Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 26

week 6 . dag 3

Оглавление

God skep beter as maxima cum laude

Aan die een kant vind ons vulkane, tsunami’s, aardbewings, windstorms, siklone en tifone. Aan die ander kant asemrowende sonsondergange, majestueuse bergreekse en watervalle wat ’n mens na jou asem laat snak. Besef jy dat dit dieselfde God is wat alles gemaak het en in beheer daarvan is?

Psalm 24:1-2: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here …”

Hier is ’n paar interessante feite om die skepping en almagtigheid van God te vier:

1.Wat is die warmste plek op aarde?

El Azizia in Libië. Die warmste temperatuur van 57,8 °C is op 13 September 1922 gemeet.

2.Wat is die koudste plek op aarde?

Vostok in Antarktika. Die koudste temperatuur van -89 °C is op 21 Julie 1983 hier aangeteken.

3.Waar is die hoogste waterval ter wêreld?

Die Angel-waterval in Venezuela val 979 meter ver. Die Tugela-waterval in Suid-Afrika is die naashoogste waterval en val 850 meter ver. (Interessantheidshalwe: Tafelberg is 1 086 meter hoog.)

4.Hoe ver is die naaste ster aan die aarde?

Die ster Proxima Centauri is 39 934 310 miljoen kilometer van die aarde af. Dit sal ’n ruimtetuig wat teen 40 237 kilometer per uur reis, 112 200 jaar neem om dié ster te bereik.

5.Waar is die grootste diepsee-klowe ter wêreld?

Marianas is 10,9 kilometer diep en Tonga 10,8 kilometer. (Interessantheidshalwe: Mount Everest, die hoogste berg op aarde, is 8,85 kilometer hoog. Die water sal dus die berg kan toemaak.)

6.Waar is die grootste meteorietkrater ter wêreld?

By Vredefort in die Vrystaat is die grootste bekende meteorietkrater ter wêreld met ’n deursnee van sowat 300 kilometer.

7.Kleinste …

•voëltjie: Die kleinste voëltjie is die bee hummingbird. Dit is slegs vyf sentimeter lank.

•perd: Die dwergperdjie is slegs 43,18 sentimeter hoog.

•hond: Die chihuahua is 12,7 sentimeter hoog.

•hamster: Slegs 2,5 sentimeter lank.

•verkleurmannetjie: Slegs 1,2 sentimeter lank.

In Job 38:4-5 demonstreer God sy almag aan Job wanneer Hy reguit met hom praat: “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Wie het die aarde afgemeet? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het? Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit. Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’ ”

Bevraagteken jy soms soos Job iets wat God doen of gedoen het of kies jy om sy almag raak te sien en Hom daarvoor te loof en te prys? Onthou, wat God doen, is altyd ver beter as maxima cum laude. Wat Hy doen (selfs al verstaan ons dit soms nie), is altyd perfek.

Vader God, baie dankie dat dit wat U doen perfek is. Vergewe my asseblief as ek soms perspektief verloor en u wil bevraagteken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх