staan. As opgeleide suster het sy die gevaar van haar kind se toestand geken. Beskermend het Adolf sy arm om haar skouers gesit terwyl hulle na die hospitaalkamer terugstap. Marjorie moes gaan rus.

In die kamer het die SMS’e van gemeentelede, vriende en familie ingestroom. Hulle wou laat weet dat hulle saam met die Bosmans vir klein Danie se lewe bid. Weens uitputting het Marjorie en Adolf albei aan die slaap geraak. Toe Marjorie oomblikke later wakker skrik, het sy dadelik aan Adolf geskud wat steeds langs haar bed gesit en slaap het.

’n Vreemde opgewondenheid het in Marjorie gebruis terwyl sy haar droom met Adolf gedeel het. In haar droom het sy van bo af op ’n donker klaskamer afgekyk. ’n Ligkol het op een van die skoolbanke in die klaskamer geval. Terwyl Marjorie nader aan die skoolbank gestap het, kon sy die klein seuntjie met die netjies gekamde hare en ’n brilletjie in sy groen skoolklere sien sit. Hy het kop onderstebo gesit en teken. Toe sy by hom kom, het hy glimlaggend opgekyk en gesê: “Hallo, Mamma! Kom kyk wat ek vir Mamma geteken het.” Op daardie oomblik het Marjorie wakker geskrik. Sy het geweet dat dit ’n boodskap van God was dat hul seuntjie sou oorleef.

Langs die hospitaalbed het Marjorie en Adolf in trane begin om God te dank vir die droom wat Hy haar gegee het. Hulle was nog besig om te bid toe die dokter hulle na die noodeenheid ontbied. Daar gekom, het hy Marjorie en Adolf vertel dat klein Danie se toestand skielik drasties verbeter het en dat hy buite gevaar was.

Vandag is dit 12 jaar later en Danie sit daagliks met sy netjies gekamde hare, brilletjie en donkergroen skoolklere in die skoolbank waarvan Marjorie gedroom het. Elke keer wanneer hy sy ma roep om na sy prentjies te kom kyk, onthou sy opnuut dat God werklik elkeen van ons se toekoms in sy hande hou!

Psalm 139:14-17: “Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!”

God is ALWETEND. Hy het jou geken voordat jy gebore is en ook jou lewenspad vooruit beplan. Kan ek jou uitdaag om vandag sy pad te kies?

Vader God, dankie dat U my toekoms ook vooruit beplan het. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om U elke dag met my lewe trots te maak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Adolf en Marjorie by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх