Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 12

week 3 . dag 1

Оглавление

Beskermer

Nadat ’n brand ’n natuurreservaat in Amerika getref het, het ’n groep bioloë teen die berg uitgestap om die aanvanklike skade wat die vuur aangerig het, te bepaal.

Tydens die staptog het een van die bioloë verbaas na ’n verkoolde voël met uitgestrekte vlerke aan die voet van een van die boomstompe gewys. Dit was veral vreemd omdat voëls gewoonlik tydens ’n brand dadelik wegvlieg. Toe die bioloog egter die voël met sy stapstok van die boomstomp afhaal, het nog ’n groter verrassing op hom gewag. Onder die dooie voël het drie springlewendige voëltjies gepiep.

Die liefdevolle ma-voëltjie was duidelik bewus van die gevaar van die aankomende vuur. Sy het die kleintjies tot aan die voet van die boom verskuif, omdat die stygende rook hulle sou versmoor. Hoewel sy eerder na veiligheid kon vlieg, het sy gekies om haar kleintjies te beskerm. Toe die vuur al warmer word, het sy haar vlerke om die voëltjies gesprei. Sy het verkool sodat haar kleintjies onder haar vlerke kon bly leef.

Net soos hierdie voëltjie haar kleintjies beskerm het, beskerm God ons ook daagliks. Luister na die woorde in Psalm 91:1-4 (1953-hersiening): “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil.”

God is ons BESKERMER – altyd en in elke situasie.

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх