Читать книгу Solank verlange die sweep swaai - Danie Marais - Страница 10
Wat dié klip weet
ОглавлениеEk kan my kwalik ’n meer volmaakte
anti-vers as ’n klip voorstel;
geen beter sintese
tussen toevallige vorm en toevallige inhoud;
geen meer absolute
hoon vir die ydelheid van alles met asem nie.
Die klippe roep dit nog altyd uit:
“Watter deel van ‘nee’ verstaan jy nie, mens?”
’n Gedig op ’n klip
sou ’n lyk vol tatoeëer-ink wees.
En tog kan dié klip in my hand ’n groot gedig wees,
maar die vers nooit regtig klip nie.
Ja, ’n gedig kan van ’n klip
’n dooie mens maak,
dalk selfs ’n meer bruikbare, klipperiger klip
uit die swaksinnige engel van kuns en kultuur bliksem.
Maar soos die mens kan die vers nooit
waaragtig klip word nie.
Die mens skree en versug sy vers
sing en kry stuipe en huiwer dan weifel altyd weer
maar klip weet, kyk,
dié klip weet alles,
seker.