Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 32

week 8 . dag 1

Оглавление

Deurbraak

(Baäl-Perasim)

Twee oorloë kort ná mekaar, teen dieselfde vyand, maar twee verskillende strategieë uit God se hand. Dít is wat vir Dawid voorgelê het kort nadat hy as koning van Israel ingeseën is.

Die Filistyne het teen Israel opgetrek en in die Spooklaagte kamp opgeslaan. Dit is hier waar Dawid na God gegaan het met die vraag: “Moet ek teen die Filistyne gaan veg en sal U my help om hulle te oorwin?” God het geantwoord: “Ja, gaan veg teen hulle. Ek sal beslis toesien dat jy hulle oorwin.”

Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne opgetrek. God het hulle beskerm en voor hulle uitgetrek. Die oorwinning was só groot dat Dawid al sy manskappe saamgeroep het en die plek Baäl-Perasim (God van die deurbraak) genoem het. Dawid het verduidelik dat God deur die vyande gebreek het soos water wat deur ’n damwal breek.

Kort ná hierdie veldslag het die Filistyne weer in die Spooklaagte teen Israel kamp opgeslaan. ’n Mens sou dink dat Dawid dieselfde strategie sou volg. Tog gaan Dawid weer na God. Dié keer is God se strategie anders: “Moenie die Filistyne weer van voor af aanval nie. Gaan óm hulle en val hulle dié keer van agter af aan. As jy ’n geluid in die boomtoppe hoor wat soos voetstappe klink, moet jy vinnig aanval, want dan is dit Ek, die Heer wat voor jou en jou soldate uittrek om die Filistyne te verslaan.” Weer het Dawid God se bevel gehoorsaam en die Filistyne so ver teruggedryf dat hulle nie weer dadelik kon aanval nie.

God bring die DEURBRAAK (Baäl-Perasim). Soms moet ons net soos Dawid vir God sy strategie vra – en telkens daarop vertrou!

Hierdie is ’n oorvertelling van 2 Samuel 5:17-25.

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх