Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 38

week 9 . dag 3

Оглавление

God is die eienaar van alles

Die muis, die padda en die papegaai.

Die muis: “Stop! Moenie die muis verder byt nie! Stopppp!” Dié geskree van die 13-jarige Cherise Booysen het deur die agterplaas weerklink. Sy het vinnig op hul twee Jack Russell-honde afgestorm waar hulle besig was om ’n muis te verskeur. Toe die honde padgee, het Cherise langs die beseerde muis gebuk.

Na aan trane het Cherise haar hande liggies oor die muis gestreel terwyl sy bid dat God nuwe lewe in die klein lyfie sal blaas. Aanvanklik het niks gebeur nie. Toe, net toe Cherise wou moed opgee dat die muis dood is, spring hy skielik op en hardloop na skuiling.

Die padda: Jacques Else en sy vyfjarige seuntjie, Jean, was besig om hul kamptent op te slaan toe ’n groot klomp bruin paddatjies by hulle verbyspring. Met groot opgewondenheid het Jean hulle gevolg – net om oomblikke later met ’n lang gesig terug te keer omdat die paddas verdwyn het. Al wat Jean begeer het, was een paddatjie om mee te speel. Onmiddellik het Jacques dit as ’n geleentheid gesien om sy seun ’n geestelike les te leer. “Jean, kom ons bid dat Liewe Jesus vir jou nog ’n paddatjie stuur.” Jean was dadelik opgewonde oor die voorstel. Toe pa en seun klaar gebid het, het Jacques begin rondsoek vir die paddas omdat hy nie wou hê dat sy seuntjie in God teleurgesteld moes wees as Hy nie dadelik antwoord nie.

Die paddas was egter skoonveld. In sy hart het Jacques ervaar dat God hom vra om die situasie aan Hom oor te laat. Jacques het dit gedoen en voortgegaan om die tent op te slaan. Oomblikke later het klein Jean om die tent gehardloop en met ’n groot glimlag aangekondig: “Pappa, Pappa, kom kyk! Hier is ’n paddatjie! God het geantwoord!” Weer het pa en seun langs die tent gekniel. Dié keer om vir God dankie te sê vir sy voorsiening.

Die papegaai: “Pa-ja-mas!” Dít was die geroep van die negejarige Ané en haar sewejarige sussie, Marni, wat saam met hul pa, Hendrikus Swart, bekommerd na hul lieflingpapegaai, Pajamas, gesoek het. Onder elke boom het hulle gaan staan, opgekyk en kliphard geroep: “Pa-ja-mas!”

Daar was geen teken van hul papegaai nie. Wat die saak vererger het, is dat die Swart-gesin Pajamas skaars ’n maand voor sy verdwyning gekry het – juis omdat die kinders so hartseer was toe Pajamas se voorganger, Arrie, dood is.

Terwyl die Swarts deur die strate gestap het, het Hendrikus aanhoudend gebid dat God hulle na die regte boom moes lei. Hy het nie ’n oomblik getwyfel dat God geweet het waar Pajamas skuil nie. Toe, ná ure se gesoek, het Hendrikus onder ’n boom gaan staan. Dié keer het sy hart vinnig geklop met ’n onverklaarbare wete dat hy onder die regte boom was.

Skielik het hy Pajamas se rooi stert, kenmerkend van ’n Afrika-gryspapegaai, hoog tussen die takke sien uitsteek. Met die hulp van die brandweer was Pajamas daardie aand weer veilig in sy kou en Hendrikus en die kinders se harte heelwat ligter!

Psalm 50:9-11: “Ek vra nie bulle uit julle stalle of bokke uit julle krale nie, want al die wilde diere in die bos en die diere op duisende berge is Myne. Ek ken al die voëls op die berge, en al die baie diertjies in die veld behoort aan My.”

Hoewel God die EIENAAR is van elke dier, plant en mens op hierdie aarde, het Hy steeds aan ons die keuse gegee of ons Hom wil aanbid. Wat is jou keuse?

Vader God, baie dankie dat U die eienaar van my lewe is. Help my asseblief vandag om nie moed te verloor nie, maar om my oë opnuut op U te rig. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van die stories by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх