Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 9

week 2 . dag 2

Оглавление

God is alwetend

Die stadsaal in ’n stad in Siberië was volgepak toe Chevian Breedt die trappe na die verhoog uitklim terwyl sy hart vinnig klop. As Bybelskoolonderwyser en sendeling in Rusland is hy as gasspreker na ’n Siberiese gemeente genooi. Iewers het ’n fout egter ingesluip. Die gemeente se plakkate het hom as ’n pastoor met ’n gawe van genesing bemark, terwyl hy nog nooit voorheen vir ’n siek mens gebid het nie – nie eens vir iemand met hoofpyn nie!

Senuweeagtig het Chevian na die see van mense voor hom gekyk. Die preek wat hy voorberei het, het nie eens oor genesing gehandel nie. Toe hy aan die plaaslike pastoor sy penarie probeer verduidelik, het dié met ’n breë glimlag gesê dat Chevian hom nie moet bekommer nie – alles sal reg uitwerk. Net daar op die verhoog het Chevian egter besluit om sy voorbereide preek te lewer en homself daarna uit die voete te maak.

Chevian se plan het egter nie gerealiseer nie. Toe hy sy preek afsluit, het die plaaslike pastoor vorentoe gestap om die mense wat gebed vir genesing benodig, vorentoe te nooi. Die helfte van die mense in die saal het vorentoe gestroom sodat Chevian vir hulle kon bid.

’n Storm het binne Chevian se hart gewoed. Toe hy aan die onderkant van die trappe kom om die saal te verlaat, besef hy tot sy ontsteltenis dat hy aan die voorpunt van die ry siek mense staan. Heel voor was ’n skeel vyfjarige seuntjie en sy ouers.

Om sy senuweeagtigheid te probeer verberg, het Chevian sy vingers versigtig op die seuntjie se oë gesit terwyl hy hardop in Afrikaans begin bid: “Here, ek is nou in groot moeilikheid. Ek weet nie hoe om vir siek mense te bid nie! Ek vra nou dat Uself hulle deur my sal genees. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus.” Toe Chevian sy duime oplig, het die seuntjie reguit vorentoe gekyk.

Een ná die ander is die mense in die ry genees terwyl Chevian verstom was oor God se krag. Aan die einde van die lang ry het ’n 63-jarige vrou gewag. Sy is blind gebore. Die Heilige Gees se teenwoordigheid was nou tasbaar in die saal terwyl Chevian die gemeentelede gevra het om saam met hom vir ’n wonderwerk van God te bid. Toe Chevian eindelik sy duime van haar oë weghaal, het die vroutjie deur haar trane uitgeroep: “Dit is jy! Dit is jy!” Die vrou het vertel hoedat God haar ’n week tevore in ’n droom deur die strate van die stad tot by die stadsaal geneem het. In haar droom het sy ’n man op die verhoog sien sit. Toe sy tot by hom stap, het sy gehoor hoe God vir haar sê: “Hierdie man gaan vir jou bid en jy sal kan sien.” Chevian was daardie man.

Psalm 139:1-6: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.”

God is ALWETEND. Hy ken ons toekoms lank voordat dit ’n werklikheid word. Hy ken ook ons hartsbegeertes en weet presies wat ons benodig. Beleef jy vandag soos Chevian ’n krisis? Kies dan om God deel te maak van jou lewe en laat Hom toe om jou te lei.

Vader God, dankie dat U ALWETEND is. Help my om voortaan gehoorsaam te wees wanneer die Heilige Gees my ’n opdrag gee. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Chevian by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх