Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 33

week 8 . dag 2

Оглавление

God gee jou deurbrake

“Jy moet asseblief die klavier teen die einde van die maand kom haal. Ons ruimte in die werkwinkel is beperk …” Dít was die soveelste boodskap wat Shanerie Korff van die winkel ontvang het waar sy haar klavier laat restoureer het. Sy wou graag haar klavier gaan haal, maar het nie geld gehad om daarvoor te betaal nie.

Die ekonomiese resessie het veral die juweliersbedryf hard getref. Die verkope was aansienlik minder as gewoonlik en met haar maandelikse kommissie kon sy nou net-net haar uitgawes betaal. Sy kon eenvoudig nie bekostig om vir ’n klavier se restourasie te betaal nie.

“Wat nou, Here?” het sy telkens gebid. “Hoe op dees aarde moet ek hierdie situasie hanteer?” Tog, elke keer as iemand haar gevra het of sy al ’n oplossing daarvoor het, was haar antwoord dieselfde: “Dit mag dalk vreemd klink, maar dit voel regtig vir my asof God sê dat ek net in Hom moet berus. Dat Hy in beheer is en dat net een transaksie voldoende gaan wees.” Vir almal was dit ’n vreemde gedagte. Dit moes iemand besonders wees wat soveel sou koop dat Shanerie se kommissie haar klavier se restourasie kon betaal.

Terwyl sy in gehoorsaamheid op God gewag het, het Shanerie se finansiële situasie steeds agteruitgegaan. Soveel so dat sy haar kredietkaart later vir haar basiese behoeftes moes gebruik. Te midde van hierdie moeilike tyd het sy aangehou om haar tiende te gee en God daagliks herinner dat sy op Hom wag. As iemand haar gevra het of dit nie onverantwoordelik is om steeds in hierdie moeilike tyd haar tiende te gee nie, was haar antwoord: “Geen toetstyd is veronderstel om maklik te wees nie. Dit is juis dan wanneer God kan sien hoe eg jou geloof in Hom werklik is.”

Op ’n gewone dag aan die einde van 2008 het ’n welgestelde sjeik uit Koeweit die juwelierswinkel waar Shanerie gewerk het, binnegestap. Dit was Shanerie se beurt om hom en sy vrou te help. Min het Shanerie besef dat hierdie paartjie ’n uur of wat later met juwele ter waarde van R1,2 miljoen by die winkel sou uitstap.

Nie net kon Shanerie met haar kommissie dadelik haar klavier gaan betaal nie. Sy kon haar skuld afbetaal en het ’n paar weke later ook ’n toekenning ontvang vir die grootste transaksie in die geskiedenis van die kettingwinkel waarvoor sy gewerk het.

Psalm 62:2-3: “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting sodat ek vas en stewig staan.”

Verkeer jy dalk vandag in ’n situasie waar jy, net soos Shanerie, dringend ’n deurbraak benodig? Dalk bid jy vir restourasie in jou huwelik of reën op die plaas? Dalk vir die genesing van ’n geliefde? God bring die DEURBRAAK (Baäl-Perasim). Kan ek jou vandag uitdaag om in die wagtyd gehoorsaam aan God te bly? As jy in Hom berus, mag Hy dalk ook jou “sjeik” op die regte tyd oor jou pad stuur.

Vader God, dankie dat ek elke dag in geloof in U kan berus. Dankie dat U op hierdie oomblik besig is om al die dinge in my lewe so te skuif dat my deurbraak ook op presies die regte tyd oor my pad sal kom. Versterk my vandag waar my geloof swak word en help my om my oë weer op U te rig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Shanerie by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх