Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 14

week 3 . dag 3

Оглавление

God is ons beskermer

’n Getuienis van ’n Suid-Afrikaanse man wat die aardbewing in Haiti oorleef het:

Haiti, Sondag 10 Januarie 2010. Die Kaapse sakeman Theo Joubert en ’n paar ander gemeentelede wat in die volgende week êrens heen sou reis, stap vorentoe in die kerk sodat die predikant vir hul veiligheid kan bid.

Dinsdag 12 Januarie 2010, vieruur die middag. Ná ’n vlug van 30 uur land Theo in Haiti waar sy vennoot, Jean-Paul, hom op die lughawe kom oplaai. Pleks dat Theo soos gewoonlik eers by die hotel gaan inboek en stort, deel Jean-Paul hom mee dat hulle eers ’n vergadering met ’n moontlike belegger het.

Vyftig minute later, steeds onderweg na die kliënt, het hul motor meteens na die linkerkant van die pad geswaai. Jean-Paul het vinnig omgekyk om te sien of die motor se wiel losgekom het toe die motor na die regterkant van die pad geslinger word. Langs die pad het die geboue inmekaargetuimel. Met die aarde wat onder hulle bewe en skud, het die twee mans besef dat dit ’n aardbewing was. Theo het onmiddellik vir hul veiligheid begin bid.

Twintig sekondes later het alles stil geword. Deur die rook en stofwolke kon Theo-hulle nou die histeriese geskree en gesnik van mense langs die pad hoor. Menige het die liggame van beseerde of afgestorwe geliefdes in hul arms vasgehou.

Die volgende 45 minute het Jean-Paul en Theo met moeite deur die stad se agterstrate gery om by Jean-Paul se familie uit te kom. Omdat alle vorms van kommunikasie (selfoonnetwerke, radiostasies, die internet) afgesny was, was dit die enigste manier om te bepaal of hulle die ramp oorleef het. Geskok het die twee mans gekyk na die hotelle langs die pad wat bykans almal ineengestort het. Die verligting was groot toe hulle eindelik Jean-Paul se huis haal en sien dat niemand ernstig beseer is nie.

Vyftien uur lank het Theo tevergeefs probeer om met sy familie in Suid-Afrika kontak te maak. Die volgende oggend vroeg het Jean-Paul diesel vir die kragopwekker gaan koop omdat daar steeds geen elektrisiteit was nie. In die tien minute wat hy weg was, het Theo ernstig met God gepraat en Hom gevra om op die een of ander manier vir sy vrou, Michelle, in Suid-Afrika te laat weet dat hy veilig is.

In Suid-Afrika het Michelle, wat toe reeds die hele oggend probeer het om Theo in die hande te kry, skielik ’n Franse boodskap op haar selfoon gekry. Met die besef dat dit Theo kon wees wat haar probeer kontak, het sy onmiddellik na Theo se onderneming gery. Ook sy kollegas het tevergeefs probeer om hom te bereik. Met hul eerste probeerslag nadat Michelle daar aangekom het, het hulle egter wonderbaarlik na Jean-Paul se selfoon deurgekom. Hy kon hulle vertel dat Theo veilig was.

God is ons BESKERMER. Hy wil jou ook vandag beskerm. Luister weer na hierdie drie beloftes:

•Sagaria 2:5: “Ek (God) sal ’n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”

•Job 1:9b-10: “Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie?”

•Psalm 34:8: “Die Engel van die HERE trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.”

As Theo by sy aankoms in Haiti direk na sy hotel gegaan het, sou hy waarskynlik in die puin van die hotel vasgevang gewees het. God het hom beskerm net soos Hy jou ook vandag wil beskerm.

Vader God, dankie dat U my BESKERMER is. Help my om te midde van doodsgevaar te onthou dat U vir my is en my sal beskerm. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Theo by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх