Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 16
Hoofstuk 12
ОглавлениеDis 2001, Marike se laaste jaar.
Die Skrywer is sexy. Sy is rosig soos ’n perskeblom wanneer sy uit die bad klim.
Sy knoop ’n geruite hemp toe en los die boonste knope oop sodat ’n mens die duik tussen haar asimmetriese borste sien en die Dawidskruis van haar ouma, ’n Poolse Jood.
Dan teken sy vir haar wenkbroue, ’n dun en grasieuse boog soos ’n geisha, soos God in een van haar stories.
Sy trek ’n kam deur haar borselkop en glip ’n kakiebroek aan. Sy blink.
Sy voer ’n stadige danspassie uit met haar ferm boude.
Sy sing:
“Mense mense mense, nou’s julle laaste kans om te sien hoe ou Gina die ghoema dans.”
Sy het ’n platvloerse lag wat suiwer refleks is, soos ’n nies. ’n Mens kan dit tot in jou maag voel kielie, haar onbehoorlike lag.
Sy vind my snaaks op die manier waarop mense my dikwels snaaks vind: koddig. Sy lag vír my, nie saam met my nie.
Sien of ek omgee.
Ek het sekere gewoontes, maniere van doen en sê wat dit vir my moontlik maak om deur die dag te kom.
“Waar is die remote?” sal sy skel.
Ek haat die gebruik van remote in Afrikaans en sal van niemand verwag om afstandbeheer te sê nie. Daarom sê ek:
“Sy het ’n naam. Haar naam is Ramona. Vra waar is Ramona.”
Dit laat haar altyd sing, in ’n rokerige jazzkafee-stem wat ’n mens soos ’n streling op jou vel voel:
“Ramooooooouna, my hele halwe boud is joooouuuuuune.”
In sulke dinge verkneukel ek my eindeloos.
Sy het ’n kop vir rympies opmaak, een van my gunstelingdinge. Een van haar rympies is: “Ek hou van jou/ jy hou van my/ aanstons is ons onder die duvet.”
Die Skrywer is fantasties en onleefbaar. Sy strompel deur die vertrekke met elektriese hare.
Sy dra ’n vuil groen trui onderstebo. Sy skel en swets in ’n stem soos heuning en sandpapier. Haar kop wil bars van idees. Verstommend is die uitdrukkingskrag van haar woedende tong. Haar ewige sigaret is ekspressief soos ’n vinger. Sy leer my om met woorde te goël.
’n Nederlandse joernalis het haar eenmaal beskryf as ’n gesig uit ’n Bruegel-skildery.
Ja, Bruegel en Jeroen Bosch: daar is ’n aangrypende, skouspelagtige fratsagtigheid omtrent haar, asof sy op ’n eenwiel ’n figure 8 kan trap, op ’n slap tou oor ’n afgrond balanseer.
Haar onderbene is stewig, foreshortened soos op ’n kunsstudent se houtskoolskets. Haar dye is lank soos bofbalkolwe.
Sy het die fynste voete.
Die huishouding is chaoties en opwindend.
Daar is baie whiskey en geurige bredies.
Oor alles lê ’n lagie sigaret-as en hondehare.
My kinders huiwer aan die uithoeke van die dag: betower en verwilderd. Sy is ’n hiperaktiewe genie, begaafd in alle wind-rigtings.
Sy is dikwels woedend.