Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

Die karakters in hierdie boek is fiktief en historiese figure is gef iksionaliseer. As jy reken jy herken jouself in hierdie roman, doen jy jouself ’n onguns aan.

Marike de Klerk: “Ek is nog maar net ek …”

Sy’s sjiek. En vriendelik. En sy lag maklik. Ons “first lady”.

In ’n onderhoud met TRUDIE MYBURGH gesels mev. Marike de Klerk oor haar lewe as Staatspresidentsvrou. En oor haar man. Sy’s ’n groot “fan” van hom, sê sy, “maar hy kul met die sigarette!”

Jy kan haar – soos altyd – deur ’n ring trek. Sy gesels geesdriftig. En beduie met die hande. Om ons land se voorste vrou te wees, is vir haar ’n verskriklike eer. Iets wat sy nog nie elke dag glo nie.

Maar in haar hart “is ek nog maar net ek,” sê Marike de Klerk.

“Dis ’n geweldige verantwoordelikheid. Party dae wonder ek of ek dit goed genoeg doen. Ander dae dink ek weer ek gáán dit goed genoeg doen.

“Dis ’n werk waarin jy baie blootgestel word. Jy’s altyd omring van mense. Veiligheidsmense, administratiewe mense, sosiale mense, koerantmense. Mense wat jy van geen kant af ken nie, wat jy op hul gemak moet laat voel. Jy moet hulle laat voel jy stel belang.

“En alle oë is op jou. Van die oomblik dat jy by ’n plek instap. Met elke mondjie kos wat jy eet; elke ding wat jy sê. En daar kan so baie verkeerd loop. Soos om skielik te hoor jy moet ’n toespraak lewer waarvoor jy nie voorberei het nie!”

Sy moet soms drie afsprake per dag nakom. Op enige plek in Suid-Afrika. Elke keer iets heeltemal anders waarvoor sy haar weer heeltemal anders moet instel. Dit verg baie van haar. Veral emosioneel.

“Want jy’s altyd die middelpunt. Jy kan nooit sê, nou gaan ek ’n bietjie terugtrek en die ander mense laat oorneem nie. Dit was vir my die swaarste in die buiteland – oral waar ons gekom het, moes ék voorloop. Daar was vyf ander vroue, maar ék moet die geselskap laat vlot, ék moet die gids uitvra.

“Maar dis ’n voorreg. Al kan hulle jou doodmaak in hierdie werk as hulle wil.”

Trudie Myburgh, Die Burger, 13 Junie 1991

Marike se laaste dans

Подняться наверх