Читать книгу Solank verlange die sweep swaai - Danie Marais - Страница 8
Nuwe oë
ОглавлениеDie liefde is nie ’n dokter nie,
maar dis diep narkose –
die natuur se eie date-rape drug –
en ek en jy het eers jare later
in ’n skakelhuisie in Woodstock bygekom
aan ’n geel kombuistafel met ’n kakkerlak
vasgekeer in die digitale horlosie
van die nuwe mikrogolfoond en ’n brommer wat
al teen die al teen die al
teen die kombuisvenster vas.
Jy was besig om girts-girts botter
op jou roosterbrood te smeer en ek kon nie
glo ek het nooit voorheen die gapende swart
mammagrootte-gat
in jou bors voel suig nie.
Ek het gestaar.
Dit was hipnoties, het gesing –
’n sirene.
Jy het opgekyk en geglimlag nes steke
wat ooptrek.
Jy het op ’n druppel soos my vrou gelyk.
In die kamer het ’n babadogter vir ons
begin huil.