Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 15

Hoofstuk 11

Оглавление

Marike slaan haar oë op na die berge.

“Dáárna het ek verlang, al die jare in die spierwit Wagkamer sonder uitsig. Somerdae in Kaapstad, met die mis oor die berg en die wind wat alles skeef waai, die see so verblindend blou. Duits en Japannees wat op straat gepraat word. Teen die einde het ek alles deur ’n gekraakte donkerbril waargeneem. Die blues op Bloubergstrand. Depressie bloei die kleur uit dinge, Maud.”

“Ek weet. Jy het op die regte tyd opgedaag. Ek was lank onder ’n wolk, maar vanjaar, skielik, het geluk my oorrompel. Dit was nie net gunstige omstandighede nie, dit was eerder ’n lawwe opwelling van vreugde, sonder rede. As ek in die oggende hier uitstap, wil my hart bars van liefde vir Tafelberg.”

Ek wil soos dikwels die dag begin met ’n gym-sessie, maar Marike sit haar seilskoenvoetjie dwars neer.

“Nee, goeie hemel. Dis heeltemal te vervelig. Wie weet hoeveel tyd het ek? Waarom op ’n trapmeule kleitrap, ’n stilstaande fiets se gal werk of die aaklige geroei na nêrens?”

“Soos Anne Sexton se bundel The Awful Rowing towards God?”

“Jy is knap met verwysings. Maar onthou, miskien leef ek in jou kop en haal maar dinge aan wat jy ken.”

“Jou reistassie op my sitkamermat is nogal solied.”

“Voorwerpe oorleef mense, Hartjie.”

Ons stap skouer aan skouer met Langstraat af. Amper niemand sien vir Marike raak nie. Voetgangers glip moeiteloos regdeur haar. Hier en daar steek ’n prewelende bergie viervoet vas en staar na haar. Soos die prewelendes, diegene geseën of gestraf met verbeelding, praat ek ook nou met myself op straat. Niemand steur hulle daaraan nie. Mens kan doen net wat jy wil in Kaapstad.

Marike het haar hoedjie by die huis gelos en frons onbevange in die oggendson. Daar is ’n blos op haar wange, haar kapsel het begin ontspan en silwer steek oral kop uit. Sy lyk sagter, haar gesig gaan oop soos ’n gousblom.

“Een van my gunsteling-kinderboeke was Ek en jy, Grootbroer. Ek en jy, Marike.”

“Moet nou net nie sentimenteel raak nie. Hoe was jou verhouding met jou ma?”

“Problematies. Ek het haar aanbid as kind en tiener en ek moes haar pynlik vermoor om my eie mens te word. Nou nog, dikwels. Met ’n stomp dolk. Maar dit gaan mos nie oor my nie. Ons probeer nou jóú ongeleefde dae inhaal.”

“Jou arme ma het haar bes gedoen. Ek het eenkant, sonder veel fokus, grootgeword. Ek het ongesiens voortgegaan met my lewe. Ek het wel altyd die gevoel gehad dat ek moes presteer om liefgehê te word.”

“Ek het nagelees oor jou. Jou slim pa het julle vroeg verlaat en is later doodgery. Dis ’n verlies waaroor jy nooit gekom het nie. Jy het nooit opgehou presteer nie. Jy het die samelewing se onmoontlike voorskrifte onder die knie gekry. Ek dink jy het die resep te nougeset nagevolg. Jou koek was ’n wenner, maar die medalje was nie die moeite werd nie.”

“Ain’t that the truth, girlfriend. Ja, ons kyk Oprah in die Wagkamer. Ek sal graag met die insig van die Anderkant vir Dr Phil ’n paar dinge wou vertel. Die man is te selfingenome. Hy glimlag te veel na my sin. Hy glo in resepte – daar is te min ruimte vir improvisasie.”

“Dis een van my gunstelingkonsepte. Hou jy van jazz? Ek dink chaos is SO bevrydend.”

“Ek dink ek is gereed om chaos te omhels, Maud Grobler.”

Marike se laaste dans

Подняться наверх