Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 18

week 4 . dag 3

Оглавление

God het buitengewone krag

Dit was ’n laatmiddag in September 1999 in Chapungu, Malawi toe Vic O’Kelly en sy span die sendingtent vir die dertiende agtereenvolgende jaar in die plaaslike gemeenskap opslaan. Dit was jaarliks vir hom en sy sendingspanne ’n geweldige voorreg om te sien hoe Jesus se lig en liefde die plaaslike mense se lewens ingrypend verander.

Die tent was skaars op toe die mense van oral begin instroom. Sommige het dae lank gestap om hierdie uitreik-aksie by te woon. Waar Vic voor in die tent gestaan het, het hy die mense dopgehou. ’n Ouerige dame, Sofia, met haar diepgeplooide gesig en ’n klein seuntjie aan haar hand, het dadelik sy aandag getrek. Dit het gelyk soos ouma of oumagrootjie en haar kleinkind. Hulle het deur al die mense gestap tot heel voor waar hulle ’n paar meter van die verhogie op die grond gaan sit het.

Sofia het net op die grond gaan sit toe die seuntjie op haar skoot klim, haar bors uithaal en daaraan begin drink. Vir Vic was dit ’n groot skok. Hoe op dees aarde kon ’n vrou van sowat 80 jaar genoeg melk hê om hierdie seuntjie te voed?

’n Tolk wat Vic se geskokte gesig gesien het, het nader gestaan en hom Sofia se storie vertel. Sowat ’n jaar tevore het Sofia, die seuntjie se oumagrootjie, se kleindogter van die huis af weggeloop omdat sy die verwerping van die seuntjie se pa nie langer kon hanteer nie. Skielik was die huilende seuntjie aan Sofia oorgelaat.

Met die besef dat hulle kilometers van die naaste winkels met babakos was, het Sofia die honger, huilende baba in haar arms opgetel en met trane in haar oë na God opgekyk terwyl sy bid: “God, ek weet dat U almagtig is. Ek smeek U vir ’n bonatuurlike wonderwerk!”

Op daardie oomblik het Sofia iets vreemds beleef. Toe sy afkyk het sy gesien hoe haar borste swel. Hulle was vol melk! Selfs ’n jaar ná hierdie gebeurtenis het Sofia steeds genoeg melk gehad om die klein seuntjie daagliks te voed.

Markus 9:23: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

Efesiërs 3:20-21: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe … deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.”

Watter uitdaging lê vandag voor jou? ’n Gebroke huwelik? ’n Finansiële tekort? ’n Gebroke verhouding met ’n kind of jou ouers?

Onthou, God sluimer en slaap nooit nie. Hy het BUITENGEWONE KRAG. Dit is immers Hy wat die son vir Josua en die Israeliete laat stilstaan het sodat hulle die oorlog kon voltooi (kyk Josua 10:11-14). Dit is ook Hy wat die son se skaduwee vir koning Hiskia met tien trappe kon terugskuif (kyk 2 Konings 20:9-11). En dit is Hý wat Jerigo se mure kon laat intuimel.

Waarom slaan jy nie ook vandag soos Sofia jou oë op na God en vertrou Hom vir ’n deurbraak in jou lewe nie?

Vader God, baie dankie dat daar by U geen beperkings is nie. U het waarlik buitengewone krag. Lei my vandag om my geloof en vertroue net soos Sofia ten volle in U te plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Sofia en haar agterkleinseun by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх