Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 13

week 3 . dag 2

Оглавление

God is ons beskermer

“Here …,” het die pastoorsvrou Glynis Grant gebid waar sy met ’n kussing oor haar kop skaars ’n meter van die inbreker se geweerloop gelê het. “Ek wil nie ’n skoot hoor nie. Ek wil nie pyn hê nie. Ek wil by my positiewe hier kan uitstap.”

Sowat ’n uur tevore het Glynis in haar huis op Gouda wakker geskrik. Haar man en dogter was in Kaapstad en sy was alleen tuis. Toe Glynis regop in haar bed sit, het een van die inbrekers haar met ’n vuurwapen teen die kop gedwing om hulle te help om van die elektroniese toerusting uit die huis na haar motor te dra. Die inbrekers wou daarmee ontsnap. Lam van vrees het Glynis gehoorsaam terwyl sy telkens gewonder het of sy hierdie skriknag sou oorleef. Die Heilige Gees het haar egter aan Psalm 50:15 herinner: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.”

’n Kalmte het oor Glynis neergedaal. Sy was só kalm dat sy selfs met die jong inbreker wat haar moes dophou, oor God kon gesels. Sy het hom herinner dat God groter planne vir sy lewe het en dat Satan bendegeweld gebruik om lewens te verwoes. Die inbreker het Glynis dopgehou en sag geantwoord: “Ja, Moeder, dit is waar.” Toe Glynis se motor vol van haar besittings gelaai was, het die leier van die twee inbrekers agter die stuurwiel ingespring en ’n opdrag aan die jonger inbreker gebulder: “Toe, finish it off .” Toe die jongste inbreker Glynis beveel om terug te gaan kamer toe, het ’n nuwe vrees haar beetgepak. Wat sou op haar wag? Verkragting? Haar dood?

In die kamer het die inbreker haar beveel om onder die komberse te gaan lê. Hy moes haar skiet omdat sy hulle gesien het. Terwyl Glynis die kussing oor haar kop trek, het die inbreker om die bed na haar toe gestap. Geskok het sy die grynslag en boosheid in sy oë opgelet wat nie vroeër daar was nie. Op daardie oomblik het sy die Heilige Gees se waarskuwende stem gehoor: “Herken die vyand!” Glynis het die jong inbreker reguit in die oë gekyk en hardop gesê: “Ek bestraf jou in die Naam van Jesus Christus.” Sy oë het meteens omgerol. Toe dit stil word, was die boosheid weg.

Die bendeleier, wat in die motor gewag het, het by die kamer ingebars. “Waarom vat jy so lank? Maak klaar. Ons moet ry!” Hy het die geweer gespan, dit in die jong inbreker se hand gedruk en die kamer verlaat. Op die bed het Glynis se lewe voor haar afgespeel. Sy het geen wrokke gekoester nie. Sy was rustig – gereed om te sterf. “Here …,” het Glynis sag gefluister. “Ek wil nie ’n skoot hoor nie. Ek wil nie pyn voel nie. Ek wil by my positiewe hier kan uitstap.” Net ná drieuur die oggend het ’n warm gloed teen Glynis se nek afgegly. Sy het besef sy is geskiet. Oomblikke later kon sy die motor hoor vertrek en tien minute later het sy by haar volle positiewe gaan hulp soek.

Psalm 50:15: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.”

God is ons BESKERMER. Geen wonder nie dat Glynis nege maande ná die skriknag, met net skrams koeëlwonde aan weerskante van haar kop, vurig kon getuig hoe God haar in haar nood beskerm het. Wat gaan jou reaksie wees as jy vandag in ’n noodsituasie verkeer? Gaan jy histeries raak of soos Glynis op God bly vertrou om jou te help?

Vader God, baie dankie dat ek selfs in die dal van doodskaduwee na U kan uitroep. Beskerm my vandag teen alle gevaar wat oor my pad mag kom. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Glynis by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх