Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 6

week 1 . dag 3

Оглавление

God is almagtig

Interskole, 23 Mei 1998. Grey Kollege speel teen Hoër Jongenskool Paarl. Twintig minute voor die einde van die hoofwedstryd blaas die skeidsregter die fluitjie. Hy dui aan dat die twee spanne moet skrum. Willem Meyer, Grey se haker, sak net te laat in die skrum en toe dit opbreek, gly sy arms van die twee voorrye langs hom se rûe af.

Met verwilderde oë het Willem op die gras gelê terwyl hy besef dat hy geen van sy ledemate kan beweeg nie. Die jolige skare op die paviljoen was meteens stil terwyl hulle geskok toekyk hoe die noodhulpspan Willem versigtig in die ambulans intel. Toe die deure agter hom toegemaak word, het vier jaar se rugby voor hom verbygeflits.

Willem het sy hoërskoolloopbaan aan Grey Kollege in Bloemfontein begin. Vir hom en sy vriende was dit ’n droom om eendag vir Grey se eerste rugbyspan uit te draf. In sy matriekjaar is hierdie droom bewaarheid toe Willem vir die span gekies is. Sy droom het egter nie lank gehou nie. Ná ’n lastige skouerbesering wat hy tydens die proewe opgedoen het, het die fisioterapeut hom meegedeel dat hy die span se toer na Dubai sou misloop.

Teleurgesteld het Willem daardie aand op sy knieë gegaan terwyl hy met God gesels oor sy besering en sy begeerte om die Dubai-toer mee te maak. In sy stiltetyd het hy ervaar hoe God hom na die belofte in Psalm 112:7 lei: “Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here.”

Willem het aan die belofte vasgehou en danksy intensiewe fisioterapie het sy skouerbesering só vinnig genees dat hy wel saam met die span aan die wêreld-skoletoernooi in Dubai kon gaan deelneem. Die res van daardie jaar het Willem homself elke keer voor ’n wedstryd aan Psalm 112 herinner en deur God se genade het hy nie een wedstryd weens ’n besering misgeloop nie.

Terwyl die noodpersoneel hom by die hospitaal se noodeenheid instoot, kon Willem die spanning op sy pa se gesig lees. Dit was duidelik dat hy ernstig beseer was. Weer het Willem sy oë gesluit om homself aan die woorde van Psalm 112:7 te herinner.

Die dokters het Willem dadelik in traksie geplaas. Terwyl hy na die dak gestaar het, het die ortopeed in die kamer langsaan die nuus aan Willem se pa en Grey se skoolhoof meegedeel: “Willem se rugmurg is baie ernstig beseer. Ek is jammer, maar hy sal voortaan ’n kwadrupleeg wees.”

Die dokters het egter nie rekening gehou met die ALMAGTIGE God wat ons aanbid nie! Terwyl niemand die moed gehad het om die nuus aan Willem oor te dra nie, het hy ook geen negatiwiteit rondom hom toegelaat nie. By hom was daar geen twyfel dat God hom sou genees nie. God het Willem se geloof en vertroue in Hom raakgesien. Hy het hom aangeraak en ses maande later het Willem wonderbaarlik begin herstel. Hoewel hy van voor af moes leer loop, kon niks hom keer om ten volle te herstel en selfs die gewig op te tel wat hy ná die ongeluk verloor het nie.

Vandag, meer as ’n dekade later, is Willem getroud en suksesvol in sy werk. Wanneer ’n mens na hom kyk, sal jy nooit glo dat hy eens op die rugbyveld in die Paarl met ’n gebreekte nek inmekaargesak het nie!

Vader God, dankie vir u ALMAG en dat U veel groter is as enige hindernis wat oor my pad mag kom. Lei my asseblief om net soos Willem in moeilike situasies altyd aan u Woord vas te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Willem by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх