Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 34

week 8 . dag 3

Оглавление

God gee jou deurbrake

Met ’n stofwolk steeds agter sy bakkie het Pieter Keyter, ’n boer, onder die koelteboom ’n entjie van sy landerye af gestop. Trane het oor sy wange gestroom. Hoe sou sy vrou op sy jarelange pornografieverslawing reageer? En wat gaan van sy kinders word?

As 11-jarige koshuisseun is Pieter vir die eerste keer aan pornografie blootgestel. Op universiteit het hierdie verslawing voortgeduur. Toe hy sy meisie met ’n ander man in die bed betrap, het dit hom gebreek. Hy het oorsee gevlug om van die verwerping en seer af weg te kom. Hier het verskeie losbandige verhoudings gevolg voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het. Hy en Blanche is later getroud.

Hoewel Blanche onbewus was van Pieter se pornografieverslawing, het sy emosionele afkraking ’n wig tussen hulle ingedryf. Pieter se broer het hom herhaaldelik saam met hom kerk toe genooi. Pieter het telkens verskonings uitgedink, maar eindelik het hy ingestem bloot om hom stil te kry. In die kerkdiens het Pieter die werking van die Heilige Gees ervaar. Hy het geweet dat hy sy lewe moes skoonmaak.

Daardie aand ná die kerkdiens kon Pieter nie slaap nie. Dit het gevoel asof iets hom jaag. Nadat almal gaan slaap het, het hy homself in die sitkamer bevind. Hy wou sy lewe aan God oorgee, maar het net nie geweet hoe om dit te doen nie. Sy broer se woorde het by hom opgekom: “Boeta, vra God net in die Naam van Jesus Christus om jou te red.” Pieter het dit skaars gedoen toe ’n bose stem hoorbaar langs hom praat: “Jy moes nooit daardie Naam genoem het nie.” Pieter wou skree, maar geen geluid wou uitkom nie. Net toe dit voel asof hy gaan sterf, het Pieter ’n gevoel van liefde en vrede deur sy wese voel spoel. Instinktief het hy geweet dat God hom vrygemaak het.

Langs die kombuistafel die volgende oggend was almal in trane toe Pieter die nuus van sy bekering met hulle deel.

Ná hierdie dag het Pieter begin om sy verhouding met Blanche en sy gesin te herbou. Vir die eerste keer was hy en Blanche waarlik gelukkig getroud. Die skuldgevoel oor sy kortstondige buite-egtelike verhouding voor sy bekering het egter aan Pieter bly krap.

Pieter het geweet dat hy dit met Blanche moes deel, maar kon homself nie kry om dit te doen nie. Toe sy broer daardie oggend bel, het Pieter geweet dat dit ’n bevestiging van God was.

Terwyl hy sy bakkie aangeskakel het om terug te ry na die plaashuis waar Blanche vir hom wag, het Pieter vir oulaas saggies gebid dat God hom moes lei. Agter ’n toe deur in die plaashuis het Pieter daardie dag alles vir Blanche vertel. Oor die koshuiskamer, die tyd oorsee en sy buite-egtelike verhouding. Daar was baie trane, maar geen verwyte nie. Pieter was vir die eerste keer waarlik vry en God kon sy genesingswerk tussen hulle kom voltooi.

Met die skrywe van hierdie boek is dit reeds vyf jaar later en met hul vier kinders is Pieter en Blanche steeds beste vriende wat hoop bring aan menige ander met gebroke huwelike.

Jesaja 44:22: “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.”

God bring die DEURBRAAK (Baäl-Perasim) in elke situasie. Wanneer ons die Naam van Jesus Christus met ’n eerlike hart aanroep, sal Hy ook jou sondes soos miswolke voor die son laat verdwyn.

Vader God, baie dankie dat U die deurbraak bring. Ek bring vandag (dit waarvoor jy ’n deurbraak benodig) na U toe. Neem dit asseblief in u hande. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Pieter en Blanche by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх