Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 22

week 5 . dag 3

Оглавление

God, ons chirurg

Dit is die jaar 875 v.C. en ons staan op Karmelberg. Aan die een kant van die berg staan die Baälprofete. Aan die ander kant, die enigste oorlewende profeet van God, Elia. Op Elia se bevel het koning Agab die hele volk van Israel beveel om hierheen te kom. Vandag sal ’n waterskeiding in die volk se geloof wees. Maar waarom is hulle hier?

Net soos sy voorgangers, het koning Agab die Israeliete toegelaat om afgode te begin dien. Hyself het so ver gegaan as om vir sy vrou, Isebel, ’n afgodstempel te bou. Isebel het op haar beurt begin om afgodprofete van Baäl en Asjera na Israel in te voer, terwyl sy God se profete uitgemoor het. Slegs Elia het oorgebly.

Drie jaar tevore het Elia aangekondig dat God die reën en dou sal terughou omdat die volk gekies het om afgode te aanbid. In die drie jaar sedertdien het hongersnood die land getref. ’n Klomp mense het omgekom en uit desperaatheid het koning Agab die losprys vir Elia se kop al hoër bly maak. God het egter vir Elia deurentyd beskerm. Toe die tyd vir die draaipunt aanbreek, het God aan Elia opdrag gegee om na koning Agab te gaan. Dit is tóé dat hy vir Agab beveel het om die volk van Israel na Karmelberg te laat kom.

Kan jy sien waar Elia nou vorentoe tree om met die Israeliete te praat? Spits jou ore en luister na sy woorde: “Israeliete, hoe lank gaan julle nog draadsitters wees? As die Here God is, volg Hom, maar as dit Baäl is, volg hom.” Nie een Israeliet waag om te beweeg nie. “Vandag sal julle die kans kry om te sien hoe lewend hierdie Baäl nou eintlik is …” Só praat Elia terwyl hy aan die Israeliete verduidelik dat beide hy en die Baälprofete elk ’n beurt sal kry om ’n bul te vat en op te sny voordat dit op die altaar geplaas word. Die een wie se god met vuur antwoord, is waarlik God.

Die Baälprofete het gou begin werk. Dit was nie lank voordat hulle al singend en dansend hulself ook begin kerf het in die hoop om ’n antwoord van Baäl af te kry nie. Daar is egter net stilte. Teen laatmiddag begin Elia spot: “Miskien moet julle bietjie harder roep? Baäl is mos god? Miskien is hy diep ingedagte of op reis? Of dalk slaap hy en julle moet hom wakker skree?!”

Toe dit tyd word vir die aandoffer het Elia die altaar gereed gemaak. Hy het die slawe beveel om vier kruike water te bring wat hy oor die bul op die altaar uitgegooi het totdat die sloot rondom die altaar propvol water was. Met die Israeliete wat hul asems ophou, het Elia reg langs die altaar gekniel terwyl hy hardop bid sodat die Israeliete kan hoor: “God van Abraham, Isak en Israel. Laat dit tog vandag bekend word dat U die God van Israel is. Antwoord my, Here! Antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U die lewende God is en dat hulle hul harte weer tot U bekeer!”

Blitse en donderslae het skielik uit die lug weergalm terwyl die Israeliete in vrees staan en kyk hoedat vuur uit die hemel die altaar tref en die offer, hout, klippe en die grond rondom die altaar totaal verbrand. Soos een man het hulle op hul knieë voor God neergeval en Hom aanbid.

1 Korintiërs 3:9: “Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God.”

God is die CHIRURG en ons is sy handskoene. Op Karmelberg was Elia bereid en beskikbaar om God se instrument te wees waardeur God aan die Israeliete kon wys wie Hy is. Is jy vandag bereid om daardie handskoen te wees?

Vader God, dankie dat U steeds vandag u grootheid aan ons kan en wil demonstreer. Help my asseblief om soos Elia gehoorsaam te wees wanneer U my as “handskoen” wil gebruik. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх