Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 6
Hoofstuk 2
ОглавлениеVandat ek kan onthou, vertolk ek die nuus – wêreldnuus, streeksnuus, die weervoorspelling, die markaanwysers – persoonlik.
Ek het ’n intieme verhouding met die nuusmakers. Hulle kom skop in my agterkop nes. Ons stry, debatteer, redekawel, korswel.
Meestal vergeet ek wat hulle presies gedoen het en op watter datum. Wat my bybly, is die essensie, die konsentraat van hul persoonlikheid en aura. Die klein dingetjies wat hulle definieer. Die nerveuse spring van die ooglid. Die mond wat skeef beur, die spraakgebrek, die vetterige kuif, die swak smaak in dasse. Die skeelhoofpynfronsie.
Toe Suid-Afrika in my tienerjare vir die eerste keer TV kry, maak my pa, ’n nuusvraat, my telkens stil wanneer ek my berugte vriende op die skerm aanspreek. Vir my was die woorde wat uit hul monde kom, van minder belang. Ek was ingestel op meer subtiele tekens.
Dieselfde geld vir geskiedkundige figure. In my kop het ek gesprekke en ongemaklike verhoudings met figure soos Adolf Hitler, Mahatma Gandhi en Hendrik Verwoerd. Hulle is boekmerke, hangers vir my persoonlike geskiedenis.
Ek kon nooit ’n sin vir tyd ontwikkel nie. Ek kan jou nie vertel dat ek in 1970, toe ek agt was, ’n duisendstuk-legkaart voltooi het nie. Ek sukkel om jou te vertel wat ek gister gedoen het. Soms kan ek jou per ongeluk vertel wat ek môre gedoen het.
Ek kan jou wel vertel: die mediese student in die buitekamer, my neef, het my gereeld gevinger, getong, betas en aan sy halfstywe penis laat raak in die jaar toe doktor Verwoerd vermoor is.
Ek was onherroeplik besoedel en die volk was in rou gedompel. Ek kan dit naslaan en sien dit het in 1966 gebeur. Dus was ek vier.
Hy was omtrent twintig jaar oud en ’n hakkelende bleeksiel. Op foto’s uit dié goue era lyk hy soos jou tipiese Amerikaanse reeksmoordenaar: bleek met akneeletsels en sielvolle oë agter swart horingraambril, swak mond.
Hy was ons kinderoppasser.
Volgens vrouetydskrifte bereik vroue hul seksuele piek tussen die ouerdom van veertig en vyftig.
Ek het op vier gepiek. So hongerig oop sou ek nooit ooit weer klop nie, daarvoor sou die kerk, die staat en die skool sorg.
Ek sit in die bad toe my vervreemde man, wat in die sitkamer TV kyk terwyl hy wag om die kinders vir die dag uit te neem, my deur die deur inlig dat Lady Diana in ’n motorongeluk dood is.
Dit was ’n Sondag.
Toe Marike de Klerk in 2001 vermoor is, woon ek in Johannesburg saam met ’n verkeerdeveer-skrywer met struggle-credentials.
Sy is negentien jaar ouer as ek.