Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 29

week 7 . dag 2

Оглавление

God is betrokke by die detail van ons lewens

Ek kry gereeld e-posse van lesers met hierdie vraag: “Benescke, mag ’n mens ’n lysie maak wanneer jy vir ’n lewensmaat bid?” In die lig van hierdie vraag deel ek graag met jou my en Johannes se verhaal …

Tydens die groot inpakslag van my huis om ná die wittebrood saam met Johannes ’n nuwe begin te maak, het ek op ’n stapel van my ou dagboeke in my boekrak afgekom. Nuuskierig het ek daardeur geblaai. Dit is hier waar ek op verskeie lysies van my “droomman” afgekom het wat ek oor die jare heen opgestel het elke keer wanneer ek met God oor my keuse van ’n lewensmaat gesels het. ’n Gedetailleerde lysie wat ek opgestel het jare voordat ek vir Johannes ontmoet het, het veral my aandag getrek.

Glimlaggend het ek ’n pen nader getrek en van bo-af begin om die eienskappe op die lys af te merk: Hy moet my beste vriend wees. Iemand met integriteit. Hy moet vir my aantreklik wees. Hy moet oor die vermoë beskik om te midde van krisistye kalm te bly en my ook kalm te hou. Hy moet ’n goeie verhouding met sy eie en ook met my familie hê. Sy sin vir humor moet ons saambind. Sy ambisie moet my inspireer. Só ook sy liefde en omgee vir ander mense. Hy moet ewe gemaklik voel in die geselskap van konings as in die geselskap van die armste man op straat. En die belangrikste: Hy moet werklik ’n verhouding met God hê en saam met my daarna streef om ons lewensdoel op aarde ten volle uit te leef.

Met ’n knop in my keel het ek aan die onderpunt van die lang lys gekom en besef dat God nie net vir my iemand met al hierdie eienskappe gegee het nie. In Johannes is daar soveel eienskappe waaraan ek nie eens gedink het toe ek die lysie opgestel het nie.

Dit is die wese van die God wat ons aanbid: ’n God van liefde. ’n God wat betrokke is by die details van elkeen van ons se lewens. ’n God wat ons stoutste verwagtings oortref. Geen wonder Paulus skryf in Efesiërs 3:20-21: “… aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink … aan Hom kom toe die heerlikheid … tot in ewigheid! Amen.”

Onthou, God het elkeen van ons se lewensdae vooruitbeplan. Jare voordat ek Johannes ontmoet het, het Hy reeds die bloudruk van die soort lewensmaat wat ek kon verwag in my hart geplaas. Wanneer ek dus oor die jare heen die lysies opgestel het, was dit nooit om vir God te probeer voorskryf nie. Dit was bloot ’n manier wat God gebruik het om vir my die prentjie van wat ek in die toekoms kon verwag, duideliker te maak.

Watter uitdagings het jy vandag? Dalk ’n situasie by die werk? Dalk die siekte van ’n geliefde? Dalk is jy deur ’n egskeiding en wonder of God ooit vir jou ’n tweede kans op huweliksgeluk sal gee? Onthou: God is ’n God van liefde. Hy is betrokke by die DETAIL van jou lewe. Sy begeerte is om jou met sy goedheid en guns te oorrompel. Maak jy Hom deel van elke besluit in jou lewe en vertrou jy dat Hy werklik jou toekoms ken?

Vader God, baie dankie dat U betrokke is by die details van my lewe. Help my asseblief om net soos Paulus vas te staan in die wete dat U aan die werk is – selfs al voel dit nie altyd so nie. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n troufoto van Benescke en Johannes by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх