Читать книгу Solank verlange die sweep swaai - Danie Marais - Страница 16

In Woodstock skeur die wind

Оглавление

’n week al lank.

Ons dak kraak soos die maste

van ’n ou seilskip in ’n storm

en die wolke maal en mor

oor Tafelberg se rand.

Aan die berg se voet lê die stad

oorbelig en deinserig

soos ’n ou poskaart.

In Stellenbosch het jou senuwees ingekonk

en jou wil jou versaak –

oor die telefoon sleep jou tong

en tussen die snot en trane deur

hoor ek nie mooi wat jy probeer sê nie:

wetie & seblief & slaappille & rotgif & drain cleaner

& hospitaal & uitgepomp & ingespuit & oukei, ja, oukei

is min of meer al wat ek verstaan . . .

In Woodstock skeur die wind

gepas

terwyl ek wag dat die telefoon weer lui.

As die wind gaan lê

sal dit stil en skoon en leeg wees,

maar terwyl die palmbome stuiptrek

en die telefoondrade skud

is dit moeilik om te glo.

In Woodstock teister die wind my

met wetie & slaappille & rotgif & jou groot sagbruin oë

en alles deurmekaar

en êrens lê jy soos my afgekapte hande

in ’n voorlopige lakengraf

en lek verdriet en dooie gebede in jou kussing.

Ek wens ek kon sê ek verstaan nie

hoekom mense in noodweer rotgif & slaappille

& hulle sagte lywe vol merke sny nie,

maar in Woodstock skryf die wind

jou wanhoop met stukkende wolke

huil jou woede deur die vuil strate en kartonmense

vir iemand om te hoor.

Solank verlange die sweep swaai

Подняться наверх