Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 10

Hoofstuk 6

Оглавление

Ek kan nie onthou of my innerlike dialoog by die boeties begin het en of dit van altyd af daar was nie.

Voor ek twee was, verval ek met die boeties in die gewoonte om alles te verwoord, uit te pluis en te kommunikeer.

Hulle is minder as twee jaar ouer as ek, ’n identiese tweeling, twee boontjies in ’n peul.

Ek glo aanvanklik ons is ’n drieling en ek die grootste, die een wat ontasbare dinge verstaan. Ek kan hul taal verstaan. Dit bestaan uit kreune, lettergrepe, skouer- en wenkbroubewegings, vlugtig soos die skadu van ’n wolk oor ’n landskap.

Ek is die een met woorde.

Die boeties kyk in my oë om die onsigbare te verwoord. Hulle het ’n woord: Vravimaud. Dis ’n blitsige preweling, vlietend soos ’n gedagte, terwyl die bruin oë effens rol in die bleek gesiggies.

Ek breek my kop om bestaanskwessies uit te lê. Dikwels verskaf ek self die vrae: Hoekom is ons gebore as mense en nie as bome nie? Is daar drie ander kinders wat presies nes ons is êrens op aarde? As ons ’n ander pa gehad het, of ma, sou ons nog óns wees? Waar gaan drome heen as ons wakker word?

Die boeties se vrae is eenvoudig en prakties, byvoorbeeld: “Wat is die lata?” Dis na aanleiding van een van ons kinderliedjies, “Ver in die wêreld Kittie”: “Sy lata draai, sy lata swaai, sy lata nie verraai.” Dit was maklik: “Die lata is die kietie se stert.”

Toe ek drie is, voel ek soos ’n beertjie. Nie ’n mamma- of pappabeer nie, nie ’n seuntjie- of dogtertjiebeer nie, net ’n beertjie – effens groot en lomp, maar met goeie bedoelings.

Ek was nie groot nie. Op foto’s uit dié tyd lyk ek soos ’n slaappop, met goue lokke, ronde blou oë en ’n soetwynmondjie. Die boeties voel soos kleiner beertjies.

In ’n ander provinsie, twee dekades vroeër, was Die Skrywer ’n blonde tomboy, ’n klein willewragtag met ’n basstem. Sy het geSTAAN en piepie. Sy het op die dak gestaan en die ouderling natgepiepie. Die dominee het gesê sy is van die duiwel besete en word vir die verderf groot.

My suster glo ek is ’n trassie, sê sy. My hart word week vir die seunsdogtertjie met die rasperstem van weleer.

My matrassie, sê ek.

In die maanlig is die kuifie van haar poenskop ’n omgekeerde driehoek op haar voorkop.

Sy beklouter my met wye oë. Haar lyf is swaar maar vloeibaar soos dié van ’n groot roofdier, ’n Siberiese tier. Sy steun diep uit haar keel. Die nag hang aan ’n spinnerak.

In die see gaan anemone oop en toe.

Marike se laaste dans

Подняться наверх