Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 41

week 10 . dag 2

Оглавление

God, ons Emmanuel

Op 15 Junie 2008 het Rika Myburgh en 11 000 ander atlete vir die Comrades–marathon in Durban weggespring. Net toe sy die 12 kilometer-merk verbysteek, het Rika ’n kenmerkende pyn in haar buik gevoel. Haar hart het gesink omdat sy uit vorige ondervinding geweet het dat daardie pyn haar in die verlede tot 48 uur buite aksie gelaat het. Nou kon dit haar keer om die Comrades te voltooi. Met haar hand op haar buik het Rika in die draf besluit om te vertrou dat God haar sal genees. “Here, in die Naam van Jesus Christus, vat die pyn uit my lyf uit!” het sy gebid. Sowat 100 meter verder het Rika weer die pyn gevoel en dieselfde gebed in geloof gebid. Toe gebeur die wonderwerk. Waar die pyn in die verlede vererger het, het dit oor die volgende ses kilometer van die wedloop heeltemal verdwyn! Rika kon die wedloop sonder enige verdere probleme voltooi.

Julia was nege jaar oud toe sy saam met haar twee ouer susters na die Wonderwaters-pretpark in Dullstroom gegaan het. Omdat sy skaars kon swem, het sy heeldag op die ritte gery wat aan die vlak kant van die swembad was. Net ná vyfuur daardie dag, toe die meeste van die mense reeds vertrek het, wou Julia vir die laaste keer op haar gunstelingrit gaan. Min het sy besef dat hierdie rit dié keer aan die diep kant sou eindig. Magteloos het sy begin water trap terwyl sy om hulp roep. Niemand was naby nie.

Julia het al hoe swakker geword en gevoel hoe haar kop onder die water verdwyn. Net toe sy dink dat sy dit nie gaan maak nie, het twee hande haar aan haar rug gevat en haar ’n harde stamp na die vlak kant gegee. Toe Julia weer kon staan, het sy vinnig omgekyk. Daar was niemand nie. Sy is vandag 20 jaar oud en beskryf daardie dag steeds as die dag toe God haar persoonlik kom red het.

In ’n onderhoud met ’n Amerikaanse filmspan het die regisseur vertel van ’n toneel waarin die hoofakteur uit ’n helikopter moes hang. Die helikopter het egter onverwags buite beheer geraak. Terwyl geskokte omstanders toekyk, het die helikopter sekondes later die water getref. Ná ’n paar sekondes het die vlieënier se kop bo die water verskyn. Van die akteur was daar egter geen teken nie. Twee minute het verbygegaan. Drie minute. Ooggetuies het die ergste begin verwag. Toe, vyf minute later, het die akteur skielik bo die water verskyn. Ná die voorval het die akteur in ’n onderhoud vertel dat hy weens die impak sy bewussyn verloor het. Toe hy bykom, was hy in die sinkende helikopter vasgevang. Hy het al die reddingswerkers bedank – en die een uitgesonder wat hom agter sy nek gevat en hom uit die helikopter getrek het voordat hy hom ’n harde stoot in die rigting van die water se oppervlak gegee het. Die omstanders het hom fronsend aangekyk omdat daar geen reddingswerkers naby die vliegtuigwrak was nie. Toe die akteur dít hoor, het hy ’n oomblik hard aan sy trane gesluk voordat hy opgekyk het met die woorde: “In daardie geval wil ek vir God dankie sê. Dit was dan Hy wat my van ’n gewisse dood gered het.”

Jesaja 43:2: “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie …”

Was God tussen die skare atlete op pad Durban toe? Was God langs die swembad toe die negejarige Julia amper verdrink het? Was God onder die water toe die akteur in die helikopter vasgevang was? Natuurlik. God is EMMANUEL. God met ons. Hy is vandag ook in jou situasie!

Vader God, baie dankie dat U by my is. Help my asseblief om dit nooit te vergeet nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na foto’s van die stories by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх