Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 30

week 7 . dag 3

Оглавление

God is betrokke by die detail van ons lewens

Weke lank het Mariette en haar vier vriendinne tevergeefs na die “perfekte studentehuis” vir hul finale jaar op Stellenbosch gesoek. Waar hulle een middag bymekaargekom het om wéér deur die koerante se advertensies te kyk, het een van die vriendinne ’n skryfblok nader getrek terwyl sy aankondig: “Nou toe julle, God spesialiseer mos in die details. Kom ons maak ’n lys van presies wat ons graag in ons huis wil hê.” Dit is wat hulle gedoen het.

Die volgende paar minute het hulle laggend gesit en ’n gedetailleerde lysie opgestel van wat hulle graag in die huis wil hê: blokkieshoutvloere, twee bome in die agterplaas om ’n hangmat aan op te hang, dit moes naby die kampus wees en die huur moes by hul begroting inpas.

Op die oog af het hierdie versoek onmoontlik gelyk. Behalwe dat beskikbare verblyf in die spesifieke omgewing baie skaars was, was die bedrag wat hulle wou betaal ook baie minder as die gemiddelde prys in die area. Tog, al het verskeie mense en agente hul verwagtings as verregaande beskou, het hulle gekies om op God te vertrou terwyl hulle dag ná dag die koerante dopgehou het. Wanneer ’n advertensie reg gelyk het, het hulle na die plek gaan kyk, maar nie een keer het ál vyf vriendinne van die huis gehou nie.

Op ’n dag het hulle weer saam deur die koerante gekyk. Dié keer het een van die vyf opgewonde uitgeroep: “Kyk hierdie advertensie! Ek het net ’n gevoel dat dit dalk ons huis is! Laat ek gou die eienaar bel.”

Met die eerste oproep was die eienaar nors en het hy gou gesê dat die huis nie beskikbaar is nie. Die gevoel in die vriendin se hart wou egter nie weggaan nie en ná ’n paar minute het sy besluit om die man weer te bel. Dié keer het die eienaar vriendelik geantwoord dat die huis wel nog beskikbaar is en dat hulle welkom was om daarna te kom kyk. Siende die regte ligging en huurgeld het die vriendinne dadelik in ’n motor gespring en na die huis vertrek.

Met die instapslag het hulle gesien dat die huis blokkieshoutvloere het. Toe hulle by die agterdeur uitstap, het daar reeds ’n hangmat tussen die twee bome in die agterplaas gehang. God het alles vir hulle gegee waarvoor hulle gevra het.

In Psalm 37:23 staan geskryf dat God betrokke is by elke detail van diegene wat daarop fokus om hul lewens regverdig in God se oë te lei. In Psalm 147:4 lees ons: “Hy (God) besluit oor die getal van die sterre en gee elkeen ’n naam.” In Jeremia 32:26-27 lees ons God se eie woorde: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?”

God is betrokke by die DETAIL van jou lewe. Niks is ooit vir Hom onmoontlik nie. Gaan jy Hom vertrou om in te gryp en die onmoontlike moontlik te maak?

Vader God, baie dankie dat U betrokke is by die DETAIL van my lewe. Help my asseblief vandag om nie moed te verloor nie, maar om my oë opnuut in geloof op U te plaas. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Mariette by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх