Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 5
week 1 . dag 2
ОглавлениеGod is almagtig
Dit was 18 Augustus 2000. Die hospitaalgang na “daardie saal” was lank, haar treë stadig. ’n Ongekende vrees het gedreig om Almarie Sauerman te oorweldig. Vir haar het die gang na die saal amper so lank gevoel soos die hartseer pad van kinderloosheid wat sy en haar man, Lourens, reeds 13 jaar lank moes stap. “Here, wat as …” Sy het met ’n fluisterstem begin bid, maar telkens het die vrees haar woorde opgedroog.
Ná ’n verlowing van amper vier jaar wou die Sauermans ná hul troudag dadelik met ’n gesin begin. Toe kom die skok: Lourens het ’n nul-spermtelling en Almarie ovuleer glad nie. Die dokters het gemeen dat ’n swangerskap vir die paartjie onmoontlik is.
’n Hartseer pad vol duur, onsuksesvolle vrugbaarheidbehandelings het gevolg. Hulle het dikwels gehuil en magteloos gevoel wanneer mense hulle geoordeel het of vrae gevra het. Die Sauermans moes ook twee keer in die verlede aangenome babas aan die biologiese moeders teruggee. Die moeders het binne die eerste 60 dae ná die aannemings besluit om hul babas self groot te maak.
In die lang hospitaalgang was Almarie die derde keer na die babasaal op pad. “Here, sal hierdie aanneming uitwerk?” ’n Oomblik het haar gedagtes teruggeflits na die gesprekke wat sy oor die jare heen met God gehad het. Daar was tye waarin Almarie na Hom uitgeroep het, uitgeskree het. Daar was tye toe sy in trane vir ’n kindjie gesmeek het. Tye waarin sy ooreenkomste met God probeer aangaan het. Selfs tye waarin sy beloftes gemaak het van wat sy alles sou doen as God maar net vir haar ’n baba sou gee. Almarie het begeer om God se stem te hoor. Telkens het haar baarmoeder egter leeg gebly. Haar gees het vermink gevoel.
Buite die babasaal se deur het Almarie se hart in haar keel geklop. “Here, ek kan nie nóg ’n baba teruggee nie.” Met ’n diep asemteug het sy haar krag bymekaargeskraap om die deur oop te stoot.
Langs die bedjie van die klein, slapende babadogtertjie, Janke, het vars trane oor Almarie se wange gestroom. “Here, sy is so mooi … so, so mooi!” Toe, terwyl Almarie langs die bedjie staan, het sy vir die eerste keer in 13 jaar God se stem duidelik gehoor: “Almarie, 13 jaar lank het jy sonder sukses probeer om lewe te skep. Ek is die Here God wat lewe gee. Jy moes só lank op hierdie kindjie wag, omdat dit is hoe lank dit My geneem het om haar vir jou te skep. Sy pas volmaak in jou hart. Geen mens sal haar ooit weer van jou af kan wegneem nie. Dit is my genadegawe aan jou.”
God se belofte het vas gestaan. Die Sauermans is egter nog verder geseën. Hoewel Almarie steeds nie geovuleer het nie en Lourens steeds ’n nul-spermtelling gehad het, het Almarie 68 dae ná Janke se geboorte uitgevind dat sy swanger is. In een jaar het God aan hulle twee dogtertjies gegee. Hoekom? Want Hy is ALMAGTIG en niks is vir Hom onmoontlik nie.
Psalm 77:14-15: “Alles wat U doen, is heilig, o God. Waar is ’n god so groot soos God? U is die God wat wonderdade doen; U het u mag onder die volke geopenbaar.”
Ervaar jy vandag soos Almarie frustrasie terwyl jy op God se antwoord wag? Onthou, God is ALMAGTIG. Vertrou Hom, want sy tydsberekening is altyd perfek!
Vader God, baie dankie vir u almag en u heerlikheid. Dankie dat niks vir U onmoontlik is nie. U is werklik ’n ALMAGTIGE God. Gee my vandag die krag om my vertroue net in U te plaas, met die wete dat u tydsberekening perfek is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Kyk na ’n foto van Almarie en die kinders by www.benescke.co.za