Читать книгу Solank verlange die sweep swaai - Danie Marais - Страница 7

Reisiger 13

Оглавление

Voyager 1 is op 5 September 1977 lanseer.

Dit weeg 722 kg en is die mensgemaakte voorwerp

wat die verste

van die aarde verdwaal het –

en dit snel verder weg van ons vinniger

as enige ander ruimteverkenningstuig.

Op die Voyager is die Golden Record –

’n fonograaf met klanke en beelde, ’n monster

van lewe op aarde, ’n vreemde vlieënde

poskaart aan die ruimtewesens van die toekoms.

Daar is:

115 beelde

en ’n verskeidenheid van geluide uit die natuur:

golwe wat breek, wind en donder

die sang van voëls en walvisse

groetwoorde uit 55 tale

vriendelike, geskrewe boodskappe

van die destydse president van Amerika Jimmy Carter

en die VN-sekretaris-generaal Kurt Waldheim

musiek uit verskillende kulture en eras –

Bach se Brandenburg Concerto No. 2

die inisiasie-sang van Pigmieë

die eerste beweging van Beethoven se 5de, die Noodlot-simfonie

“El Condor Pasa” uit Peru

’n aria uit Mozart se Zauberflöte –

“Der Hölle Rache kocht in meinem Herzen” –

maar ook, en dit maak my bly,

“Melancholy Blues” van Louis Armstrong and His Hot Seven

“Dark Was the Night, Cold Was the Ground”

deur Blind Willie Johnson

en Chuck Berry se “Johnny B. Goode”.

Wat is nou beter as tien drillerige alien-antropoloë

met 300 groot saamgestelde oë

wat luister na Chuck Berry?

Maar sê nou hulle het nie ore nie?

En sê nou net hulle het ore –

hoekom nie die analfabete

van ander planete

op Little Richard se “Tutti Frutti”

ook trakteer nie?

Wie sal nie wil weet

van ’n plek

wat kon sing:

A whop bop a loo bop, a whop bam boom!

Ten spyte van dié versuim bly die Voyager

my favourite unfound poem,

maar verteenwoordigend is hy nie.

Daarom lanseer ek vannag die Reisiger 13

namens die Marais’s van Robertsweg 26,

die Brasse van die Kaap

en die Digters van Dertig –

’n Skopjan die Mol, ’n splinter

in die oog van die blinde al, ’n vuurpylaangedrewe soen,

’n Black Magic-boksie met ’n kiekie

van vrou, kroos en kat, ’n paar knipsels

en ’n mix-CD met die spookmusiek

van gebalsemde woorde ’n sug wat tonnel

deur die eindelose onverskilligheid buite die mond, die kosmos-

van-nie-my-ma-nie, ’n ridderlike tog

na die almagtige leser

wat durende sin van seepbelle

in die buitenste ruimte

kan maak.

Solank verlange die sweep swaai

Подняться наверх