Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 17

week 4 . dag 2

Оглавление

God het buitengewone krag

“Een, maksimum twee ure …” Dis hoe lank die dokters gemeen het Cat en haar man, Jason Reaper, se ongebore baba ná haar geboorte sou leef. Hulle het egter gekies om God vir ’n wonderwerk te vertrou.

Toe Cat 22 weke swanger was, is ’n virusinfeksie by haar baba gediagnoseer. Die fetus se hartjie was vergroot, haar brein het abnormaliteite getoon en sy was groeigestremd. Die dokters het ’n onmiddellike aborsie aanbeveel. Hulle het nog nooit tevore gesien dat ’n kind met hierdie virus normaal gebore word nie. Sulke babas is gewoonlik blind, doof of verstandelik gestrem.

Die Reaper-egpaar was dit eens: “Ons glo nie in aborsie nie, Dokter. Ons glo in God. Selfs as God nie ons baba genees nie, sal ons die kind wat Hy vir ons gee, aanvaar.” Die dokters was uit die veld geslaan.

’n Geloofspad het vir die Reapers begin. Gebedskettings het oor die land heen tot stand gekom. Hul kerk het hul besluit ondersteun. Selfs selgroepe van ander kerke het hulle laat weet dat hulle saam vir ’n wonderwerk bid.

Met elke skandering het die ongebore baba se toestand egter agteruitgegaan. Toe Cat 32 weke swanger was, was daar reeds verkalking in die baba se brein. Op 34 weke het die dokters laat weet dat die baba definitief te swak was om die geboorte te oorleef. Op 36 weke het die ginekoloog, die pediater en die vroedvrou ’n vergadering met die Reapers belê. “Julle sal begrafnisreëlings moet tref,” het een van die dokters begin. “Die dood van ’n baba is altyd geweldig traumaties.” Die Reapers het nie geluister nie. In geloof het Cat babaklere vir haar ongebore dogtertjie gaan koop.

Dit was ’n Vrydagaand toe Cat se water breek. Gou is die nuus aan haar selgroepleier deurgegee wat saam met ’n klomp van die gemeentelede by ’n verjaardagviering was. Die meeste van die mense het saam na die hospitaal gejaag om Cat te ondersteun.

Omdat die dokters oortuig was dat die baba by geboorte sou sterf, is die besoekers in die kraamsaal toegelaat totdat die kontraksies te kort op mekaar gevolg het. In die saal om Cat se bed het die gemeentelede God geloof en geprys vir die wonderwerk wat Hy vir hulle sou doen.

Net ná middernag is klein Tegan gebore. Die minute het verbygetik. Een uur. Twee uur. Drie uur. Tegan het bly leef. Meer as dit, sy was heeltemal normaal en gesond. Na aanleiding van die beskadigde plasenta waaruit Cat se baba gebore is, het een van die dokters opgemerk: “Soms sien ons van hierdie rare wonderwerke in die mediese wêreld. Vanaand was definitief een van hulle!” Met die skryf van hierdie boek was Tegan reeds sewe jaar oud.

Psalm 33:16-18: “Dit is nie deur ’n groot leër dat ’n koning wen nie en nie deur groot krag dat ’n held behoue uitkom nie. Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou.”

Staan jy vandag met jou rug teen die muur? Onthou, God het BUITENGEWONE KRAG. Loof en prys Hom te midde van jou frustrasies, seer of uitdagings. Wie weet, dalk is dit al wat jy nodig het vir jou deurbraak?

Vader God, dankie dat ek weet dat geen uitdaging vir U te groot is nie. Ek sit die hindernis op my pad vandag voor u troon neer. Omdat ek glo dat U buitengewone krag het, vra ek dat U hierdie situasie sal omdraai. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Cat en Tegan by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх