Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 12
Hoofstuk 8
ОглавлениеIn 2001, die jaar waarin Marike vermoor is, woon ek en my dogters saam met Die Skrywer in Johannesburg.
Ek het haar op my pa se plaas op De Wildt ontmoet. Ek het daarheen gevlug van my huwelik.
In haar omswerwings het sy vir ’n kort rukkie in daardie geweste gewoon, in ’n rondawel op die plaas van mense na wie sy as die AWB’s verwys.
Een middag teen skemer sit ons op die gras voor haar rondawel.
Dis ’n valerige grasperkie wat terselfdertyd die AWB’s se agterplaas is. Die rondaweldeur is oop en ’n obskure CD met hartverskeurende sigeunermusiek dawer oor die werf.
Sy begin op die gras dans soos net sy kan dans: kaalvoet, oë ten hemele, met stom en boetedoenende handgebare uit die Griekse tragedie of Japannese kabuki-teater.
Sy sê altyd dat sy die onderbene van ’n dwerg het. Haar balans is verstommend.
Haar Dobermann is ook opgevang in die heidense gees van die oomblik. Hy dans op sy agterpote agterna en hap-hap na haar ekspressiewe hande.
In die skemer lug bokant haar dryf ’n volmaan soos ’n bloedblaas.
Ek gewaar twee koppe in die AWB’s se kombuisvenster, waarna die gordyne met ’n besliste en afwerende pluk toegetrek word.
Net daar het ek geweet: hier gaan sy ook nie lank woon nie.
Ek identifiseer blindelings met die soort mense teen wie ’n hele buurt petisies optrek. Die soort mense wat in ’n vroeër, genadeloser tyd teen sononder uit die dorpsgrense verdryf is met hooivurke en fakkels. Ek wou nooit ’n adres hê nie.
Ek probeer inkruiperig glimlag, sag trap en ongesiens verbygaan, maar die poskaartdorpe is te mooi, al die reëls verwarrend vir my soort.
Ek hunker na “Walden” en “Civil Disobedience”, na ’n digte skemer wat daal oor ’n bewegende veld, na ’n maan soos ’n nartjieskyf en ’n handvol sterre in die verbygaan.
Spaar my sitplek in die skuit en gee aan daai spaan.
Ek wil aan die beweeg bly.