Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 9
Hoofstuk 5
ОглавлениеIn die motor is Marike stil en afgetrokke. Sy raak met tye deurskynend. Ek is nie gereed om haar te laat gaan nie, want ek brand met ’n duisend vrae.
Ek probeer my beteuel, maar toe ons Kaapstad binnery, blaker ek tog uit: “Hoekom het jy mý gekies om aan te verskyn?”
“Hartjie, ek wil jou nie ontnugter of onbelangrik laat voel nie, maar baie dinge is bloot toevallig. Jy was daar. Ek het maar gestaan en wonder waar om te begin, toe jy verbyry en my raaksien. In my lewe het dinge meestal volgens plan en protokol verloop, maar alles is meer lukraak nou. Dié slag, lyk dit my, sal ek moet leer improviseer.”
Ons sit in my sitkamer. My kat, Rufus, het ons besoeker een kyk gegee en kromrug die hasepad gekies.
Ek probeer kiertsregop sit soos Marike, eerder as om soos gebruiklik op my stuitjie te lê.
Sy pluis aan my verrinneweerde stoelkussing. Sy skyn sonder plan te wees:
“Dis nie asof ’n mens instruksies of ’n reisplan ontvang nie. Ek is nie eens seker of ek gestúúr is nie. Ek vermoed dis my eie hunkering, die spesmaas van ongedane sake, wat my gelanseer het. Ek beplan om maar hier rond te hang tot dinge duideliker word. Die oorgang is nie maklik om te navigeer nie, glo my.”
“Waar kom jy nou vandaan, as ek mag vra? Ís daar ’n hemel?”
“Ek sou so hoop, maskas. Nie dat ek al daar aangeland het nie. Ek was tot dusver in ’n soort niemandsland. Dit herinner aan ’n wagkamer in ’n stasie. ’n Enorme vertrek met mense wat gedurig kom en gaan en meestal wag.”
“Sjoe. Sewe jaar. Het jy bekendes daar raakgeloop? P.W. Botha? Miriam Makeba?”
“Nie een van dié twee nie. Ek reken hulle het reguit na die eindbestemming gereis. In die Wagkamer dool rustelose siele rond met ’n ontstelde gees wat nog nie gereed is vir die oorgang nie. Die pragtige Matie-student sit met die meisietjie wat deur haar verkragter doodverbrand is op haar skoot. Vermoorde musikante … jêm. Sluipvermoorde politici drentel nog verdwaas rond. Oral is hunkering en hartseer.”
“Wat het jy hier kom doen? Kan ek help?”
“Ek sal nou en dan ’n geleentheid waardeer. Ek het nooit juis motor bestuur nie. Ek weet nie of ek oor bomenslike kragte beskik nie, miskien behoort ek deur middel van konsentrasie van punt A na punt B te kan beweeg. Maar weet jy, ek was so lank gedompel in die Calvinistiese werksetiek, dis moeilik om te laat gaan en terug te val op towerkrag. En ek wonder nogal oor Luyanda Mboniswa.”
“Jou moordenaar?”
“Ek het gelukkig geen geheue daarvan nie. Ek weet hy is opgesluit vir die … moord.”
“Wil jy hom gaan vergewe? Soos Nelson Mandela wat by Betsie Verwoerd gaan tee drink het op Orania?”
“Nee, ek sou hom om verskoning wou vra. Ek is moeg, ons gesels later weer.”
Daarmee vervaag sy en word deursigtig in die leunstoel, sodat net haar buitelyne – stippellyne – teen die bekleedsel bly huiwer.