Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 21

week 5 . dag 2

Оглавление

God, ons chirurg

’n Sandstorm het net voor sononder in die woestyn opgesteek waardeur die Arabier en sy kameel getrek het. Vinnig het die Arabier sy tent van die kameel se rug afgehaal en dit opgeslaan om te verhinder dat te veel sand in sy oë kom.

Die Arabier het homself egter net in sy tent tuisgemaak toe die kameel sy snoet by die tent inwurm met die woorde: “Meester, asseblief, dit is baie koud en sanderig hier buite. Kan ek asseblief net my snoet hier binne-in die tent sit?” Die Arabier het die kameel jammer gekry en hom toegelaat terwyl hy weer aan die slaap geraak het.

’n Rukkie later het die Arabier wakker geskrik en gesien hoedat die kameel sy hele kop by die tent instoot. “Asseblief, Meneer, dit is baie koud hier buite. Ek wil net my kop hier binne sit.” Weer het die Arabier hom laat begaan en aan die slaap geraak.

Die patroon het homself weer en weer herhaal. Eers het die kameel net sy snoet, toe sy kop, toe sy voorpote en later sy hele lyf in die Arabier se tent ingewikkel. Die tentjie was klein en beknop. Toe die Arabier sy oë uitvee, was hy buitekant die tent en die kameel snoesig in sy tent!

Jy het ook daagliks ’n klomp kamele wat aan jou tent se deur kom klop. Kamele wat jou ook smeek om “net ’n neus” of “net ’n kop” by jou tent in te steek.

Aanvanklik lyk enige kameel onskuldig en soos die Arabier, dink jy dat jy jou kameel kan beheer. Jy gee aandag aan daardie verbode verhouding en dink jy sal weet wanneer om dit te stop. Jy gaan dobbel, maar neem net ’n sekere bedrag saam. Wat jy eintlik doen, is om jou kameel ’n voet in die deur te gee.

Dawid se kameel was die beeldskone Batseba in die bad. Deur nie sy kop weg te draai toe hy haar van die paleis se dak af gesien het nie, het hy die kameel se snoet in sy tent toegelaat. Toe hy aan sy wagte opdrag gee om die getroude vrou na hom te bring, het hy die kameel se kop in sy tent toegelaat. Toe hy met haar owerspel gepleeg het, sy swanger geword het en Dawid uit wanhoop haar man, Urija, in die voorste linies laat veg het waar hy sou sterf, het die kameel homself heeltemal in Dawid se tent ingewurm, terwyl hy alleen in die koue woestyn agtergelaat is.

Luister na Dawid se berou hieroor in Psalm 51:3-6: “Wees my genadig, o God, in u troue liefde. Wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in U oë.” Dan in vers 12: “Skep in my ’n rein hart, o God …” In vers 18-19 kom die belangrikste boodskap van Dawid: “ ’n Offer vra U nie … Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.”

Dawid het verstaan dat God ons CHIRURG is. Vir Hom is ’n rein hart die belangrikste. Juis daarom sal Hy uit liefde die skalpel gebruik om iets uit ons harte weg te sny as Hy weet dat dit ons geestelike dood sal veroorsaak.

Hebreërs 12:5b-6: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.”

God is ons CHIRURG. Hoe lyk jou geestelike hart voor Hom? Moenie soos die Arabier aan die slaap raak nie. Stoot die kameel betyds by jou tent uit!

Vader God, baie dankie dat U my uit liefde sal dissiplineer om te verhoed dat ek later baie seerder kry. Help my asseblief om betyds enige ongewenste kamele in my lewe raak te sien en uit te stoot. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх