Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 18
Hoofstuk 14
ОглавлениеIn 2001 behoort ’n groot kamer in my hart steeds aan ’n melankoliese Suid-Amerikaner wat ek laatherfs in die laat negentigs ontmoet in die fabriek op Brits waar ek gewerk het.
Dis 1998. Señor Centurion de Aquino staan voor die faksmasjien – ’n donker man van diep in die vyftig; middelmatige lengte; moedelose skouers.
Die agtermiddagson maak ’n stralekrans van sy yl hare, soos op ’n middeleeuse skildery van ’n heilige. Hy word slordig bles: sy kop is vol individuele haarspriete soos dié wat uit die sweetgaatjies in ’n pop se kopvel spruit.
Sy mond is te gevoelvol, te romanties, dit pruil oudmodies soos die mond van ’n rolprentheld uit vervloë, genadiger dae.
My kantoor kyk uit oor die fabrieksvloer: rye splinternuwe Duitse masjiene met heldergeel ledemate en elektroniese oë.
Hy maak aantekeninge in die kantlyn van ’n tegniese tekening. Sy handskrif is ragfyn en elegant soos die byskrifte op ou landkaarte.
Hy is op besoek van die moedermaatskappy in Duitsland waar hy aan die hoof van kwaliteitsbeheer is.
Ek sit agter ’n rekenaar en tik. Hy kyk skielik op. Sy bruin oë vol notasies en formules swem stadig in fokus en neem my in.
“Ek verneem u is ’n skilder …” sy stem is bariton met spatsels tenoor.
“Ek wil graag ’n skildery van u koop, sodat ek u vir altyd by my kan hê.”
Sy Duits is foutloos met ’n swaar aksent, asof hy onder water praat.
Hy besoek my houthuis teen die hang op my pa se plaas. Hy beoefen al jare lank yoga. Hy sit gemaklik op die mat en gesels oor Gabriel García Márquez, Pablo Neruda, Mario Vargas Llosa, Federico García Lorca, Isabel Allende, Frida Kahlo, Mercedes Sosa.
Hy bekyk my wilde portrette en koop met die eerste besoek ’n hartstogtelike selfportret in swart en rooi akriel.
Daarna skryf ons daagliks eindelose e-posse oor en weer en ontmoet mekaar vir die volgende drie jaar een of twee keer per jaar, hier of in Duitsland.
In Duitsland haat sy vrou die portret.
“Es ist kitsch,” sê sy. “Die vrou naai jou met haar oë,” sê sy.
Op ’n dag val sy die skildery aan met waterproof-maskara. ’n Halsmisdaad.
Hy sit daarna ure lank in die bad en probeer dit vergeefs afskrop met ’n naelborseltjie.
Aan die einde van my besoek aan Duitsland een jaar stop hy ’n groot bruinpapier-pakket in my hande. Dis my geskende gesig. Hy wil weet of ek dit sal restoureer?
Ek is te bang om daarna te kyk en vergeet dit op die vliegtuig.
Ek het gesig verloor.