Читать книгу Solank verlange die sweep swaai - Danie Marais - Страница 17

Dapper muis

Оглавление

Klein Lea het leer loop, of liewer

begin steier deur die wye wêreld –

’n nuwe matroos oor die dek

op wankelrige bene

in ’n eerste groot storm.

Wanneer sy met haar arms uitgestrek vorentoe

wankel, gee sy die pas met “ap-ap-ap”

vir stap-stap aan.

In haar oë meng bang en ambisie,

maar sy gooi nie tou op nie,

want sy’s met drie woorde gewapen:

“Mamma-mamma”,

“Pappa-pappa”

en “Ka!” – haar naam vir Levinia die kat en alles

wat noemenswaardig is.

Vreemd wat woordeskat jou wysmaak ongelooflik

hoe die Rooisee padmaak

vir “Mamma” hoe my vrou soos Raponsie

in daardie toring van ’n woord verdwyn merkwaardig

hoe die wasmasjien, die broodmes, die mikrogolf,

’n appel, ’n trouring en ’n kat gehoorsaam

bondel in die lettergreep “Ka!”

hoe gedweë die hele groot geheimenis

om een gelowig gefluisterde “Pappa”

saamdrom.

Solank verlange die sweep swaai

Подняться наверх