Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 37

week 9 . dag 2

Оглавление

God is die eienaar van alles

Een baba, ’n tweeling en ’n drieling uit God se hand.

’n Baba: Sewentien jaar lank het Yolandi Nel en haar man, Arno, ’n baba begeer. Hulle het verskeie kere vir vrugbaarheidbehandeling gegaan, maar moes telkens die teleurstelling verwerk wanneer dit onsuksesvol was.

Toe, in 2007, kom die wonderlike nuus dat ’n baba eindelik vir hulle op pad is. Drie maande lank het almal van opgewondenheid geborrel totdat hulle die verpletterende nuus gekry het: Hul ongebore babatjie se hartjie het opgehou klop.

In hierdie stadium het die familie alles aan God oorgegee en op Hom vir ’n deurbraak gewag. Selfs al sou Hy nie hul gebede verhoor nie, sou hulle hom steeds aanbid. Ná 18 jaar se wag, terwyl Yolandi reeds 41 jaar oud is, het God hul gebede verhoor. Op 14 Januarie 2009 is hul blonde babaseuntjie, Kristian Charl, gebore.

’n Tweeling: Vier jaar lank het Wanda en Dries du Plessis tevergeefs probeer om swanger te word. Elke keer as nog ’n jong vrou by Wanda se werk swanger geword het, het dit gevoel asof ’n dolk in haar hart gesteek word. Wanneer sou dit tog haar beurt wees?

Moedeloos het sy een middag by die huis op haar knieë voor God neergesak. Die trane het oor haar wange gestroom terwyl sy God weer eens smeek vir ’n kindjie van haar eie. Haar belofte was dat sy daardie kindjie in sy Naam sou grootmaak. Op daardie oomblik het die woorde van Matteus 7:7 in haar hart kom lê: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Vir Wanda was dit ’n bevestiging.

Toe Dries minute later by die huis aankom, was haar oë steeds rooi van die trane, maar ’n gevoel van vreugde en afwagting het in haar binneste geborrel. Sy was seker dat God met haar gepraat het. Só seker dat sy begin het om babakleertjies te koop. Wanda het kort hierna swanger geword en ’n week voordat haar baba op 11 Februarie 1975 gebore is, het Wanda se dokter X-strale laat neem en besef dat sy ’n tweeling verwag. Michelle en Nicquelette is ’n week later gebore.

En ’n drieling: Die sangeres Nianell was reeds 35 jaar oud toe sy en haar man, Andrew, besluit het om met ’n gesin te begin. Hoewel tweelinge nie ’n algemene verskynsel in haar of Andrew se familie is nie, het Nianell gereeld gesê: “Ek hoop regtig God gee my kinders almal op een slag.” Sy was ernstig. Só ernstig dat sy en haar man ’n geruime tyd voor haar swangerskap klaar ’n dubbel-opslaanbedjie vir die tweeling se kinderkamer gekoop het. Toe sy in 2007 uitvind dat sy swanger is, het sy ’n dag voor haar doktersbesoek vir haar musiekgroep gesê sy verwag dat God vir haar ’n tweeling of selfs ’n drieling gaan gee. Groot was die verrassing toe die dokter nie net een of twee hartkloppies in haar baarmoeder vind nie, maar drie! Haar drieling is op 30 Julie 2007 gebore.

God is die EIENAAR van alle dinge op aarde – ook ons kinders en geliefdes. Hanna het dit verstaan. Luister na haar woorde aan God nadat Hy haar smeekgebede gehoor het en aan haar ’n seun, Samuel, gegee het. In 1 Samuel 1:27-28; 2:2 sê sy: “Van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is … Daar is geen heilige soos die Here nie, buiten U is daar nie een nie, daar is geen rots soos ons God nie.” Ons geliefdes is aan ons geleen. Hanteer jy hulle só dat God op jou sal trots wees?

Vader God, baie dankie dat U die gewer van lewe is. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om bewus te word van dele in my lewe waar ek U nie toelaat om in beheer te wees nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Nianell en haar kinders by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх