Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 16

week 4 . dag 1

Оглавление

Buitengewone krag

Wanneer ’n mens begryp dat God in ’n totaal ander dimensie beweeg en funksioneer as waaraan ons beperkte menslike verstand blootgestel is, kom jy tot die besef dat niks Hom beperk nie. Hy beskik oor bonatuurlike krag.

Luister weer na hoe Dawid ons Skepper in Psalm 104:1-5 (Die Bybel vir Almal) beskryf: “My God die Here, U is baie groot. U is die Koning en almal rondom U respekteer U en prys U. Daar is lig rondom U … U ry op die wolke, U loop op die vlerke van die wind. U kies die winde om u boodskappers te wees, die vuurvlamme is u werkers. U het die aarde op sy plek vasgesit, sodat dit nooit sal skud nie.”

Dit is dieselfde God wat vir Moses en die Israeliete die Rooisee oopgemaak het toe die Egiptiese weermag hulle van agter bestorm het. Dit is ook dieselfde God wat die leeus se bekke gesluit het toe Daniël weens sy geloof in God in die leeukuil gegooi is en dit is God wat Sadrag, Mesag en Abednego uit die brandende vuuroond gered het toe hulle geweier het om voor die afgod Baäl te buig. Ook is dit God wat vir Paulus en Silas die tronkdeure oopgemaak het terwyl hulle Hom geloof en geprys het waar hulle in aanhouding was omdat hulle die evangelie van Jesus Christus verkondig het.

God het BUITENGEWONE KRAG en is in staat om op bonatuurlike maniere in te gryp as ons op Hom vertrou. Verkeer jy vandag in ’n situasie waar jy sy buitengewone krag benodig? Gaan jy na Hom daarvoor uitroep?

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх