Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 42

week 10 . dag 3

Оглавление

God, ons Emmanuel

In Psalm 23:4 lees ons dat wanneer ons deur “ ’n dal van doodskaduwee” stap, God ons beskerm en bewaar. Die bekende regisseur Reghardt van den Bergh het ’n belewenis gehad waar hierdie belofte vir hom ’n werklikheid geword het. Hier is sy verhaal.

“Ek en my familie was baie opgewonde om een aand op ’n semi-wildplaas in die veld te gaan slaap. Ons het besluit om op ’n sleepwa te slaap om die slange, skerpioene en spinnekoppe wat dalk in ons ore kon kruip, te vermy. Waar ons ’n hele entjie van die plaasopstal geslaap het, was daar geen selfoonopvangs nie. Dit was ’n perfekte aand waarin ons na die sterre en nagapies kon kyk terwyl ons gelê en lag en gesels het.

“Êrens deur die loop van die nag het ek skielik wakker geskrik met ’n intense pyn op my maag. Dit het gevoel asof ek besig was om te sterf. Terwyl ek opgekrul in ’n fetusposisie op die wa gelê het, het ek deur my pyn begin om God aan te roep. Ek het aanhoudend bly sê: ‘Vader, dit is deur Jesus se wonde dat ons genesing ontvang. Ek bid vir daardie genesing.’ Die pyn het egter net vererger. In ’n stadium was die pyn so erg dat ek wou flou word.

“In my geestesoog kon ek sien hoe my kinders deur die veld moet stap om hulp te gaan kry omdat daar nie selfoonopvangs was nie en ook hoe die helikopter my in die middel van die veld moet kom oplaai.

“ ’n Oomblik het ek te midde van hierdie worsteling begin wonder of ek dan werklik ’n kind van God is. Ek het dan die Skrif bely en steeds wou die pyn nie weggaan nie. Skielik het daar ’n bewustheid in my gees opgekom dat God nooit verander nie. God bly God, ongeag of ek sy kind is.

“Hierdie besef het my gebede in ’n oogwink verander. Ek het nou besef dat of ek gesond word of nie, God soewerein bly. In my pyn het ek al hoe meer teen die wa begin afskuif na waar ek toe amper op die grond gelê het. Met al my krag het ek te midde van my pyn my bes gedoen om my hande in die lug te steek om God te prys vir wie Hy is. Hy is wonderbaarlik, die Koning van die konings en die Heerser van die heersers. Ook is Hy die Skepper van lewe.

“Terwyl ek my hande na God oplig, was dit asof die Heilige Gees my regterhand gevat het en dit op my maag gedruk het. Toe my hand aan my maag raak, het die pyn skielik verdwyn. Só skielik was die pyn weg dat ek ’n oomblik gedink het dat ek dood is.

“Dit is egter toe ek die kameeldoringbome in die blou lug van die horison sien, dat ek besef het God was by my en dat Hy my genees het. Hy is ’n werklikheid en Hy is altyd daar.”

God is EMMANUEL. Hy is altyd met ons, selfs al voel dit soms asof ons alleen is. Luister weer na God se belofte in Hebreërs 13:5: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Wat is jou reaksie wanneer jy magteloos voel? Draai jy net soos Reghardt eerste na God?

Vader God, baie dankie dat U met my is en dat ek te alle tye na U kan uitroep. Lei my asseblief sodat ek altyd bewus kan wees van u teenwoordigheid. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Reghardt en sy familie by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх